Vakansies is gewoonlik die tyd wanneer baie mense besluit om weg te breek van die huis en tyd met die familie te spandeer. Daar word soms só baie geld bestee wat jou dan onnodig laat stres.
In dié episode van VIA se geldsakeprogram, Geldhelde, gesels Lucky du Plessis, die aanbieder, met finansiële adviseurs en entrepreneurs oor die belangrikheid van finansiële beplanning as jy met vakansie wil gaan.
Bly weg van skuld maak op vakansies
Siyabonga Dlamini, die eienaar van River Meadow Manor, ’n hotel vir vakansiegangers in die Wes-Kaap, sê hy het al baie waargeneem hoe mense skuld maak om met vakansies te kan gaan. Hy noem hulle die “sosiale media-gang”.
“Sosiale media plaas baie druk op mense om ’n sekere leefstyl te handhaaf en dit is nie altyd bekostigbaar nie,” sê Siyabonga.
Hy meen dit is beter om geld te spaar en jou vakansies op ’n wyser manier te kies.
Familietyd
“Vakansies hoef nie duur en ver van die huis af te wees nie. Dit gaan oor die ervaring,” sê Siyabonga.
Daar is min geleenthede waar jou hele familie bymekaar kan wees, wat ’n vakansie juis die perfekte tyd maak om oop kaarte met hulle te speel deur die moeilike gesprekke te hê.
“Praat met mekaar oor julle drome en doelwitte, maar praat ook oor die belangrike goed, al is dit ongemaklik,” sê Jeanette Marais van Momentum.
Sy meen hierdie ongemaklike gesprekke is waardevol in die sin dat dit jou familie in staat stel om op hul eie reg te kom die dag as iets onverwags met jou moet gebeur.
“Praat met mekaar oor julle drome en doelwitte, maar praat ook oor die belangrike goed, al is dit ongemaklik,” sê Jeanette Marais van Momentum.
Vakansies is ook ’n tyd om finansieel te beplan.
Jy moet vakansies gebruik om lysies te maak oor die dinge in jou lewe wat verander het. Soos byvoorbeeld as jy ’n kind het wat binnekort universiteit toe gaan – op hierdie manier kan jy jou finansiële plan ook verander.
“Jy sien dan in Januarie ná die vakansie wat die belangrike goed in jou persoonlike lewe is wat jy moet uitsorteer, sodat jy die res van die jaar weer op jou werk kan fokus,” sê Marais.
Kies eerder bekostigbare vakansie-bestemmings
Oorsese vakansies kan baie duur raak, so spaar geld deur eerder vakansieplekke in Suid-Afrika te besoek, daar is verskeie Suid-Afrikaanse Nasionale Parke.
“As jy vir meer as sewe keer ’n jaar enige nasionale park besoek, is dit die moeitewerd om ’n Wild Card te koop. Deur middel van ’n eenmalige betaling, bied hierdie kaart jou ‘gratis’, onbeperkte toegang tot dié parke.
Dit spaar jou so baie geld,” meen Nadav Ossendryver, die uitvoerende hoof en stigter van Latest Sightings.
Maak ’n vakansie-spaarrekening oop
Volgens Monique Bräsler, ’n finansiële beplanner by Galileo Wealth, bied baie banke ’n geldmark- of spaarrekening wat jy aan jou bankrekening kan koppel.
Jy kan rente op hierdie geld verdien en sodoende vinniger jou doel bereik om met vakansie te gaan.
Hoe begroot ek op my uitgawes?
Wanneer jy vakansie hou is dit nie net jou uitgawes en gewone onkoste wat hoër word nie – jou gewone maandelikse uitgawes moet ook nog bygetel word. Dit sluit uitgawes soos byvoorbeeld jou DStv-rekening, jou motoronkoste en huurpaaiemente in.
“So stel vir jouself ’n datum op wanneer jy met vakansie wil gaan, en volg eerder ’n gedissiplineerde proses in plaas van skuld maak en die hele vakansie op jou kredietkaart koop,” sê Theo Vorster, ’n finansiële konsultant.
Week 12 van die Aandelebrekerskompetisie
In week 12 van die kompetisie was al die spanne se portefeuljes steeds swaar getref deur die koronavirus.
Team Vista meen hul diverse portefeulje help hulle in die tydperk en Penny Divas het hul eerste plek verloor.
Die punteleer lyk soos volg: Amakipkip is hierdie week eerste met R16 973,77; Penny Divas is nou tweede met R16 823,88; Team Vista is in die derde plek met R16 642,99; Fearless is vierde met R15 630,03, en die Jan Celliers-leerlinge is laaste met R15 219,18.
- Skakel Maandae om 19:30 in op VIA (DStv-kanaal 147) om Geldhelde te volg.