Onteiende boere van Zimbabwe gaan nou miljarde rande by die Suid-Afrikaanse regering as vergoeding eis.
Die eerste tien verarmde boere het Vrydag ’n kennisgewing op die Suid-Afrikaanse regering beteken dat hulle R1,9 miljard se vergoeding gaan eis weens Suid-Afrika se aandadigheid aan hul lot.
Dié stap volg op die konstitusionele hof se uitspraak Woensdag wat beslis het oudpres. Jacob Zuma se dade wat daartoe bygedra het dat die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se tribunaal ontbind is, onwettig was. Die SAOG-tribunaal was dié boere se laaste strooihalm om vergoed te word vir wat dié tribunaal reeds bevind het rassistiese en arbitrêre grondvergrype van die Zimbabwiese regering was.