Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
NW24 TV
OP EN AF: Dié blitsreeks gaan jou laat skaterlag
Op en Af
Op en Af gaan jou laat skaterlag! Agter is Charlton George (André) en Marlo Minnaar (Charlie). In die middel is Nicole Fortuin (Ilse), Quanita Adams (Bev). Voor is Nadia Valvekens (Leandé) en Neels van Jaarsveld (Frans).

Oefen solank daardie lagspiere!

Netwerk24 se tweede blitsreeks, Op en Af, gaan ons lesers dik van die lag hê.

“Die reeks is lig en daar is rêrig daarop gefokus om mense te laat lag – vir die karakters én vir hulself,” sê Diaan Lawrensen, wat saam met haar man, Jody Abrahams, in die vervaardigerstoel sit.

“Ons het probeer om dit in ’n vars Suid-Afrikaanse komediestyl te vertel. Die akteurs is fantasties en supersnaaks en ons wil hê die gehoor moet hulle daarmee vereenselwig.”

In Op en Af gaan Netwerk24-intekenare drie getroude paartjies volg wat saam in ’n woonstelkompleks woon. Hulle kom uit verskillende agtergronde en is op verskillende stadiums van hul huwelik. Almal ken mekaar en deel onderling raad, maar dit is meestal onvanpas aangesien dié raad nie eens in hul eie huwelik werk nie.

Die akteurs is fantasties en supersnaaks en ons wil hê die gehoor moet hulle daarmee vereenselwig.

Die paartjies is Frans en Leandé du Plessis (vertolk deur Neels van Jaarsveld en Nadia Valvekens), Charlie en Ilse Daniels (Marlo Minnaar en Nicole Fortuin) en André en Bev Mouton (Charlton George en Quanita Adams). Daar is ook ’n paar eksentrieke karakters wat hul buiging deur die loop van die sepie sal maak. Diaan speel self ook in die reeks. Sy vertolk die rol van Christelle, Bev se beste vriendin.

“Die paartjies se stories word vertel deur hul interaksie met ’n aanlyn huweliksberader. Almal woon in een gebou, maar hulle weet nie dat hulle dieselfde huweliksberader sien nie,” sê Diaan.

LEES OOK: Nóg 'n blitsreeks met nóg meer sterre!

Almal verstaan as daar klein jakkalsies by jou huwelik inkruip, meen Diaan. “Of dit nou ’n vuil koppie, ’n nat handdoek of wat ook al is.”

Klein Jakkalsies is ook die naam van die toneelstuk waarop Op en Af gegrond is en waarin Diaan en Jody ’n paar jaar gelede gespeel het.

Diaan Lawrensen is nie net die vervaardiger van di
Diaan Lawrensen is nie net die vervaardiger van die reeks nie. Sy speel Christelle, Bev se beste vriendin.

Die stuk se skrywer, Leon Kruger, is ook vir die sepie se teks verantwoordelik. “Vir Klein Jakkalsies het ek tussen die verskillende sketse ’n paar videosketse geskiet en dit op ’n projektor gewys. Ons het agtergekom die mense lag amper meer vir die projeksies as vir die lewendige vertoning,” sê Leon.

Hy het toe geweet “hierdie ding het wiele”, maar hulle moes eers wag vir die regte tyd.

“Toe het ons die video’s voorgelê en van daar af het dit ontwikkel.”

Leon sê die reeks is geskryf en geskiet vir mense om hulself daarin te herken.

“Ek het geweldig baie navorsing gaan doen oor paartjies, waaroor mense stry, egskeidings, wanneer mense van bed en tafel geskei is en hoe mense mekaar in die liefde probeer vind. Ek dink mense gaan na die reeks kyk en dink: O ja, daai is ons of dit was al ons.”

Ontmoet die paartjies

1. Frans en Leandé

Frans (Neels van Jaarsveld) en Leandé (Nadia Valve
Frans (Neels van Jaarsveld) en Leandé (Nadia Valvekens).

Frans is ’n aandele-ghoeroe en Leandé was op haar dag ’n gewilde TV-aanbieder, maar vandag is sy ’n ywerige vlogger en doen private stilering uit die huis. Hulle sien reeds die aanlyn terapeut en volgens hulle doen dit wondere vir hul huwelik, tog blyk die teendeel waar te wees. Frans wonder soms of Leandé nie dalk net vir sy geld met hom getrou het nie.

2. Ilse en Charlie

Ilse (Nicole Fortuin) en Charlie (Marlo Minnaar).
Ilse (Nicole Fortuin) en Charlie (Marlo Minnaar).

Ilse en Charlie is jong getroudes en baie verlief, maar sukkel om kinders te kry. Hulle probeer alles op die mark en geleidelik plaas dit baie druk op hul huwelik. Uiteindelik veroorsaak dit dat hul ware kleure begin wys en hulle besluit dan ook om aanlyn berading op die proef te stel. Vir Charlie, ’n introvert en baie private mens, is dit egter senutergend. Verder verkoop Ilse skelm dagga-olie in die kompleks om die pot aan die kook te help hou.

3. André en Bev

Bev (Quanita Adams) en André (Charlton George).
Bev (Quanita Adams) en André (Charlton George).

André en Bev is die paartjie wat die langste getroud is. Hul volwasse kinders is nou uit die huis en hulle sit effe opgeskeep met mekaar. André is ’n prokureur en hoewel niemand weet hoe die dweper dit ooit reggekry het nie, is hy redelik suksesvol. Bev het ’n geheim waarop André dalk nie so goed sal reageer nie, indien hy daarvan uitvind.

  • Op en Af begin op Maandag 3 Februarie op Netwerk24 wys.

Hoe werk ’n aanlyn blitsreeks?

Ons reik elke weeksdag een episode om 08:00 op Netwerk24 uit. Moenie bekommerd wees as jy dit nie dadelik kan kyk nie, al die episodes gaan vir ’n onbeperkte tyd op Netwerk24 wees. As jy dus ’n episode misgeloop het, kan jy maklik later die dag, die volgende dag of oor die naweek opvang.

Kyk nou Die Testament!

Die Testament was verlede jaar die eerste blitsreeks op Netwerk24.

Het jy dit nog nie gekyk nie? Klik hier en begin sommer vandag.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.