Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Duiwelspoort
Duiwelspoort op prentjiemooi landgoed verfilm

Le Grand Jardin
Le Grand Jardin is vir Duiwelspoort in Antoinette Aucamp se huis omskep.

’n Plek om die wonders van die lewe te vier.

Só lui die leuse van Le Grand Jardin, die landgoed waar Netwerk24 se nuwe blitsreeks, Duiwelspoort, afspeel. Die eerste episode van die reeks kan Maandag, 14 September, op Netwerk24 gekyk word.

“Dit was byna vreemd om akteurs op die landgoed te sien wat ’n mens nog net op skerms gesien het,” sê Caroline Swanson, bestuurder van Le Grand Jardin.

LEES OOK: Laudo is dankbaar om weer te kan skep

“Dit was ’n groot voorreg dat die reeks by ons geskiet is. Dis baie interessant om te sien wat alles agter die kameras gebeur!”

Dié prentjiemooi landgoed met sy Kaap-Hollandse herehuis word vir Duiwelspoort in die fiktiewe DeWaalspoort omskep, die familieplaas van die matriarg Antoinette Aucamp. Dit is op dié plaas waar die familiegeheime begrawe is.

Le Grand Jardin
Antoinette Aucamp se kombuis is in die herehuis van Le Grand Jardin verfilm.

“Le Grand Jardin is net een van daardie plekke wat ’n mens met die intrapslag bekoor,” sê Handrie Basson, die skrywer en vervaardiger van Duiwelspoort.

“Ons wou nog altyd vir DeWaalspoort se plaashuis ’n besonderse plek hê. Le Grand Jardin se terrein gee jou die gevoel van geskiedenis en welvaart en die interieur het eenvoudig ons harte gesteel. Daar is soveel karakter en tekstuur in en om die huis wat dit vir ons span maklik gemaak het om aan Antoinette Aucamp se koninkryk gestalte te gee. Dit was ’n groot voorreg om ook binne die huis te kon verfilm. Le Grand Jardin is regtig ’n unieke plek waar ’n mens jouself verloor en jou verbeelding vrye teuels kan gee.”

LEES OOK: Jana Kruger: 'Ons moet leer om na ons liggame te luister'

Wanneer daar nie reekse op die landgoed geskiet word nie, is Le Grand Jardin ’n gasteplaas in die Devonvallei net buite Stellenbosch waar gesinne kan wegkom van die stad.

“Ons het tyd gehad om tydens die inperking ’n bietjie opknappings te doen voor die somerseisoen wat op ons is,” vertel Swanson.

“Ons is baie opgewonde om weer mense by Le Jardin te verwelkom en ons moedig mense aan om die plaaslike gasvryheidsbedryf sover moontlik te ondersteun.”

Duiwelspoort is ook op dié plekke verfilm:

Damarakloof-trouvenue

Damarakloof
Die begraafplaas-tonele van Duiwelspoort is op Damarakloof verfilm.

“Damarakloof was die perfekte plek vir ons begraafplaas-tonele,” sê Handrie Basson.

“Die plaas is hoofsaaklik ’n trou- en geleentheidsvenue en het dus genoeg plek vir ’n filmspan gehad om ’n tydelike produksiekantoor op te rig. Adele en Jaco Lourens van Damarakloof het ingespring en ons kunsregisseur, Estiaan Pienaar, gehelp om ’n oop stuk grond in ’n bloekombos in Duiwelspoort se familie-begraafplaas te omskep. Ons kon nie in ’n gevestigde begraafplaas verfilm nie weens al die verskillende tonele wat daar afspeel, so om ’n geskikte plek te vind waar ons iets kon bou en ongesteurd dag én nag kon verfilm, was ’n groot pluspunt. En om saam met sulke hartlike mense saam te werk, het die lang ure op stel verby laat vlieg.”

Flowerheart-bloemiste

Flowerheart-bloemiste is gebruik om die tonele in De Waal Aucamp se blommewinkel te verfilm.

Basson sê: “Charlotte Boonzaaier het haar winkel, Flowerheart-bloemiste in Durbanville, spesiaal op ’n Sondag vir ons ingerig sodat ons daar kon verfilm. Dié boetiekbloemiste het die regte atmosfeer vir De Waal se winkel vasgevang en ons kon byna in elke hoekie van die winkel ’n mooi toneel skiet. Met al die blomme en dekor in die winkel, was daar nie veel stel-inkleding nodig nie en ons kon dadelik rol vir ligte, kamera, aksie!”

Welgemoed Villa

Welgemoed Villa
Welgemoed Villa

“Welgemoed Villa, wat uitkyk oor ’n lowerryke gholfbaan en die pragtige Bolandse berge, was ’n juweel van ’n plek om te skiet,” sê Basson.

“Dié gastehuis van Yolanda Cilliers is só veelsydig as 'n filmstel – elke vertrek het ’n unieke karakter en ons kon soveel tonele wat in verskillende plekke in die storie afspeel op dié erf in Plettenbergstraat verfilm. Om so ’n plek te vind wat as verskeie plekke in die storie kan dien, is geweldig belangrik as ’n mens binne ’n beperkte tydperk en begroting moet verfilm. Die Slabberts se ganse huis, De Waal en Melody se woonstelle en nog ’n verrassing of twee, is hier verfilm en ons span kon onsself behoorlik daar tuismaak.”

Waaroor gaan ‘Duiwelspoort’?

Duiwelspoort is ’n familiedrama waarin ’n gesin se geheime blootgelê word.

LEES OOK: Nuwe blitsreeks, Duiwelspoort, eersdaags op NW24

Ontmoet vir Antoinette Aucamp (Jana Kruger) van die plaas DeWaalspoort. Mans wil haar hê. Vroue wil soos sy wees. Selfs haar eie kinders, Alexia (Lea Vivier) en De Waal (Pascual Wakefield), word soms deur die glans van Antoinette se boere-adel verblind.

Op die oog af lyk hulle na ’n hegte gesin, saamgesnoer deur die tragiese dood van Ludwig (Jaco Spies), eggenoot en pa, sowat 25 jaar gelede. Wanneer ’n fratsongeluk egter onthul dat daar meer agter Ludwig se dood skuil as wat sy kinders gedink het, begin die krake in dié familie wys.

KYK NA DIE LOKPRENT VAN DUIWELSPOORT: 

Hoe werk ’n aanlyn blitsreeks?

Ons reik elke weeksdag een episode om 08:00 op Netwerk24 uit. Moenie bekommerd wees as jy dit nie dadelik kan kyk nie, want al die episodes sal vir ’n onbeperkte tyd op Netwerk24 wees. As jy dus ’n episode misloop, kan jy maklik later die dag, die volgende dag of oor die naweek opvang. Aan die einde van die reeks kan jy ook al 45 episodes in die omnibus fuifkyk.

Meer oor:  Duiwelspoort
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.