Wat is Die Testament?
Die Testament is ’n aanlyn blitssepie wat deur Via en Netwerk24 vervaardig word en op Netwerk24 uitgesaai word. Netwerk24-intekenare kan tot einde November elke weeksdag na ’n 5-minute-episode van Die Testament op Netwerk24 kyk.
Hoe werk 'n aanlyn blitssepie?
Ons vertoon elke weeksdag een episode om 08:00 in die oggend op Netwerk24. Maar moenie bekommer as jy dit nie dadelik kan kyk nie! Al die episodes gaan vir 'n onbeperkte tyd op Netwerk24 wees. As jy dus 'n episode gemis het, kan jy maklik later die dag, die volgende dag of oor die naweek opvang.
Waaroor gaan Die Testament?
Die Testament is ’n storie oor familie. Oor nalatenskap. Oor opbou en afbreek. Dit vertel ’n storie van geheime en leuens. Die storie van hoe die sondes van die vaders hul kinders besoek en stel die vraag of bloed werklik kruip waar dit nie kan loop nie.
Die reeks speel af in die weelderige wêreld van Kaapstad se vooraanstaande sosiale kringe. Sebastian Weyers, selfgemaakte sakeman en konstruksiemagnaat, het ’n familietuiste op ’n luukse landgoed aan die hang van Tafelberg gebou.
Hy het drie volwasse kinders, Annchen, Bastian en die laatlam, Jacques. Hulle ervaar hul pa as ’n soort tiran en nie as die charismatiese en vrygewige man wat die res van die wêreld ken nie.
Wanneer Sebastian senior onverwags sterf en die inhoud van sy testament bekend gemaak word, dompel dit almal se wêreld in chaos. Die erfgename sukkel om die skoknuus te verwerk, wat die familie dwing om uiteindelik hul probleme te erken wat hulle al soveel jare vermy. In die proses kan hulle mekaar egter dalk net uitroei.
Wie speel in Die Testament?
Nico Panagio speel die rol van die “volmaakte seun” Bastian. Hy is tans as Survivor SA se aanbieder te sien om M-Net. Teenoor hom speel Rolanda Marais die rol van Annchen, die sussie wat die gesin bymekaar probeer hou.
Die jong opkomende akteur, Andahr Cotton, speel die rol van die laatlamboetie en musikant, terwyl Amrain Ismail-Essop die rol van Sandra Maritz vertolk, die afgestowe patriarg se lewensmaat van die afgelope vyf jaar. Sandra Prinsloo maak ’n paar verskynings in die rol van die loan shark, Natasja Ludick.
Het jy vorige episodes van Die Testament gemis?
Moenie bekommer nie. Klik hier om al die vorige episodes van Die Testament te kyk.