Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
NW24 TV
Diaan: 'As jy op liefde fokus, kan jy deur die meeste goed kom'
Diaan Lawrensen en Jody Abrahams. Foto: Verskaf

Die dinamiese duo Diaan Lawrenson en Jody Abrahams het al baie rolle vertolk. Nie net op die skerm nie, maar ook agter die skerms woeker dié twee. Hulle is onder meer die vervaardigers van Netwerk24 se nuwe blitsreeks Op en Af.

Maar vir albei bly die belangrikste rol dié van eggenoot en ouer. SZ Minnaar het vir Diaan ’n paar vrae gevra oor hul ervarings om as ’n paartjie saam te werk.

1. Wat is die voordele van saamwerk?

Ons deel dieselfde passie. Ek dink dit is lekker om in ’n huwelik te wees waar albei dieselfde werkpassies deel. Ons verstaan mekaar se ure, mekaar se liefde vir die bedryf en al die uitdagings. Ons kan saam droom en daardie drome laat realiseer. Ons daag mekaar uit om altyd na die beste te strewe, want dit gaan ook oor nalatenskap.

2. Waar is die haakplekke?

Aan die begin het ons soms vasgesit, maar nou jare later verstaan ons mekaar goed. Ons het verskillende werkstyle en maniere van kommunikeer en dit het in die begin konflik veroorsaak. Eers toe ons dit verstaan en respekteer, toe werk dinge goed.

Ek en Jody werk al baie jare saam en ons het nog altyd ’n goeie span gemaak. Ons vul mekaar aan en leer by mekaar. Ons weet ons wil die beste vir mekaar hê. Ek beplan en Jody is spontaan en kreatief. Ons altwee kan goed op ons voete dink en probleme oplos. Ons weet die doel heilig die middele. Ons haakplekke het ons sterkste eienskappe geword.

LEES OOK: OP EN AF: Dié blitsreeks gaan jou laat skaterlag

3. Neem julle soms werk huis toe?

Soms, maar ons probeer om dit nie te veel te doen nie. Ons moet daadwerklik afskakel. Ons maak ’n punt daarvan om nie heeltyd oor werk te praat nie. Ons kinders is ook die belangrikste prioriteit en dit laat ’n mens perspektief behou.

4. As julle altwee op die stel is, wie help met die kinders?

Oor die jare het ons rolle vir onsself geskep wat sorg dat ons nie al twee die heeltyd op stel benodig word nie. Dit gebeur soms en dan staan ons families in, maar ons het ’n punt daarvan gemaak om nie altyd op dieselfde tyd op stel hoef te wees nie.

Een van ons moet altyd beskikbaar wees vir die kinders. Gelukkig het ek en Jody wonderlike susters wat agteroor buig om met die kinders te help wanneer hulle kan. Ons kinders is ook nou al gesoute crew-lede. Hulle kom sommer saam stel toe as dit moet.

5. Wat was die lekkerste deel van saamwerk aan ‘Op en af’?

Ons was baie in beheer met die produksie. Ek was baie meer betrokke as vervaardiger en Jody meer agter die skerms. Ons het ’n visie gedeel en gesorg ons het die sterkste span om ons visie te ondersteun en te laat realiseer. Ons hele span was ongelooflik. It takes a village. Ons het geleer oor die jare om lekker spanne bymekaar te sit. Ja, daar is soms stres, maar oor die algemeen geniet ons die werk.

Die lekkerste deel was om te sien hoe alles bymekaar kom, hoe al jou drome en beplanning en maande se gesprekke uiteindelik realiseer.

6. Wat het julle passievol gemaak oor hierdie projek?

Die projek is baie na aan ons hart. Leon Kruger het ’n paar jaar terug Klein Jakkalsies, ’n toneelstuk gemik op paartjies en huwelike, vir ons geskryf. Die stuk het baie goed gevaar en orals voor uitverkoopte gehore gespeel.

Mense het so gelag dat ons soms vir tot vier minute nie kon praat nie. Ons het geweet die idee, komediestyl en inhoud werk en dat mense hulle vereenselwig met die karakters en die stories.

Leon is tans een van ons land se beste skrywers en ons kon nie vir beter gevra het nie.

Diaan speel die rol van Christelle, Bev se beste v
Diaan speel die rol van Christelle, Bev se beste vriendin.

Diaan se raad aan paartjies

  • Het julle al deur slaggate in die pad gegaan?

Absoluut. Wys my ’n paartjie wat nog nie deur moeilike tye is nie. Maar ons praat en troos en is bo alles baie lief vir mekaar. Ons huwelik en kinders is die fokus van alles wat ons doen. As jy op liefde fokus, kan jy deur die meeste goed kom.

  • Was julle dalk al vir berading?

Ons het al individueel vir berading gegaan. Ek glo in berading en ek glo dat mense partykeer op ’n punt kom waar hulle nie noodwendig meer die antwoorde het nie. Hulle het dan net ’n objektiewe mening nodig wat kan raad gee of gereedskap uitdeel om hul verhoudings of lewe makliker en beter te kan maak.

  • Wat is jul raad aan ander paartjies?

Praat met mekaar. Lag vir jouself. En ondersteun jou vennoot om die beste te wees. Ons het die eenvoudige les geleer: Ondersteun jou maat so baie dat hulle die beste vir jou wil wees. Hou mekaar vas in die donker oomblikke.

  • Op en Af begin op Maandag 3 Februarie op Netwerk24.
Meer oor Op en Af

Wat is Op en Af?

Op en Af  is ’n aanlyn blitsreeks wat deur Via en Netwerk24 vervaardig word en op Netwerk24 uitgesaai word. Netwerk24-intekenare kan tot einde April elke weeksdag na ’n vyf-minute-episode van Op en Af op Netwerk24 kyk.

Hoe werk ’n aanlyn blitsreeks?

Ons reik elke weeksdag een episode om 08:00 op Netwerk24 uit. Maar moenie bekommerd wees as jy dit nie dadelik kan kyk nie! Al die episodes gaan vir ’n onbeperkte tyd op Netwerk24 wees. As jy dus ’n episode misgeloop het, kan jy maklik later die dag, die volgende dag of oor die naweek opvang.

Waaroor gaan Op en Af?

Dit is ’n komedie en volg die lewe van drie paartjies wat in dieselfde woonstelblok in Kaapstad woon. Op die oog af lyk almal baie gelukkig, maar agter toe deure klop al drie paartjies by ’n aanlyn huweliksberader aan.

Wie speel in Op en Af?

Charlton George en Quanita Adams vertolk die rolle van André en Bev Mouton. Hulle is die paartjie wat die langste getroud is. Hulle lyk gelukkig, maar eintlik het Bev ’n geheime lewe waarvan André niks weet nie.

Neels van Jaarsveld en Nadia Valvekens speel die paartjie Frans en Leandé du Plessis. Leandé is ’n ywerige aanlyn vlogger, terwyl Frans baie suksesvol met aandele verhandel. Maar het Leandé net met Frans getrou vir sy geld?

Die laaste paartjie is Charlie en Ilse Daniels, vertolk deur Marlo Minnaar en Nicole Fortuin. Hulle is onlangs getroud en nog baie verlief. Hulle wil swanger raak, maar dit blyk makliker gesê as gedaan te wees.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.