Waaroor gaan Duiwelspoort?
Duiwelspoort is ’n familiedrama waarin een gesin se geheime blootgelê word. Ontmoet Antoinette Aucamp (Jana Kruger) van die plaas DeWaalspoort. Mans wil haar hê. Vroue wil soos sy wees. Selfs haar eie kinders, Alexia (Lea Vivier) en De Waal (Pascual Wakefield), word soms deur die glans van Antoinette se boere-adel verblind.
LEES OOK: Nuwe blitsreeks, Duiwelspoort, eersdaags op NW24
Op die oog af lyk hulle na ’n hegte gesin, saamgesnoer deur die tragiese dood van Ludwig (Jaco Spies), eggenoot en pa, sowat 25 jaar gelede. Wanneer ’n fratsongeluk egter onthul dat daar meer agter Ludwig se dood skuil as wat sy kinders gedink het, begin die krake in dié familie wys.
Hoe werk ’n aanlyn blitsreeks?
Ons reik elke weeksdag een episode om 08:00 op Netwerk24 uit. Moenie bekommerd wees as jy dit nie dadelik kan kyk nie, want al die episodes sal vir ’n onbeperkte tyd op Netwerk24 wees. As jy dus ’n episode misloop, kan jy maklik later die dag, die volgende dag of oor die naweek opvang. Aan die einde van die reeks kan jy ook al 45 episodes in die omnibus fuifkyk.