Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
NW24 TV
OP EN AF: Wanneer het ’n paartjie hulp nodig?
Op en Af
Die paartjies van Netwerk24 se nuwe blitsreeks, Op en Af, weet al te goed dis nie altyd maklik om getroud te wees nie. Van links na regs: Nicole Fortuin en Marlo Minnaar as Ilse en Charlie, Charlton George en Quanita Adams as André en Bev, en Neels van Jaarsveld en Nadia Valvekens as Frans en Leandé.

Dis nie altyd maklik om getroud te wees nie.

Die drie paartjies in Netwerk24 se nuwe blitsreeks, Op en Af, weet dít al te goed. Hulle almal klop tydens die reeks by ’n aanlyn berader aan om hulp.

Hoe weet ’n mens dis die regte tyd om aan te klop by ’n verhoudingsberader?

SZ Minnaar het gaan uitvind.

Wat is die tekens?

Anri van den Berg, ’n verhoudingsberader van die V
Anri van den Berg, ’n verhoudingsberader van die Vita Nova-beradingsentrum in Pretoria.

Anri van den Berg, ’n verhoudingsberader van die Vita Nova-beradingsentrum in Pretoria, sê een van die tekens is wanneer dit voel asof jy en jou maat uitmekaar dryf.

“Dit voel asof julle nie meer dieselfde belangstellings het nie, asof daar min goed is wat julle saam hou. Wanneer jy agterkom dít gebeur, is dit belangrik om werk te maak om weer bymekaar uit te kom. Wanneer daardie proses moeilik is, is dit waardevol om by ’n berader uit te kom.”

Prof. Gertie Pretorius, ’n voorligtingsielkundige in ’n private praktyk en besoekende professor aan die Universiteit van Johannesburg, sê ander tekens sluit in verskille in waardestelsels, buite-egtelike verhoudings, enige vorm van mishandeling en veral ook gebrekkige kommunikasie.

Swak kommunikasie is soms die gevolg van ’n ontbrekende emosionele woordeskat, sê Pretorius.

“Ons leer kinders byvoorbeeld van ’n jong ouderdom af om kleure soos rooi en groen te identifiseer, maar ons leer hulle nie ‘jy voel kwaad’ of ‘jy is teleurgesteld’ nie. Mense kan soms nie ’n gevoel identifiseer soos wat hulle byvoorbeeld kleure kan identifiseer nie.”

Jy wil vir berading gaan, maar jou lewensmaat nie

Prof. Gertie Pretorius, ’n voorligtingsielkundige in ’n private praktyk en besoekende professor aan die Universiteit van Johannesburg.

Pretorius sê dit is algemeen dat een maat kom vir berading en sê “hierdie is my probleem, maar my maat wil nie kom nie”.

“Dan help ’n mens die individu om die beste te maak van sy/haar situasie. Dit is natuurlik ideaal om saam met die paartjie te werk, maar jy kan geweldig baie genesing fasiliteer deur net een van die persone te sien,” sê sy.

Van den Berg stel egter voor om nie ’n berader alleen te gaan sien en eers daarna jou maat te probeer saamsleep nie. “Die persoon kan dalk voel dat die berader die een kant gehoor het en daarom die een kant kies. Dit is nie die geval nie.”

Van den Berg stel voor om ’n versoek op die tafel te sit. “Nooi jou lewensmaat uit om saam te gaan.”

Die oomblik dat dit as ’n dreigement of ultimatum gestel word, kan jou lewensmaat hardkoppig raak. “Dit is belangrik om saam met jou lewensmaat te belê in die proses. Gee vir jou lewensmaat die keuse om saam met jou die persoon te kies en saam die eerste afspraak by te woon sodat dit op gelyke voet begin.”

Is dit ooit te laat vir berading?

Van den Berg sê die berader kan nie werk met iemand wat nie daar wil wees nie en dit is klaar te laat wanneer een lewensmaat reeds besluit het om finaal die verhouding te verbreek.

LEES OOK: OP EN AF: Dié blitsreeks gaan jou laat skaterlag

Pretorius sê wel “wonderwerke” gebeur soms en dit is nooit te laat vir berading nie, afhangende van wat die paartjie se doelstellings is. “Daar is nie ’n one size fits all nie. Dit is meer kompleks as dit en dit is eintlik nooit te laat vir berading nie.”

Wanneer werk berading nie?

