Suid-Afrika moet desperaat iets doen om die vertroue in die ekonomie te herstel sodat private belegging – en gepaardgaande werkskepping – kan groei. Só het ontleders gereageer op die nuus dat Suid-Afrika nou die hoogste amptelike werkloosheidskoers het sedert minstens 2008, kort voordat Suid-Afrika ’n resessie betree het.
In die eerste kwartaal van 2016 was daar ’n daling van 355 000 in die aantal mense wat werk het, vergeleke met die laaste kwartaal van 2015. Dit is die skerpste kwartaallikse daling in ses jaar en volg op sewe agtereenvolgende kwartale waarin daar wel werk geskep is, hoe min ook al.