Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
30 jaar ná die Westdene-busramp: ‘Dit is elke jaar moeilik’
‘Ek het my familie by my graf sien staan’
Die Westdenedam 30 jaar ná die busramp. Foto’s: Cornél van Heerden
Elize Venter (44) het die Westdene Busramp in 1985 oorleef.
Die gedenksteen by die dam.
Die bus destyds in die dam. Foto: Argief
’n Werker trek onkruid by die slagoffers se grafte in die Wespark-begraafplaas uit.

‘Ek kan nie mense om my onthou nie. Ek onthou staal. Ek onthou die bankies van die bus. Ek het begin water sluk en my familie by my graf sien staan.”

So beskryf Elize Venter (44) die dag 30 jaar gelede toe sy en medeleerlinge aan die Hoërskool Vorentoe in Johannesburg in die skoolbus in die koue water van die Westdenedam geval het.

Venter was 14 jaar oud en in st. 8 (nou gr. 10).

Die tragedie, wat die hele land destyds geruk het, het skaars ’n kilometer van haar ouerhuis afgespeel.

Vandag is sy self ’n ma.

Die trane is vlak wanneer sy praat oor die dag toe 42 van haar skoolmaats dood is.

Sy kon eers sowat vyf jaar gelede werklik oor 27 Maart 1985 praat.

Lees ook: 

Uit die argief: Die Westdene-busramp 30 jaar later

Lesers herleef Westdene-busramp: 'Ek onthou die bloedstollende gil'

Westdene-busramp: ’n Mens kan nooit weer dieselfde wees nie, sê prof. Nelus Niemandt

Daardie dag, wat sy steeds in die fynste besonderhede onthou, het sy haar beste vriendin,

Belinda McLaughlin, gegroet en bo in die dubbeldekkerbus gaan sit.

Later die middag het sy van hoësorgsaal na hoësorgsaal gehardloop om Belinda en hul maat Betsie Pretorius te probeer opspoor.

Albei is in die ramp dood.

Sy en ’n medeleerling, John Gordon, wat haar gered het, het met die leerlinge agter hulle gesit en gesels toe sy gille hoor.

“Toe ons vorentoe kyk, het die kinders opgespring en geskree.”

Die bus was in die lug. Kinders het vorentoe geval en sy het besef sy moet by die deur uitkom.

“Toe het daar ’n golf water opgekom.”

Die water het die kinders teruggedruk.

Sy het vir dié agter in die bus geskree hulle moet die noodruite uitstamp. Hulle kon dit nie regkry nie.

“Dit was baie, baie vinnig, toe is ons onderwater.”

Jy het half jou asem opgehou, onthou sy. Sy het gesoek na lugholtes teen die dak, maar kon niks kry nie.

Dit is toe dat sy in haar geestesoog haar ouers en haar broers en susters by haar graf sien staan.

In die duisternis van die water het sy ’n ligter deel in die bus gesien en daarheen beweeg. Sy kon halflyf by die bus se venster uitkom voordat haar heupbene vasgehaak en sy haar bewussyn begin verloor het.

Die laaste wat sy onthou, is dat iemand haar by die bus uittrek en die resussitasie wat daarop gevolg het. Sy het gevra hulle moet ophou, want dit het seergemaak.

Sy het van die bus se dak af damwal toe gekyk en “histeriese” ouers gesien.

“Toe het ek vir myself gesê vandag gaan almal nie hier wegloop nie.”

Hulle het haar gehelp om na die damwal te swem waar hulle met ’n graaf uit die dam gelig is. Haar sleutelbeen was gebreek.

“Hulle het my iewers neergesit, maar dit was langs van die lyke wat toegegooi was met kombersies. Al wat jy kon sien, was die skoentjies.

“Een van die brandweermanne het my kom skuif.”

Die oomblik toe haar ma en ander gesinslede by die hospitaal ingestap het, was “baie traumaties”.

“Ek het gedink ek gaan hulle nie weer sien nie.”

Waar sy in die J.G. Strijdom-hospitaal (nou Helen Joseph)

gelê het, kon hulle oor die dam uitkyk en sien hoe daar gesukkel word om die bus uit die water te kry.

Sy het die Vrydag ná die ramp, nadat ’n foto van haar geneem is vir ’n onderhoud met Sunday Times, inmekaargestort.

Sy wou nie vir die foto glimlag nie.

Dit is elke jaar moeilik.

Ná die massabegrafnis was dit vakansie. Van daar af kan sy nie veel meer van haar skoolloopbaan onthou nie, behalwe dat sy toe nooit werklik weer vriende ingelaat het nie.

Haar pa is 11 maande ná die ongeluk oorlede.

Sedertdien sukkel sy met depressie. Eers noudat sy in die 40’s is, het sy meer vrede.

“Ons het nooit as ’n skool daaroor gepraat nie. Ek onthou net die stoele wat leeg was.”

Haar gestorwe klasmaats se sitplekke is leeg gelaat.

Nadat sy jare lank geworstel het oor hoekom sy nie ook dood is nie, glo sy dis belangrik om jouself nie daaroor te verwyt nie.

“Dit is elke jaar moeilik.”

Die afgelope vyf jaar is sy aktief betrokke by die webwerf wat oor die ramp geskep is en sy het gehelp met die reëlings vir die gedenkdiens wat Saterdag by die Wespark-begraafplaas plaasvind. Sy werk ook aan ’n projek om die grafte te restoureer, want dit is ’n paar jaar gelede gevandaliseer.

“Ek was seker so twee jaar gelede vir die eerste keer weer by die dam.”

Ná die ongeluk het sy op die brug oor die dam huis toe ge-stap, want sy het geweier om weer bus te ry.

Sy besoek die grafte deesdae meer.

“Die realiteit en die hartseer lê daar vir my.”

Die ramp is nie iets wat sy kan agterlaat nie.

Sy het dit vir ’n oomblik oorweeg om nie weer iets oor die ramp te reël nie, maar toe besef: “Ek kan nie my rug draai op hierdie storie nie, ek kan nie my rug draai en wegloop van hulle (die slagoffers en dié wat daardeur geraak is) af nie . . . Ek sal net nooit kan nie.

“Mense sê vir jou: ‘Is dit nie tyd dat jy oor dit is nie?’ Maar jy kan nie. Jy kan nie oor dit wees nie. Ek kan vrede maak met sekere dinge in my lewe, maar ek kan nie my rug draai op hulle nie.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.