Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
NW24 TV
OP EN AF: 'Nicole Fortuin is geen vreemdeling vir die kollig'
Nicole speel teenoor Marlo Minnaar in Netwerk24 se aanlyn blitsreeks. Hy speel haar man, Charlie.

Aanhangers sal haar binnekort as Ilse in Netwerk24 se blitsreeks Op en Af leer ken, maar Nicole Fortuin is geen vreemdeling vir die kollig nie. SZ Minnaar het haar uitgevra oor wie sy agter die skerms is en wat vir haar op die skerms voorlê.

1. Waar kom jy vandaan?

Ek is in Kaapstad gebore en het my laer- en hoërskooljare in Belhar deurgebring. Sedertdien het ek vir kort tydjies in onder meer die Bo-Kaap, Houtbaai, die Paarl en Johannesburg vir werk gebly.

2. Wanneer het die dramagogga vir die eerste keer gebyt?

Ek het eers in matriek regtig besef dat ek ’n loopbaan kan maak uit al die dinge waarvoor ek lief is, naamlik toneelspel, dans en sang. Hoewel ek op hoërskool drama as vak geneem het, het ek eers regtig besluit om voltyds op te tree nadat ek by die Universiteit van Kaapstad (UK) aanvaar is vir hul teaterprogram. Ek kan onthou ek het so ’n intense drang gehad om op te vang by my portuurgroep en so vinnig as moontlik alles te leer wat ek kan. Ek was toe nog nie eens in een toneelstuk gewees nie en almal rondom my was reeds in hoërskooltoneelstukke. Maar het klaar besluit om ’n loopbaan as akteur te volg.

Nicole Fortuin as Ilse Daniels in Netwerk24 se aanlyn blitsreeks ‘Op en af’.

3. Wat het jy vir blootstelling gedoen om die (dikwels moeilike) bedryf te kan betree?

Toe ek by die UK studeer het, kon ons nie buitewerk doen nie. Toe het ek stilletjies gewerk as ’n ekstra op internasionale rolprentstelle. Dit het my soveel belangrike lesse geleer oor onder meer stel-etiket, stel-jargon en hoe om ’n verhaal op te bou van die crew tot ekstras tot die hoofrolverdeling. Die eerste rolprent waar ek as ’n ekstra gewerk het, was The Giver (met Meryl Streep!), so jy kan jou voorstel hoe geïnspireerd ek was. Ek het ook vir ’n kort tydjie by ’n akteursagentskap gewerk asook in die Fugard-teater as ’n usher. Later het ek in die einste Fugard teenoor Alan Committie gespeel in Oleanna, waarvoor ek verlede jaar vir ’n Fleur du Cap as beste aktrise in ’n toneelstuk benoem is.

4. Jy is veelsydig en benewens toneelspel, kan jy ook sing en dans. Wat geniet jy die meeste en kry jy nog kans om al drie te beoefen?

Ek is mal daaroor om te sing en te dans, maar op die oomblik is toneelspel my grootste liefde. Af en toe plaas ek kort sang- of dansvideo’s op Instagram, maar ek was gelukkig genoeg om die afgelope vyf jaar baie besig as aktrise te wees en sang en dans moet eers wag. Ek wil so graag ’n rol speel wat van my verwag om te sing of dans, dan sal ek ’n rede hê om tyd te maak vir oefen.

5. Vertel ons van jou liefde vir mode en waar dit vandaan kom.

My benadering tot mode is baie soortgelyk aan my benadering tot die aantrek van ’n karakter. Wat ek op ’n gegewe dag aan het, sal baie verklap oor wat ek daardie dag gaan doen. Mode is ’n selfuitdrukking. Ek is mal oor statement pieces, sweetpakke, vintage-klere, deftig aantrek vir geleenthede en om geïnspireer te wees deur verskillende tydperke se modes. Ek was nogal geïnspireer deur Ilse se opgewekte en kleurvolle klerekas in Op en af.

