Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
NW24 TV
OP EN AF: ‘Ons het verskriklik vir mekaar gelag’
Hier is die paartjies van ‘Op en Af’ van links na regs: Nicole Fortuin en Marlo Minnaar (Ilse en Charlie Daniels), Charlton George en Quanita Adams (André en Bev Mouton) en Neels van Jaarsveld en Nadia Valvekens (Frans en Leande du Plessis).

Dit was soms moeilik om nie op stel te begin skaterlag vir die grappies in Netwerk24 se nuwe aanlyn blitsreeks, Op en af, nie.

“Elke oomblik agter die skerms was gevul met effense lawwigheid,” sê Neels van Jaarsveld.

Hy speel die rol van die aandeleghoeroe Frans in dié reeks.

“Met die spoed waarteen ons geskiet het en die uitdagings wat oor ons pad gekom het, kon ’n mens nie anders as lag nie.”

Op en af is in Oktober verlede jaar by die President-hotel in Bantrybaai in Kaapstad geskiet en kan van Maandag 3 Februarie af elke weeksdag op Netwerk24 gekyk word.

Volgens Diaan Lawrenson, vervaardiger van die reeks, het die hotel nader aan die feestyd al hoe besiger geword.

Dit is baie moeilik om nie vir Diaan en Quanita te lag nie.

“Dit was uitdagend, maar ons het dit geweet en hulle was baie tegemoetkomend. Ons alternatief was om in ’n ateljee te skiet, maar dan is jy vasgehok. Die produksie-gehalte is nou net absoluut fantasties, want jy het ’n ongelooflike mooi hotel en dan die Kaap, Tafelberg en die see wat net buite die vensters lê.”

Lawrenson is nie net die vervaardiger saam met haar man, Jody Abrahams, nie, maar speel ook self in die reeks. Sy vertolk die rol van Christelle, Bev (Quanita Adams) se beste vriendin.

LEES OOK: Dié blitsreeks gaan jou laat skaterlag

“Ons het lank gedink oor watter akteurs ons as die karakters in die blitsreeks wou hê. Die meeste van die akteurs het reeds saamgewerk en sommige mense is pelle, soos Neels van Jaarsveld en Nadia Valvekens wat al van Binnelanders se dae af saamwerk.”

Hulle het soms al vroeg in die oggend begin skiet (05:00 was call time!) voordat die hotel te besig raak.

“As die hotel besig geraak het, moes ons skuif. Ons moes baie aanpasbaar wees met die skedule.”

Lawrenson sê sy dink juis dié aanpasbaarheid dra by tot die spontaneïteit van die komedie.

LEES OOK: Diaan: 'As jy op liefde fokus, kan jy deur die meeste goed kom'

“As ’n mens nie te veel tyd het om te dink nie, dóén jy net en dan is dit natuurlik. ’n Mens het nie tyd om dit dink of dit reg of verkeerd is en of dit snaakser kan wees nie.”

Pascual Wakefield, wat die rol van die kelner Boudjies vertolk, sê die snaaksste oomblik vir hom was een spesifieke toneel met Lawrenson en Adams wat hulle omtrent vyf keer moes skiet.

Ons het verskriklik vir mekaar gelag en die crew het baie vir ons gelag, so ek hoop die gehoor ervaar dit ook so.

“Dit is baie moeilik om nie vir Diaan en Quanita te lag nie. Die oomblik as Diaan vir my kyk, het ek histeries begin lag en dan het Quanita histeries begin lag en uiteindelik het ons al drie gelag. En boonop was daar nie baie tyd om ’n toneel omtrent vyf keer oor te kon skiet nie.”

Lawrenson sê die skiet van die reeks was heerlik.

“Ek is mal daaroor om mense te laat lag. Dit is my happy place en dit is lekker om goed bymekaar te sit wat ander mense laat lag. Ons het verskriklik vir mekaar gelag en die crew het baie vir ons gelag, so ek hoop die gehoor ervaar dit ook so.”

Hier is ’n kykie agter die skerms:

View this post on Instagram

Paradise. Seapoint. @thepresidentct #location #rainbow

A post shared by Diaan Lawrenson (@diaanlawrenson) on




  • Op en Af begin op Maandag 3 Februarie op Netwerk24.

Wat is 'Op en af'?

Dit is ’n aanlyn blitsreeks wat deur Via en Netwerk24 vervaardig word en op Netwerk24 uitgesaai word. Netwerk24-intekenare kan tot einde April elke weeksdag na ’n vyf-minuut-episode van Op en af op Netwerk24 kyk.

Hoe werk ’n aanlyn blitsreeks?

Ons reik elke weeksdag een episode om 08:00 op Netwerk24 uit. Moenie bekommerd wees as jy dit nie dadelik kan kyk nie, al die episodes gaan vir ’n onbeperkte tyd op Netwerk24 wees. As jy dus ’n episode misloop, kan jy maklik later die dag, die volgende dag of oor die naweek opvang.

Waaroor gaan 'Op en af'?

Dit is ’n komedie en volg die lewe van drie paartjies wat in dieselfde woonstelblok in Kaapstad woon. Op die oog af lyk almal baie gelukkig, maar agter toe deure klop al drie paartjies by ’n aanlyn huweliksberader aan.

Wie speel in 'Op en af'?

Charlton George en Quanita Adams vertolk die rol van André en Bev Mouton. Hulle is die paartjie wat die langste getroud is. Hulle lyk gelukkig, maar eintlik het Bev ’n geheime lewe waarvan André niks weet nie.

Neels van Jaarsveld en Nadia Valvekens speel die paartjie Frans en Leandé du Plessis. Leandé is ’n ywerige aanlyn vlogger, terwyl Frans baie suksesvol met aandele verhandel. Maar het Leandé net met Frans getrou vir sy geld?

Die laaste paartjie is Charlie en Ilse Daniels, vertolk deur Marlo Minnaar en Nicole Fortuin. Hulle is onlangs getroud en nog baie verlief. Hulle wil swanger raak, maar dit blyk makliker gesê as gedaan te wees.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.