Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ben en Bez
‘Ben & Bez’: Simoné Pretorius reeds swanger tydens verfilming

Die aktrise Simone Pretorius (néé Nortmann) was reeds swanger toe sy die rol van ’n skrywer en beïnvloeder vertolk het in Netwerk24 se sketskomedie Ben & Bez. (Kyk uit vir die episode vanaf Donderdag 25 Februarie)

Sy is nou 36 weke swanger en giggel as sy terugdink aan die tyd toe sy NikNaks-tjips op die stel geëet het om naarheid teen te werk. “Dit is nogal interessant dat die NikNaks my laat beter voel het,” sê die aktrise, veral bekend vir haar rol in die sepie Binnelanders en die fliek Vir die voëls.

“Dit is verfilm toe my swangerskap ’n geheim was,” sê sy. “Ek dink ek was so sewe of agt weke swanger. Ek kon dit nie ’n geheim hou van Bennie (Fourie) en Schalk (Bezuidenhout) nie, so ek het hul eenkant geroep en hulle vertel.

Pretorius en Schalk Bezuidenhout in een van die tonele. Foto: Petri Schoeman

“Toe het Schalk aan die raai gegaan oor wat die babatjie se naam gaan wees, natuurlik grappenderwys,” sê sy. “Ek het ook vir die grimeerkunstenaar (Nicola Roodt) vertel, en omdat sy drie kinders van haar eie het, kon sy my ’n bietjie raad gee oor hoe dit is om op stel te wees én ’n mamma te wees.”

In die episode “Enige iets vir my fans” ontmoet Pretorius Bezuidenhout en Fourie se karakters, ’n tweeling wat haar boekverkoping bywoon. Hulle vra buitensporige gunste van haar, en sy is in ’n tweestryd of sy dit moet toestaan.

Pretorius sê komedie kom baie natuurlik vir Fourie en Bezuidenhout.

Simone Pretorius in haar rol as skrywer en beïnvloeder. Foto: Petri Schoeman

“Dit was nie ’n groot gedaanteverwisseling vir hulle nie, want in die werklikheid as hulle by mekaar is tree hulle soortgelyk op. Hulle speel van mekaar af,” sê sy. “Dit pas hulle soos ’n handskoen.”

Sy beskryf die reeks as verfrissend en sê wat lekker is van Ben & Bez is dat Fourie en Bezuidenhout in verskeie rolle te sien is. “Daar is soveel komedie in hulle wat hulle moet uitkry,” lag sy. “Dit is lekker dat dit nie alles in een rol hoef in te gaan nie.”

Pretorius sê sy is ook opgewonde oor die feit dat die reeks aanlyn beskikbaar is. Dit is die eerste keer dat sy deel is van so ’n projek.

Sy sê dit gaan goed met haar, manlief Andries en hul ongebore babadogter wat deesdae meer gereeld vir mamma ’n lekker skoppie in die maag gee.

“Hoe groter my boepie raak, hoe meer begin realiteit inskop,” sê Pretorius, wat hul eersteling verwag. “Ek moet nou aan ’n babakamer begin dink en ons begin nou al meer uitsien na haar koms.

“Ons droom en fantaseer oor haar, en verlang na haar voordat ons haar ken. Ek het regtig ’n baie maklike swangerskap tot dusver, behalwe dat ek so bietjie sukkel met lae bloeddruk. Ek moet seker net ’n bietjie meer gereeld eet,” sê sy.

Bennie Fourie en Shcalk Bezuidenhout vertolk ‘n tweeling. Foto: Petri Schoeman

“Die swangerskap het op die perfekte tyd gekom. Sommige mense in die bedryf is miskien ’n bietjie bang om swanger te raak, want ’n mens hoor dit is ’n opoffering en dit affekteer die rolle wat jy kan vertolk.

“Maar ons staan in verbasing oor die Here se tydsberekening. Dit is regtig perfek, want ek kan van die huis af werk,” sê sy.

“Ek sit tans ’n bietjie ’n skrywers-hoed op en werk aan twee draaiboeke vir ’n reeks. Ek kan nie meer sê nie, maar dit is absoluut gerieflik om in hierdie tyd nie op ’n stel hoef te wees nie, maar steeds ’n kreatiewe uitlaatklep te hê.”

Sy sê sy en Andries het nie noodwendig hul swangerskap beplan nie. “Ons was oop daarvoor, maar dit het net gebeur. Ons is nou baie dankbaar daaroor.”

KYK: DIE BEN & BEZ-OMNIBUS

Ben & Bez

• Nuwe episodes van Ben & Bez verskyn elke Dinsdag en Donderdag op Netwerk24. Daar is 12 episodes om na uit te sien, asook ’n omnibus vir fuifkykers.

• Die eerste episode is gratis, maar die volle reeks is slegs vir intekenare beskikbaar.

Teken in op Netwerk24 teen R99 per maand om nie net Ben & Bez te kyk nie, maar om ook toegang tot jou gunsteling- Afrikaanse koerante, streekkoerante en tydskrifte te kry, asook ons vorige blitssepies, luisterboeke, -dramas, podsendings en meer.

Kontak die dienssentrum indien jy sukkel. Stuur ’n e-pos na diens@netwerk24.com of skakel 087 353 1300.


Meer oor:  Ben & Bez
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.