Op en Af
Die vroue in Op en Af: Ilse (Nicole Fortuin), Bev (Quanita Adams) en Leandé (Nadia Valvekens).

Van den Berg sê paartjies wat dink verhoudingsberading is ’n vinnige en maklike manier om groot veranderinge te maak, verbrand dikwels hul vingers.

Een van die vrae wat sy gereeld kry, is hoeveel huwelike sy al gered het. “Ek red geen huwelik nie, ek kan nie. ’n Berader gaan nie jou huwelik vir jou red nie. ’n Berader kan verandering vir jou fasiliteer, maar die regte werk moet deur die paartjie gedoen word. Party mense kom vir berading net om hul gewete te sus, om net te kan sê hulle was vir berading, maar dit het nie gewerk nie.”

LEES OOK: OP EN AF: ‘Ons het verskriklik vir mekaar gelag’

Sy voeg by: “Vir iemand wat nie bereid is om iets te kom leer wat hulle kan gaan toepas en bereid is om werk te gaan insit nie, gaan berading nie werk nie. Dis soos enige resepteboek. As jy nie die resep lees, bestanddele gaan koop en dit voorberei soos wat dit voorberei moet word nie, gaan dit aan jou geen verskil maak nie,” sê sy.

Die rol van die internet en sosiale media

Op en Af
Die mans in Op en Af: André (Charlton George), Frans (Neels van Jaarsveld) en Charlie (Marlo Minnaar).

Die internet en sosiale media het ’n beduidende impak op hedendaagse verhoudings. Pretorius, wat al 38 jaar praktiseer, sê dit het nie bestaan aan die begin van haar loopbaan nie. Sy sien watter rol dit die afgelope paar jaar in die vernietiging van verhoudings speel, veral wat betref vertroue en buite-egtelike verhoudings.

“Buite-egtelike verhoudings was nog altyd daar, maar dit het deesdae ander dimensies bygekry,” sê sy.

LEES OOK: Diaan: 'As jy op liefde fokus, kan jy deur die meeste goed kom'

Maar die internet en sosiale media het ook ’n positiewe rol te speel in die herstel van verhoudings, soos met aanlyn berading. Juis daarom het Leon Kruger, skrywer van Op en Af, besluit om die karakters oor hul rekenaars met die berader te laat praat. Hy sê dit is vir hom ’n interessante konsep om te sien hoe mense reageer as daar nie fisiek ’n berader teenwoordig is tydens die berading nie.

  • Op en Af begin op Maandag 3 Februarie op Netwerk24.

Wat is Op en Af?

Op en Af  is ’n aanlyn blitsreeks wat deur VIA en Netwerk24 vervaardig word en op Netwerk24 uitgesaai word. Netwerk24-intekenare kan tot einde April elke weeksdag na ’n vyf-minute-episode van Op en Af  op Netwerk24 kyk.

Hoe werk ’n aanlyn blitsreeks?

Ons reik elke weeksdag een episode om 08:00 op Netwerk24 uit. Maar moenie bekommerd wees as jy dit nie dadelik kan kyk nie! Al die episodes gaan vir ’n onbeperkte tyd op Netwerk24 wees. As jy dus ’n episode gemis het, kan jy maklik later die dag, die volgende dag of oor die naweek opvang.

Waaroor gaan Op en Af?

Dit is ’n komedie en volg die lewe van drie paartjies wat in dieselfde woonstelblok in Kaapstad woon. Op die oog af lyk almal baie gelukkig, maar agter toe deure klop al drie paartjies by ’n aanlyn huweliksberader aan.

Wie speel in Op en Af?

Charlton George en Quanita Adams vertolk die rolle van André en Bev Mouton. Hulle is die paartjie wat die langste getroud is. Hulle lyk gelukkig, maar eintlik het Bev ’n geheime lewe waarvan André niks weet nie.

Neels van Jaarsveld en Nadia Valvekens speel die paartjie Frans en Leande du Plessis. Leande is ’n ywerige aanlyn vlogger, terwyl Frans baie suksesvol met aandele speel. Maar het Leande net met Frans getrou vir sy geld?

Die laaste paartjie is Charlie en Ilse Daniels, vertolk deur Marlo Minnaar en Nicole Fortuin. Hulle is onlangs getroud en nog baie verlief. Hulle besluit om swanger te raak, maar dit blyk makliker gesê as gedaan.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.