Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
ANC-konferensie
‘Alles op video as bewys in die hof’ – Ace

’n Video-opname word van die hele Vrystaatse provinsiale ANC-verkiesingskonferensie gemaak sodat dit wat hier gebeur in ’n hof as getuienis kan dien, sê Ace Magashule, voorsitter van die ANC in die Vrystaat.

Volgens hom was Thabo Manyoni, ondervoorsitter, deel van ’n vergadering van die provinsiale uitvoerende komitee waarop besluit is dat die provinsie se verkiesing moet voortgaan.

Mosebenzi Zwane, minister van minerale bronne, en Ace Magashule by die Vrystaatse ANC-konferensie in Parys. Foto: Mlungisi Louw

Manyoni woon nie die konferensie in Parys by nie.

Magashule het die afvalliges wat die verkiesing boikot en wat die kamp van adj.pres. Cyril Ramaphosa steun, sterk veroordeel en hulle van ongedissiplineerdheid en oneerbiedigheid teenoor die party beskuldig.

“Griewe moet in die strukture van die party opgelos word. ’n Mens gaan nie na die howe om jou griewe vir jou te hanteer nie. Ons is tevrede dat ons die takverkiesings in die 29 takke van die ANC wat deel van die Vrystaatse hooggeregshofsaak was, weer gehou het. Maar ons kan dit agt keer of tien keer oordoen.

“As die mense jou nie ondersteun nie, ondersteun hulle jou nie. Dit is jammer dat daardie faksie in die Vrystaatse ANC so ver gegaan het om tot die EFF se hulp in te roep om hulle te ondersteun en te help met hul hofsake wat hulle deurentyd voer.”

Afgevaardigdes sing lofliedere ter ere van Ace Magashule en pres. Jacob Zuma op die Vrystaatse ANC-konferensie in Parys. Foto: Mlungisi Louw

Magashule sê van die mense wat hulle na die hof gewend het, is brandarm, maar hulle word verteenwoordig deur die heel beste regslui in die land. Hy weet wie vir hul peperduur hofsake betaal. Daardie mense moet weet ’n mens kan nie die howe vra “om jou as ’n leier in ’n pos te plaas nie”.

Oor witmonopolie-kapitaal sê hy die rykdom van die land word steeds deur wit mense oorheers.

Maar om witmonopolie-kapitaal met swartmonopolie-kapitaal te vervang, is sinneloos.

“Ons kan egter nie voortgaan in armoede om bedelaars van ryk wit mense te bly nie. Daarom is radikale ekonomiese transformasie wat ná die verkiesingskonferensie voortgesit moet word, van kardinale belang. Dit moet een van die hoofbesluite van die konferensie wees.”

Hy sê die Steinhoff-debakel kan nie net as onreëlmatighede bestempel word, wyl dit korrupsie is nie. Christo Wiese was ook korrup, maar Media24 verswyg dit, sê hy. “Ons kan nie toelaat dat korrupsie net aan swart mense gekoppel en as eienskap van swart mense uitgewys word nie.”

Ace Magashule by die Vrystaatse ANC-konferensie in Parys. Foto: Mlungisi Louw

Magashule sê Volksblad (’n dagblad van Media24 in die Vrystaat) is ’n koerant wat in die binnewerking van ’n politieke party, die Nasionale Party, tot staan gekom het. Dit is net soos The New Age wat in die binnewerking van die ANC ontstaan en ondersteun word. Dit is belangrik om goeie gemeenskapskoerante en -radiostasies te hê en mense moet dit ondersteun.

Oor die onlangse verkiesing in Metsimaholo (Sasolburg) sê hy dat die ANC weer al sy wyke teruggekry het wat hy voor die verkiesing gehad het. Wat die proporsioneel verkose stemme betref, het die ANC ook die meeste gekry.

Hy sê die ANC moet homself hernuwe en met nuwe krag en ywer regeer en dienste lewer. Die ANC is die belangrike voertuig waarmee teen apartheid en kolonialisme geveg is. Dit vra dat lede lojaal teenoor die party sal bly en dit sal dien.

Hy sê die verkiesingskonferensie word gehou sodat terugvoering gegee kan word van die belangrike werk wat die ANC-takke die afgelope vier jaar gedoen het.

“Ons nasionale demokratiese revolusie vra die opperste toewyding.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.