Wellington het ’n ware ladyverloor

Die predikant het sy Pinksterpreek afgesluit, ’n oomblik gehuiwer en gesê: “Ons het pas verneem dat Winnie Rust vanmiddag wreed in haar kombuis vermoor is.”

’n Vreemde, grys verslaentheid het skielik oor die mense voor hom neergedaal. “Ek glo dit nie . . . het iemand hardop gesê.

Toe ons uitstap, het die woorde “ek glo dit nie,” soos ’n refrein oral tussen die groepies mense wat op Wellington se strate begin saamdrom het, opgeklink.

Winnie was ’n merkwaardige mens. In haar boek, Margie van die Seminary, vertel sy hoe sy die dood van haar moeder beleef het, hoe sy een nag van haar ouers gedroom het en in haar slaap haar kussing nat gehuil het. Sy het dié nag vir haar man, Manie, gesê: “die lewe is maar ’n dag lank, ons moet dit léwe . . . ”

Sy het haar dag uiteindelik 77 jaar lank gelééf. Haar einde was ontstellend, skokkend, pynlik, maar sy het haar dag volledig geleef.

Winnie is gebore in Wellington en het gematrikuleer by Hugenote Hoërskool waar sy ook hoofmeisie was.

Haar pa, dr. C.P. van der Merwe, was rektor van die Hugenote-kollege en broer van die digter Boerneef. Met die jare het talle van haar verhale in gewilde sowel as literêre tydskrifte verskyn. Sy het onder meer bydraes vir tiener- en vrouedagboeke geskryf asook werke oor haar dorp en sy geskiedenis, en was betrokke by die dorpsmuseum. Winnie het sedert 2000 gereeld die rubriek “Post Scriptum” in die Paarl Post geskryf.

Rust was ’n beminde inwoner van Wellington wat nou betrokke was by die geskiedenis van die dorp. Van die boeke wat sy geskryf het, sluit in Martha gravin van Stamford en Trek. Martha het in 2005 die kortlys vir die Rapport/Jan Rabie-prys gehaal. Dié boek, haar eerste roman, het gespruit uit haar bydrae tot die geskiedenis van Wellington en distrik.

Tussen haar skryfwerk deur was Rust nou betrokke by lees- en poësiekringe en sy het ook van tyd tot tyd digkunsprogramme opgestel en boekbesprekings gelei. Sy het mense bygestaan, raad gegee en met liefde, empatie en sonder voorbehoud ondersteun.

“Toe my moeder onlangs oorlede is, het Winnie vir my die moeder wat ek deur die dood verloor het geword,” sê die digter Anne-Ghrett Erasmus. “Sy was ook my vriendin wat my te alle tye bygestaan het. Ons was albei deel van ’n gespreksgroep van vroue hier op die dorp. Winnie het ook daar raad gegee, mense bygestaan en sy was bo alles iemand wat ons verwonderd gelaat het deur haar skerp intellek, haar helder kyk na vraagstukke, die manier waarop sy ons lewens verryk het.”

Theo Kemp, bestuurder van die Breytenbach-sentrum op Wellington, sê hy het Winnie leer ken toe hy verbonde was aan die Woordfees op Stellenbosch.

“Winnie en Manie Rust was gereelde besoekers aan die fees en ek kon, op ’n dag, nie anders as om saam met hulle opgewonde te raak oor die planne om op Wellington die Breytenbach-sentrum op die been te bring nie. Hul aansteeklike entoesiasme oor die tamaai projek het my uiteindelik totaal oorrompel. Vandag is ek dankbaar dat ek, danksy hulle, deel kan wees van hierdie stimulerende projek.”

Johann Enslin van Hugenote Hoërskool het gesê dat die Hugenote-familie vir haar diep gaan mis.

“Tannie Winnie was ’n omgee- en gee-mens, altyd deernis, en ’n luister-oor. Sy het my altyd gemotiveer om aan te hou met wat ek doen. Haar hart was by Hugenote. As ek gaan inloer het, was een van die eerste vrae ‘hoe gaan dit by die skool?’. In haar laaste e-pos aan my twee weke gelede, het sy my genooi om weer te kom kuier, om ‘eersterangse nuus’ te kry. My grootste pluimpie was as sy sommige Sondae, soos sy dit genoem het, ‘weggeloop het na Noordkerk’, om weer bietjie orrel te kom luister. Wellington het ’n ware lady verloor – ek, ’n glimlag-vriendin.”

Inspirasie, ondersteuning, hulp, bystand . . . dié refrein het die afgelope dae telkens opgeduik oral waar mense oor Winnie gepraat het. Koppe sal nog tot in die verre toekoms in ongeloof geskud word omdat iemand soos Winnie se lewe so wreedaardig tot ’n einde gekom het.

besig om te laai... Regstreeks
Garden Route Badgers 158/9
Eastern Cape 158/6
Rand - Dollar
17.63
+1.2%
Rand - Pond
20.23
-0.2%
Rand - Euro
17.61
-0.5%
Rand - Aus dollar
11.47
+1.3%
Rand - Jen
0.12
+0.8%
Goud
1,726.04
+1.5%
Silwer
21.05
+1.6%
Palladium
2,321.00
+4.3%
Platinum
934.50
+3.3%
Brent-ruolie
88.86
+4.2%
Top-40
59,840
+3.3%
Alle aandele
66,313
+3.2%
Hulpbronne 10
64,568
+4.5%
Industriële 25
80,073
+3.2%
Finansiële 15
14,053
+1.7%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos