Aftree is iets waarna baie mense uitsien, want dan kan jy al daardie goedjies doen wat jy nie kon doen toe jy elke dag moes werk nie. Ongelukkig is daar baie Suid-Afrikaners wat nie hul aftree-beplanning in plek het nie – daar is bewys dat net 6% van Suid-Afrikaners steeds dieselfde leefstyl as voor hul aftrede kan volhou.
In die nuutste episode van VIA (DStv-kanaal 147) se geldsakeprogram, Geldhelde, gesels die aanbieder, Lucky du Plessis, met finansiële adviseurs, asook entrepreneurs. Hy vind uit hoe jy presies finansieel vir jou aftrede moet beplan.
Dit is nie ’n moet om op 55 jaar af te tree nie
Eskel Jawitz, die stigter en voorsitter van Jawitz Properties, sê as jy nog passievol is oor jou werk ná aftreeouderdom, hoef jy nie sleg te voel om daarmee voort te gaan nie.
“Mense is altyd verstom om te hoor ek werk nog op die ouderdom van 85 jaar. Hulle glo dat as jy ’n sekere ouderdom bereik jy nie meer van nut is vir die samelewing nie. Ouderdom is maar net ’n nommer, ek geniet dit nog om vier tot vyf dae ’n week te werk,” sê Jawitz.
Begin so vroeg moontlik spaar
Volgens Jeanette Marais van Momentum moet jy ’n gedeelte van jou eerste salaristjek onmiddellik belê in jou maatskappy se pensioenfonds. En as hulle nie een het nie, onmiddellik met jou eie een begin.
Spaar soveel as moontlik
Dit is belangrik om soveel as moontlik te spaar om sodoende genoeg geld oor te hê vir die volle periode van jou aftrede.
“Die somme wys dat selfs al spaar jy soveel as 7,5% vir 40 jaar, dit nie genoeg gaan wees om ná aftrede 100% van jou laaste salaris te kan vervang vir nog 35 tot 40 jaar nie,” waarsku Marais.
Moet nooit geld uit jou pensioenfonds onttrek nie
Marais meen om geld vroegtydig uit jou pensioenfonds te onttrek, een van die grootste foute is wat baie mense maak.
“Jy verloor jou saamgestelde rente en al die jare wat jy aan jou kant gehad het nadat jy vroeg begin spaar het,” sê sy.
Hoe om te verseker jy is op die regte pad
Marais gee twee wenke vir wanneer jy nagte wakker lê en stres of jy genoeg geld vir jou aftrede sal hê:
* Besoek ’n finansiële adviseur – baie keer het jy raad van iemand anders af nodig. Dalk kan jy afskaal of verander aan jou huidige leefstyl om te verseker jy kan meer tot jou pensioenfonds bydra.
* Werk vir so lank moontlik voordat jy aftree – dit maak amper ’n 20 jaar-verskil aan jou aftrede, want dit is vyf jaar langer wat jy werk waar jy ’n inkomste verdien; vyf jaar langer wat jy ’n bydrae kan maak aan jou pensioenfonds; vyf jaar langer wat jy nog saamgestelde rente kan verdien, en vyf jaar minder wat jy het om te leef van die inkomste wat deur jou kapitaal verskaf moet word.
Tree Suid-Afrikaners te laat af?
Volgens Ina Lessing, die stigter en uitvoerende hoof van Ina Lessing Konfyt en Ingemaak, speel jou leefstyl ’n groot rol in wanneer jy kan aftree.
“Jy word nie gebore met ’n vervaldatum nie,” meen Lessing. Wat beteken as jy laat wil aftree dit nie ’n probleem is nie. Solank jy genoeg gespaar het.
Hoe om vas te stel jy’s reg voorbereid vir aftree
Jou uitgawes is ’n groot aanduiding van jou leefstyl, en die geld wat jy tans maandeliks bestee, is min of meer wat jy in jou aftrede gaan bestee. Só kan jy dan uitwerk hoeveel kapitaal jy nodig gaan hê om jou leefstyl in aftrede te handhaaf.
Hoe gemaak as my geld opraak gedurende my aftrede?
Theo Vorster, ’n finansiële adviseur, waarsku dat jy van jou uitgawes vroegtydig sal moet begin sny om te verhoed dat jou geld opraak tydens jou aftrede.
“Wat jy nie wil doen nie, is om die ‘uitgawes-snyproses’ uit te stel. Jy moet eerder so gou as moontlik begin, sodat die tydwaarde van geld jou kan help gedurende daardie tyd,” sê Vorster.
Week 13 van die aandelebrekerskompetisie
Week 13 was die finale week van die aandelebrekerskompetisie, met Penny Divas wat aangewys is as die algehele wenner met ’n opbrengs van R17 248,61.
Spanmaats Aniska Kleynhans (23) en Marcé Marais (24) meen hulle het nie net met die eerste plek weggestap nie, maar ook waardevolle lesse rondom aandele geleer.
Om te begin spaar vir jou aftrede is soos om ’n boom te plant. Die beste tyd was 20 jaar gelede, die tweede beste tyd is nou.
“Doen baie navorsing voordat jy in aandele belê,” sê Kleynhans, en “herinner jouself dat dit ’n langtermyn-proses is, anders as die kompetisie, so jy gaan nie oornag ryk word nie,” voeg Marais by.
Team Vista is die naaswenner met R16 427,51; Fearless is in die derde plek met R15 584,50; die Jan Celliers-leerlinge is vierde met R14 681,87, en Amakipkip het in die vyfde plek geëindig met R14 602,91.
Om te begin spaar vir jou aftrede is soos om ’n boom te plant. Die beste tyd was 20 jaar gelede, die tweede beste tyd is nou. So, as jy dit nog nie gedoen het nie, doen dit nou!