Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
486 uit myn gered: Ons was nie bang nie
Van die myners wat gered is op pad na ’n kliniek by die Kusasa­lethu-myn naby Carletonville. Foto: Felix Dlangamandla

“Ons was nie so bang nie, want ’n klomp gevaarlike goed gebeur hier.”

So het Obed Mthembu, een van die 486 mynwerkers wat Sondag uit Harmony se Kusasa­lethu-myn naby Carletonville gered is, gesê.

Die mynwerkers was sowat 10 uur lank vasgekeer weens ’n verwoestende brand sowat 2,3 km ondergronds.

Die brand het ontstaan tydens instandhoudingswerk aan ’n grootmaat-lugverkoeler, het Harmony gesê.

Ondergrondse noodskuilings wat toegerus is met suurstof, water en ondergrondse telefoonlyne het ’n deurslaggewende rol gespeel om lewensverlies te voorkom.

“Ons het geweet ons gaan uitkom omdat ons plekke het om te skuil,” het Mthembu gesê.

Spesiale noodspanne is ontplooi nadat die brand Sondag omstreeks 09:40 op vlak 75 uitgebreek het. Ses reddingspanne van naburige myne is ook ingeroep. Teen druktyd het die brand nog gewoed.

Die 486 mynwerkers is onder vlak 75 vasgekeer.

Teen 21:00 is almal veilig na die oppervlak gebring.

Kusasalethu is Harmony se mees belowende myn waarin hy enorme bedrae belê het om nuwe werkfronte te ontwikkel, maar die myn het die afgelope twee jaar erg onder arbeidsonrus deurgeloop.

Dit is die eerste groot goudmyn waar die vakbond Amcu die ANC-geaffilieerde NUM twee jaar gelede as verteenwoordigende vakbond onttroon het.

Mynwerkers het in November en Desember 2014 ’n onbeskermde staking ondergronds gehou en die myngange beset, waarna Harmony die myn ses maande gesluit het.

Alle mynbedrywighede is opgeskort.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.