Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
ANC-konferensie
‘Ace gaan ANC op nasionale vlak vernietig’

Ace Magashule, nuutverkose sekretaris-generaal (SG) van die ANC, gaan op nasionale vlak ook die ANC verdeel en vernietig soos hy in die Vrystaat gedoen het. Hulle kan maar die stemme by die nasionale verkiesingskonferensie van die ANC in Johannesburg oortel soos hulle wil.

So reageer dr. Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, oor die drama wat hom by dié konferensie afspeel waar gevra is dat die topses se stemme oorgetel moet word en dat dalk oorgestem sal moet word.

Dit is omdat 68 stemgeregtigdes wat geakkrediteer was om te kan stem, nie toegelaat is om te stem nie.

Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer.

Daar is glo vir hulle gesê dat hul name nie op die kiesersrol verskyn nie.

Die groot vraag is nou of Magashule nog as sekretaris-generaal ingestem sou word as daardie 68 gestem het, omdat hy sy mededinger, Senzo Mchunu, voormalige premier van KwaZulu-Natal, net met 24 stemme geklop het.

Jankielsohn sê hoe gouer Magashule toegelaat word om die ANC op nasionale vlak verder te verdeel en te vernietig, hoe beter vir Suid-Afrika.

“Dit is omdat die ANC ’n selfdienende organisasie is wat gewys het dat hy korrup is.

“Die paar mense in die ANC wat nie korrup is nie, het ook nie die ruggraat gehad om op te tree teen diegene wat korrup is nie,” sê Jankielsohn.

Wouter Wessels, VF Plus-lid van die parlement (LP).Foto: Mlungisi Louw

Hy sê die twee hofuitsprake in die Vrystaat kort voor die nasionale konferensie wat die Vrystaat se verkiesing ongeldig verklaar het, is ’n verdere bewys van Magashule se swak organisatoriese vermoë en die moontlikheid van ’n gekonkel.

Wouter Wessels, VF Plus-lid van die parlement, sê dit is baie sleg vir die ANC dat Magashule as sekretaris-generaal ingestem is.

“Hy het nou nog meer mag om sy invloed oor die regering te laat geld en vir eie gewin te werk en sy mag te misbruik.

“Sy verkiesing is nie net tot nadeel van die ANC nie, maar die hele Suid-Afrika.”

Wessels sê die debat is steeds aan die gang of al die stemme van al ses topposte oorgetel moet word oor die 68 wat nie kon stem nie en of die uitslag aanvaar gaan word.

Hy sê dit het ook duidelik geblyk dat al die ANC-taklede nie gestem het volgens die mandaat wat takvoorsitters aan hulle gegee het nie.

Kgotso Morapela, EFF-leier in die Vrystaat. Foto: Dumelang News

Kgotso Morapela, Vrystaatse EFF-leier, sê die party is nie bekommerd oor die interne sake van die ANC of wat met Magashule gebeur nie. “Wat nou gebeur, raak ons nie. Magashule gaan met daardie party (die ANC) klaarspeel in die pos van sekretaris-generaal. Hy sal veroorsaak dat die ANC heeltemal ineenstort.”

* Mahlomola Ralebesi, voormalige speaker van Mangaung, wat nou die woordvoerder van Thabo Manyoni, voormalige Vrystaatse ANC-ondervoorsitter, is wat vir Cyril Ramaphosa ondersteun, sê dat hulle vir die oorstemmery van die ses topposte gevra het.

“Ons regslui is reeds besig om vir ’n moontlike hofsaak vroeg in Januarie voor te berei omdat Magashule ingevolge ’n hofbevel nie veronderstel was om aan die nasionale verkiesing deel te neem en om te gaan stem nie.

“Ons is ook van mening dat daar nie vir hom gestem moes word nie.”

Op ’n vraag of Magashule wel gestem het, het hy gesê hy is nie seker nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.