Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
ANC-konferensie
Ace: ‘Ons hou van Cyril, maar kies NDZ’

Mense moet ophou beweer dat die Vrystaat nie van adj.pres. Cyril Ramaphosa hou nie. Dit was die Vrystaat, Mpumalanga, Noordwes en KwaZulu-Natal wat hom in die Mangaung-verkiesingskonferensie in 2012 gesteun het, het Ace Magashule, voorsitter van die ANC in die Vrystaat, gesê.

Die provinsiale uitvoerende komitee (PUK) van die Vrystaat het besluit om dr. Nkosazana Dlamini-Zuma as die kandidaat in die nasionale leierskapstryd te steun.

Magashule het Sondagaand op die Vrystaatse ANC se provinsiale verkiesingskonferensie in Parys gesê mense moet maar self besluit hoe verdeeld die ANC in die Vrystaat is.

“Daar is agt hofsake teen ons, waarvan ons sewe gewen en een verloor het. Ons kan nie met mense vorentoe gaan wat kwaad vir die organisasie is en dink ons wil hulle nie meer hê omdat hulle poste verloor het nie. Hulle vergeet dat daar ook ander is wat met ’n werkgeleentheid of posisie ’n kans op inkomste moet kry.”

Hy het ’n beroep op kamerade gedoen om op te hou om selfsugtig te wees.

Hy het gesê hy is oortuig daarvan dat die konferensie korrek volgens die ANC se grondwet saamgestel is en dat genoeg verteenwoordiging bestaan sodat die Vrystaat sy belangrike rol op die nasionale verkiesingskonferensie van 16 tot 20 Desember kan gaan vervul.

Die nasionale dispuutkomitee het ook al 84 dispute ondersoek.

Hy het gesê dit is belangrik om verhoudinge binne die ANC te herstel en mense moenie om selfsugtige redes die strewe na ’n verenigde party verwoes nie.

“Ek doen ’n beroep op afgevaardigdes na die nasionale konferensie om hulle te gedra. Moet asseblief nie gaan drink en die Vrystaat in die skande steek nie. Onthou die oë van die res van Suid-Afrika, Afrika en die wêreld is op ons gerig.”

Hy het gesê die Vrystaat is een van die magtigste provinsies in die land. Verskeie instansies soos die Suid-Afrikaanse Kommuniste Party (SAKP), Cosatu, Sasco, die ANC-vroueliga, ANC-jeugliga en ANC-veterane het hul steun aan die konferensie gegee.

Mojalefo Msimango van die SAKP het gesê dit is verkeerd om van wit monopolistiese kapitaal ’n rassekwessie te maak. Radikale ekonomiese transformasie hoort nie ’n rassekleur te hê nie.

Olly Mlamleli, Vrystaatse voorsitter van die ANC-vroueliga, het gevra dat meer vroue vir strategiese posisies oorweeg moet word. Sy het gesê juis daarom is dit belangrik dat Dlamini-Zuma in die nasionale leierskapstryd ondersteun word.

“Sy is ’n vrou en Suid-Afrika is gereed vir ’n vroue-president.”

Mlamleli het ook erg te velde getrek teen mans wat vroue verkrag. “Hulle moet liewers vra as om te verkrag.”

Ace Magashule praat op die Vrystaatse ANC-kongres in Parys.Foto: Mlungisi Louw
Ace Magashule praat op die Vrystaatse ANC-kongres in Parys. Foto: Mlungisi Louw
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.