Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldhelde
Geldhelde: Episode 10

Die eiendomsmark is ongelukkig nie so maklik soos die bordspel Monopoly nie. Huiskoop is een van die grootste lewensbesluite wat jy moet neem. Daar is baie faktore wat ’n invloed op die koop van eiendom het, dus skrik dit soveel mense af.

In die nuutste episode van Geldhelde, VIA (DStv-kanaal 147) se geldsakeprogram, gesels die aanbieder, Lucky du Plessis, met kenners op die gebied van eiendom en bring vir jou die nodige raad en vaardighede van die Suid-Afrikaanse eiendomsmark.

Belê só in jouself en jou eiendom

Volgens Adrienne Hersch, uitvoerende hoofbeampte van Adrienne Hersch Properties, is dit nóú die perfekte tyd om in eiendom te belê.

“Die Suid-Afrikaanse eiendomsmark is in ’n slegte toestand. Dit het baie verkopers gedwing om hul pryse met 20% tot 35% af te bring,” sê Hersch.

Geldhelde

Dit maak dit juis die perfekte tyd om in eiendom te belê.

Oorweeg altyd die twee vereistes voordat jy in eiendom belê:

1. Ligging – waar jy moet wees wat skole, werk en openbare vervoer betref.

2. Bekostigbaarheid – iets wat binne jou begroting val.

Sy gaan verder om jong mense aan te raai om eiendom te koop eerder as om dit te huur. “Jy mors nie jou geld nie, maar belê eintlik in jouself én jou eiendom. En eendag sal jy die vrugte daarvan kan pluk.”

huiskoop
Om eiendom te huur of te koop?

Baie Suid-Afrikaners wroeg gereeld oor die groot besluit: Om eiendom te huur of te koop? Die eiendomsmark is baie ingewikkeld en om ’n deposito op eiendom te kan neersit, sit nie in elke ou se beursie nie. Jeanette Marais van Momentum se raad kan dalk net jou besluit vir jou makliker maak.

Daar is verskeie faktore wat hier ’n rol speel:

• Die kopersmark van die eiendomsmark op daardie stadium.

• Bekostigbaarheid van die eiendom.

• Die soort lening wat die bank vir jou sal gee.

Jeanette stel voor as jy nog jonk is, moet jy jou huurtydperk gebruik om te spaar sodat jy later ’n deposito op eiendom kan bekostig.

Wat is belangrik wanneer jy eiendom koop?

• Kry advies van iemand wat die eiendomsmark goed ken.

• Tydsberekening van wanneer, wat en waar jy koop.

“Dit is soms net makliker om te huur en die tyd te gebruik om uit te vind waar die beste plek en tyd is om dan in ’n eiendom te belê,” sê Jeanette.

Huur vs. koop

Jy moet besef dat die gehalte van eiendom wat jy tans huur sal drasties verskil wanneer jy koop. Die soort eiendom wat jy vir dieselfde paaiement kan koop, sal van laer gehalte wees as die eiendom wat jy huur.

Huur gee jou ook die geleentheid om faktore soos verkeer en ’n spesifieke woonbuurt uit te toets voordat jy koop. Dit gee jou tyd om jou sake gereed te kry en so ook die eiendomsmark beter te leer ken.

Belê in eiendomsportefeuljes

“Dit is nie goed om te sê jy gaan vir die res van jou lewe huur nie, want ’n mens wil daardie bate opbou,” sê Jeanette. Eiendom is ’n goeie bate om in jou portefeulje te hê, maar daar is maniere om in eiendom te belê sonder om só ’n groot risiko te loop.

Daar is geweldig baie keuses in die eiendomsportefeulje- en effektetrustmark om in te belê. Jeanette meen dít is amper die beste manier om eiendom in jou portefeulje in te bring.

By Momentum belê jy byvoorbeeld in jou eiendomsfonds in verskeie kommersiële eiendomme. Dit sluit eiendom soos fabrieke en groot winkelsentrums in. Die belegging bied uiteindelik ’n baie goeie verskansing in jou portefeulje. Dié paaiement kan jou selfs so min as R500 ’n maand kos.

Dit is duidelik dat die risiko wat jy hier gaan loop, nie net baie kleiner en veiliger is nie, maar dit sorg ook vir diversifikasie in jou portefeulje.

Maak geld uit jou eiendom

Koketso Sylvia Milocevic, mede-stigter van Wealth Alliance, is ’n eiendomsmagnaat. Sy is ’n eiendomsontwikkelaar en leer ook vir jong mense hoe dit werk om eiendom te koop en te besit.

Geldhelde

Sylvia glo dat jy nooit op ’n werk moet staatmaak vir ’n inkomste nie. Daarom glo sy in die mag van eiendom en dat dit van dag een reeds vir jou moet geld maak.

Dit is histories bewys dat eiendom een van die vaste vorms van belegging is. Om eiendom te besit kan ’n manier wees vir jou om beheer oor jou finansiële vooruitsigte te neem.

Is ’n huis ’n belegging?

Tref onderskeid tussen jou primêre woning en die eiendom wat jy uitverhuur.

Primêre woning

Dit is nie ’n belegging nie, want jy gaan altyd iewers moet woon. Dit is geld wat jy móét uitgee. Maak seker dat jy dié bedrag geld so gou moontlik afbetaal. Só sal die rente-komponent daarvan altyd so laag as moontlik kan bly.

Eiendom as belegging

Dié eiendom koop jy om te verhuur of om as vakansiehuis te gebruik. Hierdie som werk anders en moet as ’n onderneming bestuur word. Hierdie lening kan jy ook stadiger afbetaal omdat jy belastingvoordele daaruit kry.

Week 10 van die Aandelebrekerskompetisie

Week 10 van die kompetisie was moeilik vir die markte en die deelnemers, wie se opbrengste almal ’n knou weg het.

Penny Divas het besluit om Sasol te verkoop nadat hul portefeulje met 10% gedaal het, en Team Vista het besluit om by hul ou strategie te hou.

Die punteleer lyk soos volg: Penny Divas bly in die eerste plek met ’n opbrengs van R20 623,28; Team Vista lê tweede met R19 261,03; Amakipkip is in die derde plek met ’n bedrag van R18 256,05; Fearless het die Jan Celliers-skoliere verbygesteek en lê nou in die vierde plek met R18 000,72; en die Jan Celliers-leerlinge is die week laaste met ’n bedrag van R17 730,98.

  • Skakel Maandae om 19:30 in op VIA (DStv-kanaal 147) om Geldhelde te volg.
Meer oor:  Huiskoop  |  Via  |  Beleggings  |  Geldhelde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.