Die volstruise van die kusdorpie Yzerfontein in die Wes-Kaap, wat bekend is daarvoor dat hulle selfs in die see gaan swem, skud deesdae eerder hul vere reg om tuiniers te wees.
En hulle leef in vrede saam met die inwoners – solank hulle jou plante mag eet en jy nie te veel lol met hulle nie.
Elizna Schreuder, ’n inwoner, het vandeesweek ’n video en foto’s geneem van twee volstruiswyfies wat met mening in ’n tuin op die dorp invaar. Schreuder skryf op die Facebook-blad “Kom woon op Yzerfontein” sy weet nou wie die gate in haar tuin maak.