Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
ANC-konferensie
ANC-konferensie in VS: ‘Gety draai teen Ace’

Die spanning laai op vir die Vrystaatse ANC-verkiesingskonferensie die naweek waar Ace Magashule, die premier, en ANC- provinsiale voorsitter, waarskynlik voor sy grootste uitdaging sedert 2009 te staan gaan kom, terwyl die weerstand nét al hoe groter teen hom word.

Politieke ontleders stem saam: Dié Vrystaat-steun is kritiek belangrik vir dr. Nkosazana Dlamini-Zuma. As sy nié die Vrystaatse steun van ’n 60% of 70% gaan kry nie, is haar kandidatuur op nasionale vlak in groot gevaar.

Prof. André Duvenhage.

Prof. André Duvenhage, politieke analis en navorsingsdirekteur van die Noordwes-Universiteit, sê hy vermoed die Vrystaatse ANC-verkiesing gaan volgende week ’n nasleep in die Vrystaatse hooggeregshof hê waar die Cyril Ramaphosa-faksie reeds oorgehaal is om alle besluite wat op die naweek se verkiesingskonferensie geneem word, nietig te laat verklaar.

Onreëlmatighede en prosesse wat nie gevolg is nie, sal vermoedelik as redes aangevoer word.

“Die gety is besig om teen Magashule te draai. Hy sal vermoedelik nog dié aanslag van Manyoni en die CR17-kamp van die naweek oorleef, maar as hy nie ’n skuif vorentoe na die nasionale politiek gaan maak, soos om Gwede Mantashe as sekretaris-generaal op te volg nie, gaan hy hom uiteindelik in ’n politieke woestyn bevind.

“Die kaarte is baie moeilik vir hom uitgedeel.”

Prof. Theodore Neethling.

Duvenhage sê die Manyoni-kamp bied nou weerstand op alle denkbare vlakke, terwyl dit Magashule net verder aanspoor om op onkonvensionele wyse polities te werk te gaan.

Duvenhage sê as die Vrystaat geen benoemdes na die nasionale verkiesingskonferensie van 16 tot 20 Desember in Johannesburg stuur nie, is hy bereid om te sê dat hy sy 50/50-kans vir Dlamini-Zuma en Ramaphosa om as nuwe ANC-leier van Suid-Afrika verkies te word, radikaal sal verander. “Dan word dit ’n CR17-show.”

Dit sal ook die einde van Magashule se politieke loopbaan in die Vrystaat beteken.

Prof. Theo Neethling, hoof van die departement politieke studie en regeerkunde aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), sê die feit dat ’n deel van die ANC in die Vrystaat telkens poog om geskille in die hof te besleg, dui daarop dat die ANC onder die leierskap van die premier nie langer die eenheid kan bewaar nie.

“Vir die twee prominentste Vrystaatse leiers is daar ook belangrike politieke leiersampte op die spel.

“Manyoni het die premierskap in die Vrystaat in gedagte en Magashule die pos van sekretaris-generaal.

“Die Magashule-kamp sal waarskynlik probeer om ’n Zuma-gesinde as nuwe Vrystaatse leier van die ANC verkies te kry en Manyoni se politieke kanse sterk teen te werk.”

Dr. Piet Croucamp.

Dr. Ina Gouws van die program regeerkunde en politieke transformasie by die UV, sê: “Vrystaatse ANC-politieke leiers het baie geloofwaardigheid en vertroue by hulle ondersteuners verloor. Dit is te verstane dat hulle alles wil doen om mag te behou.

“Indien die ondersteuning van netwerke verloor word, kan dit selfs beteken dat strafregtelike vervolgings vir korrupsie kan plaasvind.

“Hier kom nog groot baklei en konflik.”

Dr. Ina Gouws.

Dr. Pieter Croucamp, ook ’n politieke analis van die Noordwes-Universiteit, sê:

“Ek sal verstom wees as Magashule nog enige politieke lewe oor het as Dlamini-Zuma dit nie op nasionale vlak maak nie.

“Daarvoor is die Vrystaatse steun nodig.”

Hy sê Magashule, soos David Mabuza, die ANC-voorsitter in Mpumalanga en Dlamini-Zuma, bevind hulle in die kamp van “die Afrika-sterkman-politiek” – ’n ondemokratiese wyse waar burokratiese instellings geokkupeer word en die staat letterlik gekaap word.

“Die naweek gaan interessant verloop.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.