Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
NW24 TV
OP EN AF: Ontmoet die skrywer
Leon Kruger
Leon Kruger en sy vrou, Frieda van den Heever, saam met hulle seuntjies Daniel (links) en Sebastian (regs).

Netwerk24 se splinternuwe blitsreeks, Op en af, kom uit die pen van die gesoute skrywer en dramaturg, Leon Kruger. SZ Minnaar het met hom gesels.

1. Op en af is ’n verwerking en verlenging van jou toneelstuk 'Klein jakkalsies'. Wat was vir jou die grootse uitdagings om dit van die verhoog af vir die kleinskerm te vertaal?

Dit was nie so ’n groot uitdaging nie. Ek was gelukkig genoeg om ongelooflik baie materiaal vir Klein jakkalsies te hê. Vir die verhoog kon ons net 70 minute se materiaal gebruik en toe ek begin skryf aan die blitsreeks was die deurlopende storielyne en narratief lieflike elemente wat my gehelp het om die karakters se stories organies in ’n rigting te stuur.

2. Wat is die belangrikste elemente wat jy van die verhoogstuk wou hou en wat het verander of heeltemal in die slag gebly?

Die belangrikste elemente wat ek wou behou, was die karakters se menslikheid. Die kyker moet hulle met hulle kan vereenselwig. Wat ook vir my belangrik was, is dat die komedie nooit laf of slapstick word nie. Dit moet subtiel en genuanseerd wees. Op die verhoog is die akteurs genoop om groter te speel, maar vir die kamera kon ons alles kleiner en meer gedetailleerd maak en dit is iets waarvan ek baie gehou het.

LEES OOK: Dié blitsreeks gaan jou laat skaterlag

3. Jy het al vir verskillende mediums geskryf. Wat geniet jy van die blitsreeks-formaat en wat dink jy is hierdie formaat se potensiaal?

Uit die aard van die saak is dit ’n totale nuwe medium, maar tog is daar sekere elemente (soos struktuur, styl en ritme) wat nooit sal verander nie. Die groot verskil is, ek het nie 22 minute per episode nie, wat my dwing om baie meer selektief met die teks om te gaan. In baie gevalle moes ek ’n mate van dialoog-armoede inspan om die storie te vertel. Weens ons gejaagde lewe, ons verknogtheid aan skerms en die feit dat daar so baie dinge in die lewe is wat daagliks ons aandag vereis, vermoed ek die blitsreeks het ongelooflik baie potensiaal. Dit bied aan mense die geleentheid om elke dag, net vir vyf minute terug te sit en lekker te lag – en dit is nodig!

Hier is die paartjies van ‘Op en Af’ van links na regs: Nicole Fortuin en Marlo Minnaar (Ilse en Charlie Daniels), Charlton George en Quanita Adams (André en Bev Mouton) en Neels van Jaarsveld en Nadia Valvekens (Frans en Leande du Plessis).

4. Tekste word per definisie geskryf om opgevoer te word. Wat gaan deur jou kop wanneer jy na die voltooide produk kyk en sien hoe die akteurs en regisseurs jou teks en karakters interpreteer?

Dis ’n moeilike een. Uit die aard van die saak gaan die voltooide produk nooit lyk soos ek dit in my geestesoog gesien het nie, maar ek het lankal vrede daarmee gemaak. En dit is hoe dit moet wees. Die teks is die fondament van die produk en die akteurs en regisseurs is daar om die mure en dak op te sit. Dit is vir my belangrik dat almal betrokke nooit vergeet ons staan in diens van die produk en nie andersom nie. Wat baie lekker is, is wanneer die akteurs of regisseurs my verras en iets doen waaraan ek nooit gedink het nie. Dit alles is bydraend om die produk uiteindelik beter te maak.

LEES OOK: Diaan: 'As jy op liefde fokus, kan jy deur die meeste goed kom'

5. Wag jy vir die muse om jou te besoek of het jy ’n streng(erige) skryfroetine?

Ek het ’n baie streng skryfroetine. Ongeag of ek besig is met ’n projek wat ’n spertyd het en of ek nuwe projekte ontwikkel, ek skryf elke oggend vir minstens vyf uur.

6. Op en af is ’n komedie. Is dit soms vir jou moeilik om komedie te skryf of kom dit sommer vanself?

Ek het jare gelede begin as komedieskrywer. Daar was baie verhoogstukke wat in die beginjare uitsluitlik op komedie gefokus het. Toe skryf ek twee reekse van Oupa en ouma en later Treknet. Die dramas het eers later begin. Hoewel ek nooit sal kan kies tussen komedie en drama nie, voel ek komedie is tog meer uitdagend. Omdat mense se sin vir humor verskil, leen komedie hom maklik tot kritiek.

