Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ben en Bez
Mila Guy speel ma in Netwerk24 se ‘Ben & Bez’
Schalk Bezuidenhout, Bennie Fourie en Mila Guy tydens verfilming van die episode “Amper idillies” wat Dinsdag op Netwerk24 te sien is. Foto: Petri Schoeman

Met ’n kussing onder haar rok het Mila Guy, die aktrise bekend om haar rolle in Binnelanders, Hotel en 7de Laan, die eerste keer ’n swanger vrou in Netwerk24 se sketskomedie Ben & Bez vertolk.

“Bennie (Fourie) en Schalk (Bezuidenhout) het my gevra om swanger te raak vir die verfilming, maar ek het nie kans gesien nie,” skerts Guy.

Hulle moes toe maar tevrede wees met ’n kussing, in ’n hempie toegedraai, in plaas van ’n regte swanger magie.

“Ek vertolk ’n swanger vrou wat met Schalk getroud is,” sê Guy. “Ons speel ’n paartjie wat probeer volmaak voorkom in ’n onderhoud om in ’n volmaakte dorpie toegelaat te word.”

Guy sê sover sy kan onthou, is dit die eerste keer dat sy ’n swanger vrou vertolk en sy het dit baie geniet.

“Baie vroue droom daarvan om swanger te wees en dit is ook een van my drome,” sê sy.

“As ’n mens in die spieël kyk, hoop jy jy lyk amper so wanneer jy regtig swanger is – nog presies dieselfde van agter met ’n perfekte ronde magie.”

Guy is Dinsdag in die episode “Amper idillies” te sien. Die sketse uit die pen van Fourie en Bezuidenhout volg die formaat van internasionale sketskomedies soos Key & Peele, Fry & Laurie en Monty Python’s Flying Circus.

Die episode waarin Guy verskyn, is soos die ander episodes in die reeks, “so ’n bietjie maller as die werklikheid” en behels ’n paar skoppe wat tussen karakters uitgedeel word – nie altyd op aangename plekke nie.

Aktrise Mila Guy met haar vals bababoep. Foto: Petri Schoeman

Guy sê die span het omtrent sports gehad op stel toe die skoppe verfilm is, met Willie Ludik (bekend om sy rol in die flieks Fiela se kind, Sy klink soos lente en Vuil wasgoed) wat per ongeluk raakgeskop is.

Guy sê dit is altyd pret saam met Bezuidenhout en Fourie en hulle laat haar gereeld lag, ook in die regte lewe.

“Die formaat waarin hulle werk, pas hulle so goed,” sê sy. “Dit is so natuurlik vir hulle en hulle is so gemaklik. Ek is eintlik jaloers op hulle.”

Schalk Bezuidenhout, in ’n blonde pruik, op die stel tydens verfilming. Foto: Petri Schoeman

Guy is veral ’n aanhanger van die reeks omdat dit dié soort komedie in Afrikaans aanbied.

“Dit is net lekkerder in ons taal. ’n Mens kan jouself beter daarmee vereenselwig en dit maak dit snaakser.”

Guy sê sy voel baie bevoorreg om ’n standvastige rol in die bekende sepie 7de Laan te hê sedert vroeg verlede jaar, net voordat die inperking begin het.

“Ek dink daar is baie akteurs daarbuite wat baie meer gesukkel het as ek, wat gelukkig kon aanhou werk.”

Guy sê sy droom daarvan om haarself te vestig as regisseur en het selfs ’n bietjie gehelp met een van die episodes van die sketskomedie, “Gates se geheim”. Sy het dié droom onlangs verwesentlik toe sy regisseur van die fliek Die begin was wat deel van kykNET se Storiefilms-projek is.

Dit word na verwagting in Maart vanjaar uitgesaai. Mense kan ook op die uitkyk wees vir haar op 7de Laan.

Nuwe episodes

• Nuwe episodes van Ben & Bez verskyn elke Dinsdag en Donderdag op Netwerk24. Daar is 12 episodes om na uit te sien, asook ’n omnibus vir fuifkykers.

• Die eerste episode is gratis, maar die volle reeks is slegs vir intekenare beskikbaar.

Teken in op Netwerk24 teen R99 per maand om nie net Ben & Bez te kyk nie, maar om ook toegang tot jou gunsteling- Afrikaanse koerante, streekskoerante en tydskrifte te kry, asook ons vorige blitssepies, luisterboeke, -dramas, podsendings en meer.

Kontak die dienssentrum indien jy sukkel. Stuur ’n e-pos na diens@netwerk24.com of skakel 087 353 1300.



Meer oor:  Ben & Bez
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.