Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘7de Laan’ dalk ‘7th Avenue’
Vrae oor waarom swart akteurs Afrikaans praat in sepie
Die gevoel was dat ons swart en bruin kykers se belange en belangstellings beter sou kon weerspieël as daar groter bruin en swart verteenwoordiging in ons kreatiewe span is.

Kykers van 7de Laan kan binnekort meer Engels en inheemse Afrika-tale in hul sepie verwag.

Rapport verneem die SAUK verwag dat die Afrikaanse dialoog tot 80% van die program gesny word en Engels en inheemse tale tot 20% van die totaal vermeerder word. Ongeveer 90% van die dialoog is nou in Afrikaans.

Danie Odendaal Produksies, die vervaardiger, sal gereeld die taal-verdeling aan die SAUK stuur om te monitor. Boonop is daar glo hierdie maand by die onderhandelingsproses met die SAUK oor ’n nuwe seisoen, gevra waarom die swart akteurs Afrikaans praat in die sepie. Sommiges het gemeen dis onredelik om van dié akteurs te verwag om Afrikaanse dialoog te leer, dat dit onnodig en selfs “onnatuurlik” is.

Vir dié seisoen, waarvan die verfilming die afgelope week begin het, is daar ’n nuwe opdraggewende regisseur deur die SAUK aangestel. Sy is in haar 20’s. By vanjaar se onderhandelinge is die gevoel uitgespreek dat die Laan nie bygebly het met die veranderings in die Suid-Afrikaanse gemeenskap nie, het Danie Odendaal aan Huisgenoot gesê.

“Die gevoel was dat ons swart en bruin kykers se belange en belangstellings beter sou kon weerspieël as daar groter bruin en swart verteenwoordiging in ons kreatiewe span is.”

Rapport verneem die nuwe swart ­lede van die span is nog nie aangestel nie en werkers by Danie Odendaal Produksies weet nog nie wat hul insette gaan behels nie. Bestaande wit skrywers en regisseurs se werkkwotas (en inkomste) word verminder vir die beplande aanpassings.

Daar word ook beplan om ’n swart konsultant aan te stel met die doel om die storielyn meer “kleurloos” te maak.

Die woord “kleurloos” gons behoorlik in die gange van die produksiehuis.

“Ons almal probeer nog uitvind wat dit beteken,” het ’n spanlid gesê.

Gevra of 7de Laan in ’n blik gedruk voel deur die SAUK wat die beursie vashou, en wat presies kykers van die aanpassings kan verwag, het Tsholofelo Modise, woordvoerder van die produksiehuis, gesê die SAUK is in ’n beter posisie om sulke vrae te beantwoord.

Kaizer Kganyago, SAUK-woordvoerder, het gesê hy gaan nie kommentaar lewer op interne onderhandelinge nie.

Hy wys wel daarop dat 39% van 7de Laan-kykers bruin is, 30% is wit en 29% is swart. “Dit was nooit ’n wit sepie nie,” sê hy.

■ Die aanpassings by 7de Laan kom kort nadat die Afrikaanse nuus verskuif is van SABC2 na SABC3, wat ’n kleiner opvangsgebied het.

Hieroor sê Kganyago: “Ons veranderinge is nie gemik teen Afrikaans nie, maar gegrond op navorsing en dit is om seker te maak alle tale word op ’n regverdige manier behandel.”

■ Die SAUK is die afgelope week in nóg omstredenheid gehul toe 16 akteurs van die sepie Generations die deur gewys is. Hulle het “gestaak” weens betalingsdispute, en die SAUK het hul kontrakte beëindig. Verskeie ministers het ’n vergadering belê vir môre om dié nasionale “krisis” te bespreek.

Hans Strydom, veteraanakteur en regsgeleerde verbonde aan die Suid-Afrikaanse akteursgilde (Saga), sê die Generations-akteurs is verkeerd geadviseer. Akteurs wat onder SAUK-kontrakte werk, is onafhanklike kontrakteurs. Die arbeidswette is nie op hulle van toepassing nie.

“Dit is ook debatteerbaar of die akteurs regtig nie genoeg betaal word nie. Sover ek weet kry die Genera­tions-akteurs van die beste vergoeding in die bedryf. Die top-akteurs verdien tot R70 000 per maand.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.