Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
ANC-konferensie
ANC se besluit oor grond is ‘ekonomiese selfmoord’

Agri SA sê grondonteiening, soos wat die ANC nou voorstel, is ’n “ekonomiese tydbom”.

“Daar is geen rasionele rede vir die besluit van die ANC nie,” sê die landbou-organisasie oor ’n voorstel wat Woensdagaand op ’n vergadering van die ekonomiese beleidskommissie van die ANC op die konferensie by die Nasrec Ekspo-sentrum in Johannesburg gemaak is. Die voorstel is dat Suid-Afrika se Grondwet verander word sodat onteiening van grond sonder vergoeding moontlik kan wees.

Soos vroeër berig sal dit in Januarie op die regering se lekgotla bespreek word.

Agri SA sê ’n hoëvlakpaneel, onder leiding van Kgalema Motlanthe, het onlangs bevind die grootste uitdaging wat in die pad staan van grondhervorming is nié die Grondwet nie, maar die toepassing van die beleid oor grondhervorming, die prosedures en die diepgewortelde korrupsie in dié stelsel.

Agri SA waarsku om onteiening sonder vergoeding van grond toe te laat, sal niks anders wees as ekonomiese selfmoord nie.

Die landbousektor was die beste presteerder in drie uit die vier kwartale van 2017 en dit was die grootste bydraer tot die groei van 2% van die bruto binnelandse produk.

Die ANC beplan om die Grondwet te wysig ten einde grondhervorming te versnel. Foto: Marelize Barnard

Dan Kriek, voorsitter van Agri SA, sê die organisasie vra voortdurend dat grond- en eiendomsreg vir landelike gemeenskappe en opkomende boere verseker moet word en dit is hoog tyd dat die ANC dit as die geleentheid moet beskou om nuwe deelnemers aan die landbousektor te bemagtig.

“Ons daag die ANC uit om aan Suid-Afrikaners te verduidelik hoe die voorgestelde wysiging van die Grondwet produksie en die suksesvolle ontwikkeling van nuwe boere gaan verbeter,” sê Kriek.

Hy sê Agri SA sal graag die besluit met Cyril Ramaphosa, die nuwe president van die ANC, wil bespreek.

Intussen sê AfriForum die ANC se voorneme om Suid-Afrika se Grondwet te wysig, “kom neer op ’n besluit om diefstal te pleeg en die land op dieselfde pad van vernietiging as Zimbabwe te plaas deur die ondermyning van eiendomsreg”.

Lees ook: 'Grondhervorming nie ten koste van ekonomie'

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is respek vir eiendomsreg ’n kernvereiste vir ’n suksesvolle ekonomie.

“Lande wat eiendomsreg skend word gekenmerk deur werkloosheid, armoede en ekonomiese agteruitgang.

“Die ANC se besluit om eiendomsreg te skend, sal dus almal in die land benadeel, behalwe die klein groepie elite wat voordeel uit die ANC se diefstalplan sal trek,” sê Kriel.

Die sogenaamde “diefstalplan” sal volgens Kriel nie net die ekonomie vernietig nie, maar sal Suid-Afrika ook op ’n pad van hernieude wrywing en konflik plaas.

Cyril Ramaphosa, president van die ANC.

Soos vroeër berig het Enoch Godongwana, uittredende voorsitter van die ANC se ekonomiese beleidskommissie, gesê onteiening sonder vergoeding moet lewensvatbaar wees voordat dit toegepas word. “Dit mag nie voedselsekerheid en ander sektore in die ekonomie beïnvloed nie.”

Dieselfde standpunt is deur Ramaphosa benadruk in sy eerste toespraak as ANC-president. Hy het gesê die ANC was nog altyd versigtig in sy pogings om die ekonomie op so ’n wyse te bestuur om die belange van die land se mense te bevorder.

Meer oor:  Nasrec  |  Cyril ­Ramaphosa  |  Anc-Konferensie  |  Grondhervoming
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.