Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
ANC-konferensie
Cyril het die mag; hoef niks te vrees van Ace

Adj.pres. Cyril Ramaphosa het die hef in die hand – dit ly geen twyfel nie.

Die ANC se grondwet bepaal – en harde lesse onder pres. Jacob Zuma bewys dit – dat die party se president die eintlike mag het in die party.

Die sekretaris-generaal, nou die omstrede Ace Magashule, is bloot die administratiewe hoof.

Die nuwe president van die ANC, Cyril Ramaphosa, en Ace Magashule, nuwe sekretaris-generaal, skud Maandag blad by die konferensie. Foto: Felix Dlangamandla

Zuma het veral die afgelope twee jaar sy mag as ANC-president gebruik om die vyf ander nasionale ampsdraers – Gwede Mantashe, sekretaris-generaal, Ramaphosa, Baleka Mbete, voorsitter, dr. Zweli Mkhize, tesourier-generaal, en Jessie Duarte, adjunk-sekretaris-generaal – se versoeke in die wind te slaan.

Die beste voorbeeld is ná die konstitusionele hof se Nkandla-uitspraak, wat bevind het Zuma het sy ampseed verbreek.

Die ander vyf ampsdraers het Zuma op 1 April 2015 by sy ampswoning in Pretoria besoek en hom gevra om te bedank. Hy het gesê hy sal dit oorweeg.

Dieselfde aand het hy die SAUK na sy kantoor laat kom en gesê hy wil ’n spesiale aankondiging doen. Die hele topstruktuur van die ANC het verwag dat hy sy bedanking gaan aankondig, maar hy het die land om verskoning gevra vir die foute wat hy met Nkandla gemaak het.

Dit was ’n Vrydagaand.

Daardie Maandag, 4 April 2015, het die ANC se nasionale werkkomitee vergader en sy verskoning aanvaar. Dieselfde aand het Eskom die vooruitbetaling van R456 miljoen vir steenkool goedgekeur waarmee Zuma se seun Duduzane en die Guptas die Optimum-steenkoolmyn gekoop het.

Dit is moeilik om ’n beter voorbeeld te kry van die mag wat die ANC aan sy president toeken.

Dit wys ook dat Ramaphosa niks te vrees het van Magashule wanneer Magashule beheer van Luthuli-huis oorneem nie.

Dié les het Mantashe op die duur manier geleer. Hy was gekant daarteen dat Brian Molefe ’n LP word ná sy bedanking as Eskom se uitvoerende hoof. Molefe is ’n ANC-lid by ’n tak in Noordwes. Supra Mahumapelo, premier van Noordwes wat ook provinsiale voorsitter van die ANC is, het ’n brief aan Mantashe geskryf waarin hy vra dat Molefe as LP aangestel word.

Daar was vakatures in die ANC se parlementêre koukus, maar Mantashe het nie daarvoor kans gesien nie. Hy het Mahumapelo se versoek van die hand gewys.

Dit was kort voor die parlement einde 2016 verdaag het en die kwessie het gesloer, maar vroeg in die nuwe jaar het Zuma Mantashe gevra om Molefe wel ’n LP te maak. Hy moes instem.

Nou het Ramaphosa se kamp volgens Rapport en ontleders se berekeninge ’n geringe meerderheid in die party se na­sionale uitvoerende komitee (NUK).

Die ANC-grondwet sê die NUK hou toesig oor die president en ander vyf ampsdraers, maar gee nie bevele aan hulle nie.

Die sekretaris-generaal se rol is om as hoofwoordvoerder van die ANC op te tree, besluite oor te dra en notules van vergaderings te hou. Hy is ook die party se administratiewe en logistieke hoof en dus in beheer van Luthuli-huis. Hy is ook oorhoofs in beheer van die ANC se parlementêre koukus en in die aanloop tot verkiesings speel hy ’n groot rol in die opstel van die ANC se kandidatelyste vir die parlement en provinsiale wetgewers.

Dit is waar Magashule die meeste skade kan aanrig. Hy kan en sal waarskynlik probeer om mense wat hom goedgesind is op die lyste te kry in die aanloop tot die bepalende verkiesing in 2019.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Cyril ­Ramaphosa  |  Nuk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.