Zindzi Mandela se ambassadeurstermyn sou einde Junie verstryk, maar is nou tot einde Desember verleng sodat pres. Cyril Rama-phosa tyd het om te besluit wat om met haar en verskeie ander ambassadeurs te doen wie se termyne ook in Junie verstryk het.
“Alle termyne wat einde Junie ten einde geloop het, is nou tot einde Desember verleng omdat daar nie in die voorafgaande maande daaraan aandag gegee kon word nie weens die verkiesing,” sê Clayson Monyela, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking.
Mandela, wat in Junie 2015 ambassadeur in Denemarke geword het, is twee weke gelede deur Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, oor die kole gehaal oor onvanpaste uitlatings op Twitter. Sy het wit Suid-Afrikaners onder meer bestempel as “verkragter-afstammelinge van Van Riebeck” (sic) en “sidderende gronddiewe”.