Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
NW24 TV
'Op en af': Ontmoet die regisseur
Liezl Spies, regisseur van Op en Af.
Liezl Spies, regisseur van Op en Af.

Dit is die eerste keer wat Liezl Spies aan die stuur van ’n blitsreeks is, maar hopelik nie die laaste keer nie, want dié formaat het potensiaal, sê sy. SZ Minnaar het haar uitgevra oor haar ervarings in die regisseurstoel van Op en af.

1. In vergelyking met jou vorige projekte, hoe was dit om in blitsreeks-formaat te skiet?

Dit was ’n eerste keer vir my, maar ’n wonderlike ervaring. Dit het ’n rukkie gevat om aan gewoond te raak, maar toe ons eers die ritme kry, was dit baie lekker.

2. Wat dink jy is die potensiaal van hierdie formaat met stromingsdienste en aanlyn vermaak wat al hoe prominenter raak?

Ek dink die potensiaal is definitief daar. Veral omdat die gehoor nou daaraan gewoond is om enige mediaformaat aanlyn te kan stroom. Wat hierdie reeks lekker maak, is dat episodes net vyf minute lank is en daagliks gestroom kan word.

3. Diaan Lawrenson, een van die vervaardigers, het gesê 'Op en af' sou seker ook in ’n drama-genre vertel kon word, maar julle het ’n vars Suid-Afrikaanse komediestyl gekies. Hoekom is komedie die geskikte keuse en wat is die uitdagings van geslaagde komedie?

Komedie se geheim is alles in die ritme. Ons het besluit op ’n lekker vinnige skietstyl sodat die dialoog op skerm aangehelp word. Hoekom ons eerder op ’n komiese aanslag besluit het, is dat dit lig en vinnig is en dat ’n mens moet lag vir al die dinge wat soms verkeerd loop in jou lewe. Ons trotseer genoeg drama in ons daaglikse lewe.

4. Wat is jou inspirasie as regisseur?

My inspirasie was nog altyd die talent of akteurs wat die dialoog lewe gee en goeie tekste. My “artistic vision” kom sodra ek die tekste lees. Dit is dan ’n wonderlike gevoel om alles in my kop te sien afspeel.

LEES OOK: Ontmoet die skrywer van 'Op en af'

5. Vir Op en af het julle by ’n hotel in Kaapstad geskiet terwyl dit ook oop was vir gaste. Vertel meer van daardie ervaring.

Dit was by tye baie moeilik. Ons het ’n ongelooflik-gelaaide skietskedule gehad en ons kon nie sekere dele van die hotel afsluit nie, so die gaste het gekom en gegaan soos hulle wil. Maar andersins is dit ’n pragtige ligging.

6. Wat was die dinamika op stel en hoe het almal oor die weg gekom?

Dit was ’n ongelooflike crew en cast. Ons was soos een groot, mal familie. En ons het bitter baie gelag!

7. Sonder om te veel te verklap, waarna kan mense uitsien in Op en af?

Die doen en late van drie getroude paartjies, ’n huweliksberader, ’n vriendin en ’n veiligheidswag. Almal bly in dieselfde woonstelblok en hul lewe spoel oormekaar met baie intriges en verrassings.

8. Wie is jou gunstelingkarakter? Hoekom?

Dit is vir my baie moeilik om te kies. Almal het op ’n ander manier in my hart gekruip.

9. Wie is die karakter in Op en af waarmee jy die minste vereenselwig? Hoekom?

Dit moet seker maar Frans (vertolk deur Neels van Jaarsveld) wees. Ek het sy karakter baie geniet omdat hy ’n baie eenvoudige uitkyk op die lewe het. Hy verstaan nie komplikasies nie en vermy dit sover hy kan.

LEES OOK: Neels en Nadia gesels oor Op en af

10. Hou jy nog ’n paar idees vir ’n tweede seisoen of wat is die moontlikheid dat daar ’n tweede seisoen gaan wees?

Ek hou altyd duimvas vir ’n opvolgreeks. Veral omdat ons almal so lekker saam gewerk het en ek dink regtig die gehoor gaan aanklank vind by al die karakters. Ek is ook oortuig daarvan dat Leon Kruger (Op en af se skrywer) nog baie idees het waarmee ons kan werk.

  • Op en af  begin op 3 Februarie op Netwerk24.

Wat is Op en af?

Op en af is ’n aanlyn blitsreeks wat deur VIA en Netwerk24 vervaardig word en op Netwerk24 uitgesaai word. Netwerk24-intekenare kan tot einde April elke weeksdag na ’n vyf-minuut-episode van Op en af op Netwerk24 kyk.

Hoe werk ’n aanlyn blitsreeks?

Ons reik elke weeksdag een episode om 08:00 op Netwerk24 uit. Moenie bekommerd wees as jy dit nie dadelik kan kyk nie, al die episodes gaan vir ’n onbeperkte tyd op Netwerk24 wees. As jy dus ’n episode misgeloop het, kan jy maklik later die dag, die volgende dag of oor die naweek opvang.

Waaroor gaan dit?

Dit is ’n komedie en volg die lewe van drie paartjies wat in dieselfde woonstelblok in Kaapstad woon. Op die oog af lyk almal baie gelukkig, maar agter toe deure klop al drie paartjies by ’n aanlyn huweliksberader aan.

Wie speel in die reeks?

Charlton George en Quanita Adams vertolk die rolle van André en Bev Mouton. Hulle is die paartjie wat die langste getroud is. Hulle lyk gelukkig, maar eintlik het Bev ’n geheime lewe waarvan André niks weet nie.

Neels van Jaarsveld en Nadia Valvekens speel die paartjie Frans en Leandé du Plessis. Leandé is ’n ywerige aanlyn vlogger, terwyl Frans baie suksesvol met aandele verhandel. Maar het Leandé net met Frans getrou vir sy geld?

Die laaste paartjie is Charlie en Ilse Daniels, vertolk deur Marlo Minnaar en Nicole Fortuin. Hulle is onlangs getroud en nog baie verlief. Hulle wil swanger raak, maar dit blyk makliker gesê as gedaan te wees.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.