Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
ANC-konferensie
CR-sege: 'Dit was die wil van die Here'

Dit was die wil van die Here.

So sê Ronald Lamola, ’n prominente oud-ANC-jeugligaleier van Mpumalanga, oor adj.pres. Cyril Ramaphosa se oorwinning as ANC-leier.

Ramaphosa, asook dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, die tweede presidentskandidaat, het hulle in hul veldtogte soms op hulp van Bo beroep.

Ramaphosa het op sy besoek aan die Noordwes-Universiteit in Oktober boere en sakelui versoek om te bid vir die ANC se konferensie en wie verkies moet word.

Ronald Lamola by die ANC se verjaardagvieringe in 2012.

In ’n toespraak twee weke gelede in die Shembe-kerk in die verre noorde van KwaZulu-Natal het hy gesê: “Ek is een van diegene wat hande opgesteek het om verkies te word. Ek versoek u om te bid dat die konferensie glad verloop en dat ek suksesvol moet wees.”

Dlamini-Zuma het verlede week in Kempton Park, waar ’n dinee deur die ANC se vroueliga vir haar gereël is, haar toespraak afgesluit deur te sê sy en haar span het alles moontlik gedoen en laat die uitslag van die leiersverkiesing in die hande van die Allerhoogste.

Lamola, wat tot die ANC se nuwe nasionale uitvoerende komitee (NUK) verkies is, het Woensdag op die ANC se nasionale konferensie in Nasrec, Johannesburg, gesê Ramaphosa se verkiesing is ’n handeling van God.

“Ek is deur joernaliste en ontleders gekritiseer omdat ek voorspel het Ramaphosa gaan die ANC se leierstryd wen. Maar Jesus het die verskillende afgevaardigdes na die stembus gedra en hulle aangesê om vir CR te stem. Nou is hy die president en ons is gereed om te lei.”

Gelowiges met kennis van David Mabuza, nuwe adjunkleier van die ANC, se geskiedenis as voorsitter en premier van Mpumalanga kan dalk kopkrap. Mabuza word met politieke moorde in dié provinsie verbind, terwyl Ace Magashule, nuwe sekretaris-generaal, ’n sentrale rol gespeel het in die Guptas se betrokkenheid by die omstrede Vrede-melkplaasskandaal.

Lamola meen Mabuza se opgang kan met Saul (Paulus) se Damaskus-oomblik vergelyk word. Op sy weg van Jerusalem na Damaskus is Saul, wat die Christene vervolg het, met blindheid geslaan en het hy ’n Christen geword. Sy naam is na Paulus verander.

“Mabuza het sy Damaskus-oomblik beleef,” sê Lamola.

Hy sê Mabuza se verkiesing tot die ANC se topses verseker ’n breuk met die ou leierskorps.

“Hy was die een met versiendheid wat altyd eenheid gepredik het. Ons moet wegdoen met lyspolitiek en alle lede moet vryelik kan deelneem.”

Lamola het 2 016 stemme gekry, die sesde hoogste stemtal van alle nuwe ­lede van die NUK, selfs meer as Dlamini-Zuma se 1 975.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.