Anders gestel, my twee gunsteling-komediereekse tot nog toe, Curb Your Enthusiasm en Arrested Development, het skaars kykergetalle in Suid-Afrika gekry. Ek het lankal vrede gemaak dat nie almal vir my sin vir humor gaan lag nie. Al wat ek weet, is ek moet net altyd uit ’n plek van eerlikheid skryf, dan is ek gemaklik om die produk die wêreld in te stuur.

7. In Op en af kom daar ook heelwat ernstige temas aan die bod. Hoe hoop jy word die blitsreeks ontvang by mense wat soortgelyke situasies ervaar, soos byvoorbeeld huweliksberading?

My navorsing het gewys huweliksberading is lankal nie meer die stiefkind (wat nie eens mooi aangetrek kan word) nie. Die lewe is moeilik. Ons is gejaag, die ure in ’n dag is te min, die tyd beperk vir stilsit en besin. Paartjies se oorvol dagboeke laat hulle nie die tyd toe om by mekaar te sit en net te gesels nie. Alles word bespreek: date nights word gebruik om seker te maak die swemskool en karateklub se geld is betaal. Komedie kan slegs laat gebeur uit ernstige, gewigtige temas en dit is slegs snaaks die oomblik wanneer ons besef ons hoef nie onsself so ernstig op te neem nie.

LEE S OOK: Wanneer het ’n paartjie hulp nodig?

8. Wie is jou gunstelingkarakter in Op en af? Hoekom?

Tot my familie (veral my vrou) se nadeel en oë-sak-na-benede-skaamte, is ek uit en uit die manlike weergawe van Christelle (Bev se beste vriendin). Die filter tussen my gedagtes en dit wat soms by my mond uitvlieg, is in China gemaak en die wag voor my mond het al in 1998 afgetree.

LEES OOK: ‘Ons het verskriklik vir mekaar gelag’

9. Wie is die karakter in Op en af met wie jy jou die minste vereenselwig? Hoekom?

Seker Frans. Hoewel ek baie van hom hou, verskil ons heelwat. Ek dra my hart op my mou, leef op instink en is geweldig emosioneel. Hy daarenteen is baie meer ingetoë en dit is iets wat ek by hom kan leer.

10. Waaraan werk jy nou of wat kan aanhangers volgende uit jou pen verwag?

Daar is gelukkig heelwat pyle in die koker, maar ongelukkig kan ek in hierdie stadium nie veel oor enige van die projekte uitwei nie. Daar is egter nog so baie wat ek wil skryf en nuwe genres wat ek wil probeer, so dit is altyd opwindend en elke dag wat ek voor die rekenaar inskuif, besef ek opnuut watter voorreg dit is.

  • Op en af  begin op Maandag 3 Februarie op Netwerk24.

Wat is 'Op en af'?

Op en af is ’n aanlyn blitsreeks wat deur Via en Netwerk24 vervaardig word en op Netwerk24 uitgesaai word. Netwerk24-intekenare kan tot einde April elke weeksdag na ’n vyf-minuut-episode van Op en af op Netwerk24 kyk.

Hoe werk ’n aanlyn blitsreeks?

Ons reik elke weeksdag een episode om 08:00 op Netwerk24 uit. Moenie bekommerd wees as jy dit nie dadelik kan kyk nie, al die episodes gaan vir ’n onbeperkte tyd op Netwerk24 wees. As jy dus ’n episode misgeloop het, kan jy maklik later die dag, die volgende dag of oor die naweek opvang.

Waaroor gaan dit?

Dit is ’n komedie en volg die lewe van drie paartjies wat in dieselfde woonstelblok in Kaapstad woon. Op die oog af lyk almal baie gelukkig, maar agter toe deure klop al drie paartjies by ’n aanlyn huweliksberader aan.

Wie speel in die reeks?

Charlton George en Quanita Adams vertolk die rolle van André en Bev Mouton. Hulle is die paartjie wat die langste getroud is. Hulle lyk gelukkig, maar eintlik het Bev ’n geheime lewe waarvan André niks weet nie.

Neels van Jaarsveld en Nadia Valvekens speel die paartjie Frans en Leandé du Plessis. Leandé is ’n ywerige aanlyn vlogger, terwyl Frans baie suksesvol met aandele verhandel. Maar het Leandé net met Frans getrou vir sy geld?

Die laaste paartjie is Charlie en Ilse Daniels, vertolk deur Marlo Minnaar en Nicole Fortuin. Hulle is onlangs getroud en nog baie verlief. Hulle wil swanger raak, maar dit blyk makliker gesê as gedaan te wees.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.