Die historiese Nederburg-veiling, wat in 1975 begin is, gaan vanjaar vir die eerste keer op Stellenbosch aangebied word.
Die veiling sal voortaan as die Cape Fine & Rare Wine Auction bekend staan en word in Oktober gehou.
Die verandering is in pas met die strategie van Distell se nuwe maatskappy wat spesialiseer in premium- en fynproewerwyne, Libertas Vinyards and Estates. Die doel van hierdie maatskappy is om die status van Suid-Afrikaanse wyne wêreldwyd te ondersteun en die status daarvan so te lig dat Suid-Afrikaanse wyne as premiumgehalte beskou word.
Die hoof uitvoerende beampte van die maatskappy, Kay Nash, sê die kollektiewe visie is om ’n bedryfsplatform te bou wat die toegang tot fynproewerwyne wat in Suid-Afrika geproduseer word, verbreed en om toegang te kry tot markte in lande waar dit voorheen nie moontlik was nie.
“Ons glo dat die veiling ’n katalisator vir verandering sal wees, wat ons uiteindelik sal help om ons doelwitte te bereik.
“Deur ’n uitgebreide bedryfs-platform te ontwikkel vir die produsente van fynproewerwyne, en deur ons ervaring van 44 jaar en belegging te gebruik, sal ons nuwe en bestaande, plaaslike en internasionale kopers se belangstelling in Suid-Afrika se fynproewer- en skaars wyne vergroot.
“Versamelaars en beleggers soek al hoe meer wyne wat ’n storie vertel en ’n sterk konneksie met ’n spesifieke plek of wynplaas het. Hulle is op soek na skaarsheid, kwaliteit en ’n herkoms. Die verskeidenheid fynproewer- en premiumwyne sal beslis aan hul verwagtinge voldoen.”
Die veiling word in die Rupert-museum gehou. Daar is ’n nuwe keuringsproses en die veiling neem ook ’n nuwe formaat aan.
Die finale keuse van wyne, onder die kuratorskap van ’n paneel beoordelaars, sal aan streng kriteria moet voldoen, wat sal fokus op gehalte, skaarsheid en versamelbaarheid.