Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
NW24 TV
OP EN AF: Marlo en Nicole uiteindelik saam voor die kamera
Ilse (Nicole Fortuin) en Charlie (Marlo Minnaar).
Ilse (Nicole Fortuin) en Charlie (Marlo Minnaar).

Die akteurs Marlo Minnaar en Nicole Fortuin is geensins vreemdelinge vir mekaar nie, tog het hulle nog nooit saam voor die kamera verskyn nie. In Netwerk24 se nuwe blitsreeks Op en af het hulle uiteindelik die kans gekry deur die jong getroude paartjie, Charlie en Ilse Daniels, te speel. SZ Minnaar het met hulle daaroor gesels.

Die eerste keer

Minnaar en Fortuin sê dat hulle al vriende is nog lank voordat daar sprake van Op en af was.

“Ons ken mekaar nou al lank van raakloop, sosiale geleenthede, die bedryf en so,” verduidelik Minnaar.

“Nicole is ’n ongelooflike mens en sy is professioneel en baie toegewyd aan haar werk.”

Op en af bestaan uit 65 episodes en die hele reeks is verlede jaar in net vier weke geskiet. Minnaar sê dit het beteken dat hulle soms tot 17 tonele op ’n dag geskiet het. Hy sê ook Fortuin wou gereeld woorde oefen en “oppit” wees om die tonele “so volmaka as moontlik” te kry.

“Dit spoor jóú dan ook aan om meer te gee.”

Komedie

Marlo Minnaar
Marlo Minnaar vertolk die rol van Charlie Daniels in Netwerk24 se blitsreeks, Op en Af.

Dit is ook die eerste keer dat Minnaar en Fortuin komedie voor die kamera aanpak. Fortuin sê dit het Op en af vir haar soos ’n opwindende uitdaging laat voel om dit saam met Minnaar aan te pak.

“Ek het veilig gevoel om te speel, te leer en kreatief te wees en ons het baie gelag.”

Minnaar sê dit was ’n goeie leerskool en lekker ervaring om so aan die diep kant ingegooi te word.

“Ek was verskriklik bang vir komedie op televisie, want ek het gedink dit is die moeilikste ding om te speel. Jy weet nie noodwendig waar die parameters is nie. Dit kan baie maklik platval of nie snaaks wees nie of jy kan maklik oorspeel.”

Minnaar sê dit het ook baie gehelp om met Liezl Spies (die regisseur) te werk. Sy het glo vir hom gesê: “Gaan net groot en ek sal jou terugtrek en as ek niks sê nie, weet jy jy het goeie werk gedoen.”

Minnaar sê dit het hom net ’n dag gevat om oor die aanvanklike angs te kom, maar toe kom die komedie natuurlik.

Charlie en Ilse

Nicole Fortuin
Nicole Fortuin

Minnaar se karakter Charlie is ’n makelaar en werk op sy skootrekenaar van die huis af. Hy wil Charlie nie as ’n bleeksiel beskryf nie, maar hy sê Charlie is “socially akward”, teruggetrokke en kan baie vinnig deur Ilse of sy vriende omgepraat word.

Oor die ooreenkomste tussen hom en sy karakter, sê Minnaar dat hy soos Charlie baie skrikkerig is om kanse te vat en sal eerder twee keer dink.

“Charlie sal ook alles doen om sy vrou tevrede te stel – nie dat ek op die oomblik ’n vrou het nie,” skerts hy.

“Charlie en Ilse is jonk en ’n goeie voorbeeld van youth is wasted on the young. Ons neig om so baie oor die lewe te stres as jy jonk is om die volmaakte lewe te lei. Leef en laat leef eerder.”

Oor Ilse sê Fortuin: “Ek sal waarskynlik vir Ilse aanmoedig om so eerlik as moontlik te wees oor wie sy vir haarself en haar man is. Sy probeer die heeltyd vir almal jok! Ilse moet haar ook daaraan herinner dat sy liefde waardig is.”

  • Op en af  begin 3 Februarie op Netwerk24.

Wat is Op en af?

Dit is ’n aanlyn blitsreeks wat deur VIA en Netwerk24 vervaardig word en op Netwerk24 uitgesaai word. Netwerk24-intekenare kan tot einde April elke weeksdag na ’n vyf-minuut-episode van Op en af op Netwerk24 kyk.

Hoe werk ’n aanlyn blitsreeks?

Ons reik elke weeksdag een episode om 08:00 op Netwerk24 uit. Moenie bekommerd wees as jy dit nie dadelik kan kyk nie, al die episodes gaan vir ’n onbeperkte tyd op Netwerk24 wees. As jy dus ’n episode misloop, kan jy maklik later die dag, die volgende dag of oor die naweek opvang.

Waaroor gaan Op en af?

Dit is ’n komedie en volg die lewe van drie paartjies wat in dieselfde woonstelblok in Kaapstad woon. Op die oog af lyk almal baie gelukkig, maar agter toe deure klop al drie paartjies by ’n aanlyn huweliksberader aan.

Wie speel in Op en af?

Charlton George en Quanita Adams vertolk die rol van André en Bev Mouton. Hulle is die paartjie wat die langste getroud is. Hulle lyk gelukkig, maar eintlik het Bev ’n geheime lewe waarvan André niks weet nie.

Neels van Jaarsveld en Nadia Valvekens speel die paartjie Frans en Leandé du Plessis. Leandé is ’n ywerige aanlyn vlogger, terwyl Frans baie suksesvol met aandele verhandel. Maar het Leandé net met Frans getrou vir sy geld?

Die laaste paartjie is Charlie en Ilse Daniels, vertolk deur Marlo Minnaar en Nicole Fortuin. Hulle is onlangs getroud en nog baie verlief. Hulle wil swanger raak, maar dit blyk makliker gesê as gedaan te wees.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.