LEES OOK: Neels en Nadia gesels oor Op en Af

6. Ons is mal oor Ilse se blonde hare in ‘Op en af’. Het blondines meer pret?

Dankie, ha-ha! Ek weet nie of hulle meer pret het nie, maar ek kan vir jou sê dat ek nog nooit soveel gelag het vir ’n karakter wat ek speel nie. Ek sou haar oor en oor speel as ek kon. Dit was verfrissend om huis toe te gaan na ’n baie lang dag en te giggel oor iets wat Ilse gesê of gedoen het.

7. Hoe stem jy en Ilse ooreen en wat is jul verskille?

Ons stem nie veel ooreen nie en dankie tog! Ek dink ons albei kan lekker stres en ons albei hou nogal van lang, geverfde naels en pruike. Maar waar Ilse die heeltyd vir almal jok, probeer ek altyd om soveel as moontlik eerlik te wees.

8. Jy het ook al aan heelwat projekte oorsee gewerk. Wat het sover vir jou uitgestaan?

Internasionale werk is vir my ’n herinnering dat alles moontlik is en niks buite jou bereik is nie. Die eerste keer toe ek die Warner Brothers-logo aan die begin van een van my rolprente gesien het, sal my altyd bybly.

LEES OOK: ‘Ons het verskriklik vir mekaar gelag’

9. Beplan jy om nog heelwat projekte oorsee aan te pak? Is jy miskien die volgende Charlize Theron?

Dit sal wonderlik wees. Charlize se werk is betowerend, maar al wat ek kan doen, is om Nicole Fortuin te wees en op die huidige te fokus vir wat my eie reis inhou. Ek het soveel tyd daaraan bestee om my eie beperkings te bowe te kom en skrikwekkende drome na te streef, so ek is ongelooflik opgewonde om te sien waarheen die lewe my volgende gaan lei.

10. Vertel ons meer van die projekte wat vir jou in 2020 voorlê.

Ek speel in die fliek, Flatland, wat in April landwyd by fliekteaters uitgereik word. Dit is ’n Suid-Afrikaanse Western en ek speel ’n hoofrol saam met Izel Bezuidenhout en Faith Baloyi. Dit is geskryf en geregisseer deur die onoortreflike Jenna Bass. 

  • Op en Af  begin 3 Februarie op Netwerk24.

Wat is ‘Op en Af’?

Dit is ’n aanlyn blitsreeks wat deur Via en Netwerk24 vervaardig word en op Netwerk24 uitgesaai word. Netwerk24-intekenare kan tot einde April elke weeksdag na ’n vyf-minuut-episode van ‘Op en Af’ op Netwerk24 kyk.

Hoe werk ’n aanlyn blitsreeks?

Ons reik elke weeksdag een episode om 08:00 op Netwerk24 uit. Moenie bekommerd wees as jy dit nie dadelik kan kyk nie, al die episodes gaan vir ’n onbeperkte tyd op Netwerk24 wees. As jy dus ’n episode misloop, kan jy maklik later die dag, die volgende dag of oor die naweek opvang.

Waaroor gaan ‘Op en Af’?

Dit is ’n komedie en volg die lewe van drie paartjies wat in dieselfde woonstelblok in Kaapstad woon. Op die oog af lyk almal baie gelukkig, maar agter toe deure klop al drie paartjies by ’n aanlyn huweliksberader aan.

Wie speel in ‘Op en Af’?

Charlton George en Quanita Adams vertolk die rol van André en Bev Mouton. Hulle is die paartjie wat die langste getroud is. Hulle lyk gelukkig, maar eintlik het Bev ’n geheime lewe waarvan André niks weet nie.

Neels van Jaarsveld en Nadia Valvekens speel die paartjie Frans en Leandé du Plessis. Leandé is ’n ywerige aanlyn vlogger, terwyl Frans baie suksesvol met aandele verhandel. Maar het Leandé net met Frans getrou vir sy geld?

Die laaste paartjie is Charlie en Ilse Daniels, vertolk deur Marlo Minnaar en Nicole Fortuin. Hulle is onlangs getroud en nog baie verlief. Hulle wil swanger raak, maar dit blyk makliker gesê as gedaan te wees.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.