Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldhelde
Geldhelde: Episode 11

Wanneer jy ’n SMS ontvang wat sê jy’t R50 000 of meer gewen, weet die meeste mense teen dié tyd dis waarskynlik ’n slenter – veral as hulle nie vir ’n kompetisie ingeskryf het nie. Maar daar is sekere slenters wat so ingewikkeld is dat baie mense ongelukkig steeds daarvoor val.

In die nuutste episode van VIA (DStv-kanaal 147) se geldsakeprogram, Geldhelde, gesels die aanbieder Lucky du Plessis met finansiële adviseurs asook entrepreneurs wat al deur slenters gevang is. Hy vind by hulle uit hoe jy jouself kan beskerm.

Doen jou huiswerk

Gideon Galloway, uitvoerende hoof en stigter van King Price-versekering, sê hy kon homself baie moeite gespaar het met slenters as hy net behoorlike huiswerk oor die maatskappye en sy vennootskappe gedoen het.

Gideon Galloway

Galloway is destyds met ’n slenter gevang toe die vragmotormaatskappy wat hy aangestel het gesteelde steenkool vervoer het.

“Ek het nie regtig huiswerk gedoen oor die mense nie. Ek het hulle bloot vertrou omdat dit ’n kennis van ’n kennis was,” sê Galloway.

Hy waarsku dat as daar ’n wolk oor iemand hang, jy dadelik ondersoek sal moet begin instel.

Waarskuwingstekens van ’n slenter

’n Slenter is gewoonlik iets wat te goed klink om waar te wees. Soos wanneer jy ’n e-pos of boodskap op jou selfoon ontvang wat sê: “Jou bankdienste gaan opgeskort word, jy moet onmiddellik hier klik om jou persoonlike besonderhede te bevestig.”

Jeanette Marais van Momentum waarsku dat jou bank nooit jou persoonlike inligting per e-pos of SMS sal vra nie.

Jeanette Marias

Slenters het ook die neiging om by jou beleggings op te duik. Marais meen die maklikste manier om jouself hierteen te beskerm is om gereeld koerante en finansiële adviseurs te raadpleeg. Vind uit wat presies ’n risikovrye beleggingsopbrengs op ’n spesifieke tyd is. Dit leer jou dan om bewus te wees van realistiese finansiële groei.

“Op die oomblik is daar ongelooflik baie slenters, so ’n mens moet wakkerder wees as ooit,” waarsku sy.

Hoe gemaak as iemand jou reeds gevang het met ’n slenter?

Probeer dit te alle tye vermy, maar as jy wel jouself in so ’n situasie bevind, gaan besoek onmiddellik ’n finansiële adviseur wat jou kan help om te red wat nog te redde is.

“Jy gaan baie fyner moet beplan en mooier moet kyk na alles – van jou leefstyl, regdeur tot die soort kapitaal wat jy kan kry om weer ’n portefeulje op te bou en sodoende vir jouself te kan sorg,” sê Marais.

Kubersekerheid is belangriker as wat jy dink

Jason Goliath, komediant en medestigter van Goliath and Goliath, sê hy moes sy maatskappy se kubersekerheid geweldig verskerp nadat kuberkrakers ’n slenter gebruik het om naastenby R300 000 van die maatskappy se inkomste te steel.

Jason Goliath

Beskerm só jouself teen slenters

“Wees oplettend oor hoe jou veiligheid op alle platforms gestel is; moenie op enige internetskakel klik en persoonlike inligting deel nie, en maak seker alle toegangspunte van jou kubersekerheid word gedek en dat nie almal weet wat jou Wi-Fi-wagwoord is nie,” sê Goliath.

Week 11 van die Aandelebrekerskompetisie

In week 11 van die kompetisie het die koronavirus ’n negatiewe uitwerking op al die spanne se opbrengste gehad.

Amakipkip is glad nie senuweeagtig oor die virus se invloed op hul portefeulje nie, terwyl Fearless bekommerd is oor hoe drasties van hul aandele geval het.

Die punteleer lyk soos volg: Penny Divas is steeds in die eerste plek met R18 812,83; Team Vista is tweede met R18 592,86; Amakipkip behou die derde plek met ’n opbrengs van R17 956,94; Fearless is in die vierde plek met R17 565,19, en die Jan Celliers-skoliere is laaste met R17 387,75.

So, volgende keer wanneer iemand na jou toe kom met ’n “goeie-belegging-storie”, wees versigtig om nie daarvoor te val nie. Anders sit hulle met jou geld en al wat jy oorhet is die harde les wat jy geleer het.

  • Skakel Maandae om 19:30 in op VIA (DStv-kanaal 147) om Geldhelde te volg.
Meer oor:  Via
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.