Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
ANC-konferensie
ANC ‘ernstig oor grond’

Boere wat wil hê hul kinders moet hul plase erf, moet besef die ANC se plan om grond sonder vergoeding te onteien is baie ernstig en moet nie onderskat word nie.

En boonop het die ANC, met die EFF se 6%-steun in die parlement, genoeg stemme om die Grondwet se bepalings oor grondonteiening te wysig.

Theo Vorster, uitvoerende hoof van Galileo Capital, sê die ANC het om een groot rede steun in die verkiesings in die metrorade soos Johannesburg verloor, naamlik sy slegte vordering met die hantering van die grondvraagstuk.

“Moenie die ANC se erns hiermee onderskat nie. Dit gáán gebeur. Die een geluk is dat die onderhandeling oor grondregte nou onder adj.pres. Cyril Ramaphosa sal wees eerder as onder pres. Jacob Zuma,” sê Vorster.

Hy sê Ramaphosa is ’n gesoute en rasionele onderhandelaar. “Ek sou baie meer pessimisties gewees het as dié onderhandeling onder Zuma moes plaasvind.

Gemeenskaplike boerdery soos in die voormalige Transkei in die Oos-Kaap beteken dat boere nie titelaktes vir grond het nie, en daarom ook nie toegang het tot banklenings om hul boerderye uit te brei nie. Foto: Marelize Barnard

“Indien vandag se boere hul grond eendag aan hul kinders wil oordra, móét hulle die geleentheid gebruik om oor die samestelling van die landbousektor te onderhandel in die tydperk onder Ramaphosa se ANC-leierskap,” sê Vorster. Boere sal moet deelneem aan die gesprek.

Ramaphosa het Woensdag in sy eerste toespraak as president van die ANC gesê dié organisasie sal sy grondhervormingsprogramme en landelike ontwikkeling bespoedig as deel van sy program vir radikale ekonomiese transformasie.

Hy het wel benadruk dat dit versigtig gedoen moet word sodat die ekonomie, landbouproduksie en voedselsekuriteit nie ondermyn word nie.

Agri SA sê op sy beurt grondonteiening, soos die ANC nou voorstel, is ’n ekonomiese tydbom en daar is geen rasionele rede vir die besluit van die ANC nie.

Agri SA waarsku om onteiening sonder vergoeding van grond toe te laat, sal niks anders wees as ekonomiese selfmoord nie.

Dan Kriek, president van Agri SA.Foto: Sarel van der Walt

Dan Kriek, voorsitter van Agri SA, sê die organisasie daag die ANC uit om aan Suid-Afrikaners te verduidelik hoe die voorgestelde wysiging van die Grondwet produksie en die suksesvolle ontwikkeling van nuwe boere gaan verbeter.

Hy sê Agri SA sal graag die besluit met Ramaphosa wil bespreek.

Intussen sê AfriForum die ANC se voorneme om Suid-Afrika se Grondwet te wysig, “kom neer op ’n besluit om diefstal te pleeg en die land op dieselfde pad van vernietiging as Zimbabwe te plaas deur die ondermyning van eiendomsreg”.

Thomas Walters, DA-LP, sê die mislukking van grondhervorming is Suid-Afrika is nie weens ’n foutiewe Grondwet nie. Dit is eerder oor die grootskaalse mislukking van grondhervormingsprojekte, grootskaalse korrupsie en wanbestuur, die versuim om aan arm mense titelaktes te gee, die swak administrasie van grondeise en meegaande prosesse en ’n swak verskaffing van hulpbronne en ’n begroting.

“Nie een van hierdie probleme word opgelos deur die Grondwet te verander nie,” sê Walters.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê die besluit bedreig in wese alle private grondbesit en open die weg om later grond in Suid-Afrika te nasionaliseer.

“Diegene wat glo dat die voorwaardes van die besluit dat voedselsekerheid en die ekonomie nie benadeel mag word nie, effektief die onteiening nie moontlik maak nie, word mislei deur mooi woorde,” sê Groenewald.

Ramaphosa is ’n meester om klem te lê op die aspekte wat mense gemoedsrus gee, maar die interpretasie van die voorwaardes sal ’n ANC-interpretasie wees.

“Indien die Grondwet eers gewysig is, sal voedselsekerheid so wyd geïnterpreteer word dat landbougrond onteien sal kan word sonder vergoeding,” sê Groenewald.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.