Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldhelde
Geldhelde: Episode 8

Die onvoorspelbare maand-tot-maand-ritme van ’n vryskutwerker se inkomste dra ’n groot risiko en daarom is dissipline en veiligheid van geld só belangrik vir mense wat op onreëlmatige wyses geld verdien. 

Dit is onseker of jy elke maand ’n salaris gaan verdien of selfs net genoeg sal verdien. Kan jy werklik vooruit vir jou finansies beplan en sal jy ooit finansiële sekerheid en veiligheid kan bereik?

In vandeesweek se episode van Geldhelde, VIA (DStv-kanaal 147) se geldsakeprogram, gesels die aanbieder, Lucky du Plessis, met kenners, entrepreneurs en vryskutwerkers hieroor. 

Benut jou vrye tyd ten volle

Gert-Johan Coetzee, die Suid-Afrikaanse modeontwerper wat al rokke vir bekendes soos Oprah Winfrey, Kelly Rowland en Bonang Matheba ontwerp het, sê om vryskut te wees, is nie altyd maklik nie.

Geldhelde

“Daar is ongelooflik baie druk op jou. Veral as jy ’n kreatiewe mens is, want jou bestaan hang af van jou idees,” sê Coetzee.Hy beklemtoon dat sosialemedia-bemarking baie belangrik is vir vryskutwerk, want dit gee jou die platform om op ’n goedkoop of selfs gratis manier jou teikenmark te bereik. Dit is ook belangrik om te besef wáár jou teikengehoor lê en ook hoe om hulle te teiken.

Verskillende sosialemedia-platforms, soos Instagram, Facebook en Twitter, spreek nie noodwendig in jou veld tot dieselfde gehoor nie.

 Volgens Coetzee is dit ideaal om eers intern- en mentorskappe te doen sodat jy die grondslagfase van jou bedryf onder die knie kan kry.“Ek sal so ver gaan as om te sê ‘werk op naweke’. As dit jou passie is, gebruik jou vrye tyd tot jou voordeel en leer iets.” 

Hoe werk finansiële beplanning vir ’n vryskutwerker?

 Vryskutwerkers is diegene wat waarskynlik die fynste beplanning vir hul finansies nodig het. Vooruitbeplanning is baie moeilik in hierdie geval omdat die salarisvooruitsigte nie altyd so duidelik is nie. Omdat jou inkomste so geweldig wisselvallig is, is beplanning ongelooflik belangrik. 

Skep verskillende ‘fondse’ vir jouself

Vryskutwerkers verdien dalk geruime tyd geen inkomste nie, maar ná ’n sekere tydperk verdien hulle op een slag ’n groot bedrag geld. Dit is belangrik om nie roekeloos met hierdie geld om te gaan nie. Moet byvoorbeeld nie ’n duur vakansie gaan hou of onnodige items aankoop nie. Besin eerder oor watter een van jou “fondse” dalk die kapitaal het.

 Jou noodfonds moet byvoorbeeld altyd genoeg kapitaal hê. Skep vir jouself ’n ses- tot 12-maande-fonds – hierdie fonds vervang dan jou inkomste indien jy vir ’n tydperk geen geld verdien nie. 

Korttermyn-noodfonds

Skep ’n korttermyn-noodfonds vir jouself. Dit bestaan gewoonlik uit twee tot drie maande se salaris en word in kontant gehou. Op hierdie manier stel jy nie hierdie kapitaal bloot aan enige vorm van risiko nie. 

Vooruitbeplanning

Ondersoek jou finansiële uitgawes van die afgelope twee tot drie jaar. Kyk na jou verskillende inkomstes en uitgawes. Maak dan voorsiening vir die goed wat jy weet jy elke maand sal moet betaal, vir die langste tydperk wat jy moontlik sonder ’n inkomste sal wees. 

Vul al jou fondse aan

Sodra jy ’n inkomste verdien, maak seker jy verdeel dit in al jou verskillende “fondse”. Op hierdie manier stel jy jouself minder bloot aan finansiële risiko. 

Langtermyn-aftreebeplanning

’n Mens gaan op ’n punt in jou lewe kom waar jy nie meer kan of wil vryskut nie. Daarom moet jy seker maak dat jy nóú genoeg voorsiening maak vir jou aftrede. Later sal jy dan nie meer afhanklik hoef te wees van ’n wisselvallige inkomste nie. 

Dissipline

Deur al hierdie verskillende komponente of fondse vir jouself te skep, beperk jy jou eie finansiële risiko. Sonder hierdie volgehoue dissipline gaan jou finansiële beplanning nie ’n doel hê nie en sal jy altyd, op lang en kort termyn, geen finansiële sukses kan behaal nie. Rozanne McKenzie, ’n televisie- en radioaanbieder, seremoniemeester asook stemkunstenaar, werk al baie jare as vryskutwerker in die vermaaklikheidsbedryf.

Geldhelde

Rozanne sê sy het al duur lesse as vryskutwerker geleer en dat sy nou seker maak dat sy altyd ’n kussing het om op te val in slegte tye.Haar raad aan ander vryskutwerkers is om in die maande wat jy ’n bietjie meer geld verdien, die ekstra rande weg te sit in ’n rekening waartoe jy maklike toegang het.

Dit sal jou red in die maande dat jy minder geld verdien en daardie ekstra kapitaal gaan nodig kry. Sy glo ook dit is belangrik dat jy die vaardighede moet hê om meer as een ding te kan doen. As een geleentheid dus wegval, het jy alternatiewe vaardighede en kennis om op terug te val. 

Week 8 van die aandelebrekerskompetisie

In week 8 van die kompetisie gaan loer Steven Schultz en Theo Vorster by die Jan Celliers-leerlinge in om uit te vind hoe hul portefeulje vorder. Ons vind uit dat twee van die span se aandele nie baie goed vaar nie, maar dat een wel uitstekend vorder. Hoewel die span tweede laaste op die punteleer lê, glo hulle vas dat hulle steeds gaan wen.

Die punteleer vir hierdie week lyk soos volg: Penny Divas behou steeds die eerste plek met ’n opbrengs van R20 937,99; Team Vista probeer sterk om hulle in te haal met ’n bedrag van R20 265,34; Amakipkip begin nou momentum kry met R19 873,65; Die Jan Celliers-skoliere lê vierde met R19 236,87; en Fearless is weer eens in die laaste plek met R19 077,78. 

Uiteindelik is die heel belangrikste kwessie hoe vryskutwerkers hul geldsake hanteer. Om konserwatief met jou uitgawes te werk te gaan sal jou help om jou onvoorspelbare inkomsteritme te balanseer en dus ’n gemakliker finansiële omgewing vir jouself en jou toekoms te skep.

  • Skakel Maandae om 19:30 in op VIA (DStv-kanaal 147) om Geldhelde te kyk.
Meer oor:  Reeks  |  Via  |  Geldhelde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.