Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
ANC-konferensie
ANC weet nie van vergadering oor ‘vermiste’ stemme

Die ANC is nie bewus van enige vergadering by Luthuli-huis met die prokureurs van afgevaardigdes wie se stemme by die ANC se nasionale konferensie deel was van die meer as 60 “vermiste” stemme nie.

Só het Zizi Kodwa, die ANC se uittredende woordvoerder, Donderdag gesê by navraag oor wanneer presies die ANC met die betrokke partye sal vergader.

Dit volg nadat Dexter Selepe, ’n prokureur vir afgevaardigdes uit Limpopo, Woensdag luidens News24 gesê het dat die ANC ’n vergadering met hom en sy kliënte vir Donderdag of Vrydag aangevra het.

Hy het die ondersteuners in die video ook gevra om te aanvaar dat Magashule tot sekretaris-generaal verkies is.

Sy kliënte wil glo ’n regsgeding begin sodat hul stemme deel kan word van die groottotaal van die stemme wat Senzo Mchunu vir die posisie van ANC-sekretaris-generaal gekry het.

Mchunu is met ’n skamele 24 stemme deur Ace Magashule vir dié sleutelposisie van die ANC geklop.

Selepe kon nie Donderdag vir kommentaar bereik word nie.

Kodwa het egter by navraag egter gesê hy is nie bewus van enige vergadering wat die ANC met die prokureurs van die afgevaardigdes oor die kwessie by Luthuli-huis, die ANC-hoofkantoor in Johannesburg, gereël het nie.

Magashule het Woensdagaand laat toe hy die nasionale konferensie se verklaring by Nasrec, Johannesburg, gelewer het, gesê dat hy wil aandag gee aan die kwessie van die 63 vermiste stemme omdat net 16 daarvan geldig was.

Die kwessie oor die vermiste stemme het byna die nasionale konferensie, waar adj.pres. Cyril Ramaphosa tot die nuwe ANC-president verkies is, laat ontspoor.

Dit was nadat ondersteuners van Mchunu met hofaansoeke gedreig het as hul stemme nie by Mchunu se groottotaal gevoeg word nie, wat hom dan die sekretaris-generaal maak

Ondersteuners van Magashule, soos Supra Mahumapelo, ANC-voorsitter in Noordwes, het egter gedreig dat daar weer vir die hele topses-leierskap van die ANC oorgestem sal moet word as daar aan die Mchunu-ondersteuners se eis gehoor gegee word.

Die ANC se bestuurskomitee het Dinsdag heeldag met die verskillende partye vergader om die aangeleentheid te probeer oplos.

In ’n video-opname wat News24 Woensdag bekom het, het Ramaphosa egter sy ondersteuners gevra om ter wille van die integriteit van die ANC en sy nasionale konferensie, hulle nie tot die hof te wend om die verkiesing van Magashule nietig te verklaar nie.

Hy het die ondersteuners in die video ook gevra om te aanvaar dat Magashule tot sekretaris-generaal verkies is. Ramaphosa het bygevoeg dat as die besluit nie polities opgelos word nie, dit die party sal belemmer om die waardes van die ANC in te boesem.

Die ANC se topses-leierskap is tans om die helfte verdeel deur ondersteuners van Ramaphosa in die vorm van Gwede Mantashe, voorsitter, en Paul Mashatile, tesourier-generaal.

Magashule, David Mabuza, adjunkpresident, en Jessie Duarte, adjunk-sekretaris-generaal, word beskou as ondersteuners van dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, wat die ANC-presidentskapwedloop teen Ramaphosa verloor het, en haar eksman, pres. Jacob Zuma.

Meer oor:  Anc  |  Verkiesing  |  Cyril ­Ramaphosa  |  Johannesburg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.