Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘7de Laan’ stryk plooie uit, ‘gaan nie skielik 7th Avenue word’
Rohan Horn, kreatiewe regisseur vir 7de Laan op die stel van Felicity en Herman se nuwe huis. Dié stel is onlangs oorgedoen. Foto: Cornel van Heerden
Die 7de Laan karakters Felicity en Herman se huis – voorheen Madel Terreblanche se huis – voor die stel oorgedoen is. Foto: Verskaf

Dis uit met ou haarstyle, die breekware in Oppiekoffie en sommer ’n paar karakters in 7de Laan, en in met nuwe stelle, nuwe sêgoed en “rou emosies”.

Plus – en dié is ’n pretbederwer vir getroue kykers – die geliefde koerantredakteur Neville Meintjies (Zane Meas) het die afgelope Woensdag te midde van ’n blinknuwe sepie-storielyn sy laaste toneel verfilm.

Met Rapport se besoek aan die stel was Meas se kollegas nog aangedaan oor sy laaste dag op die stel.

Oor hoe presies Neville dié gewilde SABC2-sepie verlaat, wou Rohan Horn, kreatiewe regisseur, nie uitbrei nie.

“Ons het gister (Woensdag) van hom afskeid geneem en dit was ’n baie emosionele dag vir almal. Ons het baie by hom geleer,” sê Horn.

In 2012 was Neville “dood”, maar kykers het later uitgevind dit was nie regtig die geval nie.

Maar dié keer lyk dit nie of Neville wonderbaarlik gaan terugkom nie.

Horn sê Meas het ’n ander sakegeleentheid gekry en besluit dis tyd vir ’n nuwe uitdaging.

Soos kykers Maandag begin besef het, het 7de Laan, wat van 2000 dieselfde gebly het, skielik begin verander.

Hulle is begroet met ’n nuwe temalied wat die bekende deuntjie van die Soweto String Quartet vervang het. Die nuwe temalied is geskryf deur Joe Niemand en Nomansland.

Dit het gemengde reaksie ontlok. Sommige kykers het die verandering verwelkom, terwyl ander gekla het dat hul troeteldiere nou erg deurmekaar is deur hul roetine wat omgekrap is. Party honde grom selfs vir die nuwe liedjie, het kykers op sosiale media gemor.

Maar Horn, wat aan die stuur staan van die veranderinge, sê daar lê ’n opwindende tyd vir kykers voor met hope drama en ’n storielyn wat nie huiwer om sensitiewe onderwerpe aan te raak nie. “Die nuwe storielyn gaan karakters se rou emosie wys en kykers sal ’n heel nuwe kant van gunstelinge soos Matrone sien,” sê Horn.

Die hart van 7de Laan bly dieselfde, troos hy.

“Ons het die sepie net ’n face lift gegee, maar dis nog dieselfde 7de Laan wat mense liefgekry het. Dit gaan nie nou skielik 7th Avenue word nie.”

Verskeie akteurs se kontrakte gaan na verneem word nie in Augustus hernu word nie.

In die Laan het die tyd begin stilstaan, het die SAUK vroeër gesê. Rapport het vroeër berig daar is ’n nuwe opdraggewende regisseur vir die reeks wat wil hê die sepie moet bykom.

Nou is die dekor en karakters se kleredrag aangepas om ’n meer moderne Johannesburg te weerspieël, sê Horn.

Met ’n kontantinspuiting van die SAUK is 12 stelle, insluitend Oppiekoffie, die Eclectic E-boetiek en Felicity en Herman se huis ten duurste opgeknap.

“Ons het kykers begin verloor en wil nou veral jonger kykers lok met moderne dekor en kleredrag.

“Maar ou gunstelinge soos Hilda en Oubaas van Zyl bly nog dieselfde,” sê Horn.

Die storielyn is ook aansienlik aangepas om meer relevant tot hedendaagse gebeure te wees en sal aktuele kwessies soos kindermolestering takel.

“Ons gaan beslis ’n paar taboes aanraak,” sê Horn.

Die laaste keer wat 7de Laan ’n “taboe” aangeraak het, was toe daar ’n gyselaarsdrama was waar die gewapende boef ’n “bl**sem” genoem is.

’n Kyker was só ontsteld dat sy by die Uitsaaiklagtekommissie gaan kla het en die sepie moes om verskoning vra omdat die regte ouderdomsbeperking nie deurgaans op die skerm gewys is nie.

Maar Horn sê die storielyn móét mense raak.

“Dis goed as mense kommentaar lewer, al is dit nie altyd positief nie,” sê hy. “Dat kykers gaan regop sit, is vir seker.”

Rapport verneem dit sal vir eers nog altyd somer in die Laan wees, want die klerekas vir akteurs maak nie voorsiening vir winter- en somersdrag nie.

 Neville se vertrek word oor sowat twee maande uitgesaai.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.