Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ben en Bez
Ben & Bez: Wie is hoofseun en wie onderhoofseun?
Schalk Bezuidenhout
Schalk Bezuidenhout, opgemaak as ’n vrou, saam met Bennie Fourie. Foto: Petri Schoeman

Die akteurs en komediante Bennie Fourie en Schalk Bezuidenhout is die hoof- en onderhoofseun van Afrikaanse komedie.

Só meen die akteur en musikant Beer Adriaanse, wat vanaf Dinsdag 2 Maart in die Ben & Bez-episode "Vir 'n Coke!" te sien is.

“Ek gaan nie sê watter een die hoofseun en watter een die onderhoofseun is nie,” sê Adriaanse, bekend om sy rolle in Hotel en Fynskrif

“Hulle moet dit maar onder mekaar uitsorteer. Ek hoop Ben & Bez is ’n deurbraak – ’n deur wat oopgeskop word vir die vervaardiging van meer hoëgehaltesketskomedies. Dit is hoog tyd,” sê hy.

Adriaanse meen Ben & Bez is van uitstekende gehalte en baie goed vervaardig, veral aangesien dit op verskeie plekke verfilm is en omdat die kostuums en grimering uitstekend is.

“Hulle het beperkte tyd gehad, maar dit behoorlik en voluit gedoen. Die finale produk het ’n fliek-gevoel,” sê Adriaanse, wat ook die regisseur van twee episodes was. Hy is te sien in die episode waarin Bezuidenhout met ’n rok, borste, ’n pruik en grimering in ’n vrou omskep is. Adriaanse vertolk die rol van ’n kelner in ’n restaurant waar Bezuidenhout en Fourie se karakters op hul eerste afspraak kos bestel.

“Ons het heeltyd uitgebars van die lag,” sê Adriaanse, wat ook saam met Bezuidenhout en Fourie in die sketskomedie Die Intermissie te sien is. “Ek was nie voorbereid op hoe snaaks dit gaan wees om Schalk as ’n vrou te sien nie.

“Ek kon nie ophou lag nie. Ek moes myself inhou, want ek het amper die toneel verongeluk,” sê Adriaanse. 

Hy sê ook hy is mal daaroor dat die episodes sowat vyf minute lank is.

“Dit is ’n heerlike, kort formaat, amper soos ’n vitamien-inspuiting wat ’n mens in die oggend kry as jy dit kyk. Dit laat jou ’n bietjie lag, en dan is jy reg vir wat die dag inhou.”

de beer
Beer Adriaanse gesels tydens ’n toneel met Bezuidenhout en Fourie. Foto: Petri Schoeman

Adriaanse sê hy is ’n groot aanhanger van die sketskomedie-formaat, al kan dinge maklik skeefloop. “Dit verg nogal baie moeite om te vervaardig omdat ’n mens dit amper wiskundig moet benader.

“Duidelikheid is ’n groot vereiste, want die kyker het nie baie lank om uit te pluis wat aangaan nie. Hulle moet dadelik die interne reëls verstaan. As dit reg gedoen word, is dit ’n wonderlike genre.”

Adriaanse was regisseur van die episodes “Hospitaalbesoek” en “ ‘Akward’-kaartjie”, maar hy wys daarop dat Fourie die meeste van die werk gedoen het. 

“Ek het gehelp met die spel-planne, maar Bennie het die meerderheid van die voetwerk gedoen.”

Hy sê dit was ’n plesier om saam met die akteur Ben Kruger en die legendariese Brümilda van Rensburg te werk omdat hulle “bereid was om te doen wat die teks vereis.

“Ek het baie respek daarvoor,” sê Adriaanse. “Dit wys hulle neem hulself ook nie te ernstig op nie.”

*  Nuwe episodes van Ben & Bez wys elke Dinsdag en Donderdag op Netwerk24.

Daar is 12 episodes om na uit te sien, asook ’n omnibus vir fuifkykers.

Teken in op Netwerk24 teen R99 per maand om nie net Ben & Bez te kyk nie, maar om ook toegang tot jou gunsteling- Afrikaanse koerante, streekkoerante en tydskrifte te kry, asook ons vorige blitssepies, luisterboeke, -dramas, podsendings, en meer. Kontak die dienssentrum indien jy sukkel. Stuur ’n e-pos na diens@netwerk24.com of skakel 087 353 1300.

adriaanse
Adriaanse op die stel waarop hy die regisseur was. Foto: Petri Schoeman

Meer oor:  Ben & Bez
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.