Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
NW24 TV
Neels en Nadia gesels oor 'Op en af'
Nadia Valvekens en Neels van Jaarsveld speel die rolle van Leandé en Frans in Netwerk24 se nuwe aanlyn blitsreeks ‘Op en Af’. Dié reeks begin op 3 Februarie op Netwerk24.

Die akteurs Neels van Jaarsveld en Nadia Valvekens kom al ’n lang pad saam. Aanhangers sal vir Neels as dr. Gideon Basson onthou en vir Nadia as die geliefde Pippa Venter in hul Binnelanders-dae.

Meer onlangs was hulle ook saam op die kassie te sien in Alles Malan en binnekort gaan Netwerk24-intekenare hulle as die paartjie Frans en Leandé du Plessis leer ken. SZ Minnaar het met die twee vermaaklikheidsterre gesels oor hoe dit is om as vriende saam te werk en hul karakters in Op en af.

'n Kaapse draai

Neels en Nadia woon nou ná al die jare net ’n klipgooi van mekaar in die Kaap sedert Nadia Binnelanders in 2019 gegroet het. Dié reeks is in Johannesburg geskiet.

Neels sê dit is lekker om Nadia in die Kaap te hê, maar ongelukkig is hul skedules net te vol om gereeld by mekaar te kan uitkom.

LEES OOK: ‘Ons het verskriklik vir mekaar gelag’

Nadia verduidelik: “Die meeste van my maats is hier en natuurlik het ons almal gedink die oomblik as ek in die Kaap aankom, gaan ons mekaar die heeltyd sien, maar met die wisselvallige ure wat ons werk, is dit amper onmoontlik. Partykeer begin jy vroeë oggende, partykeer werk jy deur die nag en die meeste van die tyd skiet jy op ’n Saterdag wanneer ander mense lekker braai.”

Hulle gesels darem nog gereeld en behou kontak deur WhatsApp.

Bekende gesigte

Neels van Jaarsveld speel die rol van die aandele-ghoeroe, Frans.

Neels sê dit was fantasties om saam met ’n ou vriendin soos Nadia in Op en af te werk. “Sy is altyd voorbereid en bring altyd iets vars en nuut na die tafel.”

Nadia sê die voordeel daarvan om met ’n ou vriend soos Neels te werk, is dat daar dadelik ’n gemaklikheid of ’n gevoel van ons-ken-mekaar is.

“Daar is ’n outomatiese band waaraan ’n mens nie so hard hoef te werk nie. Wanneer jy nog nie saam met mense gewerk het nie, is daar altyd daardie tydjie aan die begin wat mense eers die kat uit die boom kyk om mekaar te leer ken. Dít is uitgeskakel as jy saam met mense werk wat jy reeds ken,” sê sy.

Nadia sê ook dit help veral met liefdesverhoudings soos in Op en af. “Omdat ek en Neels gemaklik met mekaar is, is dit baie makliker om daardie dinamika te vestig, in plaas daarvan dat hy heeltemal onbekend is en dan moet ons êrens mekaar probeer vind om dit geloofwaardig te maak. Dit is net makliker.”

Frans en Leandé

Nadia Valvekens speel die rol van Leandé, ’n mode-vlogger.

In Op en af ontvang Neels en Nadia se karakters, Frans en Leandé, huweliksberading by ’n aanlyn berader.

Neels sê hy het met die skiet van Op en af geleer in verhoudings is dit ontsettend belangrik om na mekaar te luister en dat elke probleem ’n oplossing het. Nadia sê sy het geleer dat almal met dieselfde goed sukkel.

“Party mense gaan dalk meer assosieer met een paartjie as met die ander, maar uiteindelik sukkel ons almal maar met dieselfde goeters. Om mekaar te vind en ’n gesonde verhouding te bou, om gelukkig te wees, ek dink dit is maar die groot ding.”

Nadia meen dít is die een ding wat mooi deurkom in Op en af: “Maak nie saak wie jy is nie: ’n loodgieter of dokter of wat ook al. Wanneer dit by verhoudings kom, is dit harde werk.”

Oor Frans sê Neels hy is ’n “baie aangename karakter” en hy dink Frans en Ilse is albei opregte en eerlike mense. “Dit was ’n voorreg om die karakter te poets en te verfyn. Ek hoop die kykers gaan gereeld vir én saam met hom lag.”

LEES OOK: 'As jy op liefde fokus, kan jy deur die meeste goed kom'

Nadia sê as sy vir Leandé raad kon gee, sou dit wees om te dink voordat sy praat. Nadia skerts dat Leandé geen filters het nie en sê net wat sy wil.

“Vir dié karakter het ek baie navorsing op die web en sosiale media gedoen. Ek het veral gekyk na influencers. Ek het op die internet, veral YouTube, gekyk na ’n groot verskeidenheid mense wat vlog. Leandé is glad nie gegrond op iemand wat ek persoonlik ken nie.”

Oor die skiet van Op en af sê Neels elke dag was ’n hoogtepunt. “Daar is so baie misverstande in die teks en dit was by tye baie moeilik om nie te lag nie.”

  • Op en af begin op 3 Februarie op Netwerk24.

Wat is ‘Op en af’?

Dit is ’n aanlyn blitsreeks wat deur VIA en Netwerk24 vervaardig en op Netwerk24 uitgesaai word. Netwerk24-intekenare kan tot einde April elke weeksdag na ’n vyf-minuut-lange episode van Op en af op Netwerk24 kyk.

Hoe werk ’n aanlyn blitsreeks?

Ons reik elke weeksdag een episode om 08:00 op Netwerk24 uit. Moenie bekommerd wees as jy dit nie dadelik kan kyk nie, al die episodes gaan vir ’n onbeperkte tyd op Netwerk24 wees. As jy dus ’n episode misloop, kan jy maklik later die dag, die volgende dag of oor die naweek opvang.

Waaroor gaan ‘Op en af’?

Dit is ’n komedie en volg die lewe van drie paartjies wat in dieselfde woonstelblok in Kaapstad woon. Op die oog af lyk almal baie gelukkig, maar agter toe deure klop al drie paartjies by ’n aanlyn huweliksberader aan.

Wie speel in ‘Op en af’?

Charlton George en Quanita Adams vertolk die rol van André en Bev Mouton. Hulle is die paartjie wat die langste getroud is. Hulle lyk gelukkig, maar eintlik het Bev ’n geheime lewe waarvan André niks weet nie.

Neels van Jaarsveld en Nadia Valvekens speel die paartjie Frans en Leandé du Plessis. Leandé is ’n ywerige aanlyn vlogger, terwyl Frans baie suksesvol met aandele verhandel. Maar het Leandé net met Frans getrou vir sy geld?

Die laaste paartjie is Charlie en Ilse Daniels, vertolk deur Marlo Minnaar en Nicole Fortuin. Hulle is onlangs getroud en nog baie verlief. Hulle wil swanger raak, maar dit blyk makliker gesê as gedaan te wees.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.