Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
ANC-konferensie
Cyril: Só dink en doen hy

Cyril Ramaphosa is Maandagaand by die Nasrec Ekspo-sentrum in Johannesburg as die nuwe president van die ANC in die plek van pres. Jacob Zuma aangewys.

Cyril Ramaphosa, die ANC se nuwe president. Foto: AP

Hy het dr. Nkosazana Dlamini-Zuma in die leierskapstryd verslaan. As die ANC by tradisie hou, sal Ramaphosa (#CR17) na verwagting ook in 2019, of dalk gouer, as president van Suid-Afrika by Zuma oorneem.

David Mabuza is die adjunkpresident. Gwede Mantashe is verkies tot die pos as nuwe ANC-voorsitter.

Gwede Mantashe het gesê die ANC-president neem nie beleidsbesluite nie. Hy bring bloot ANC-beleid tot uitvoering. Tog is dit duidelik dat die ekonomie onder Ramaphosa voorrang sal geniet.

Volgens hom is die drie grootste uitdagings waardeur Suid-Afrika in die gesig gestaar word, werkloosheid, armoede en ongelykheid.  Meer Suid-Afrikaners – en veral vroue – moet volgens hom ’n rol in die ekonomie begin speel. Die ekonomie is steeds in die hande van ’n klein minderheid. Te veel swart Suid-Afrikaners is bloot toeskouers.

Ramaphosa glo die Suid-Afrikaanse ekonomie het die potensiaal om weer ’n groeikoers van 5% te handhaaf. ’n Groeikoers van 6% is egter nodig om ’n beduiende aantal werksgeleenthede te skep. Onder hom as president sal die omvangryke Nasionale Ontwikkelingsplan waarskynlik afgestof en toegepas word. 

As ’n voormalige vakbondleier het hy steeds ’n baie simpatieke oor vir die vakbonde. Die verhouding tussen die ANC en sy alliansievennote, die vakverbond Cosatu (in wie se stigting Ramaphosa ’n kernrol gespeel het) en die SAKP, sal waarskynlik onder Ramaphosa beter wees as die laaste paar jaar onder eers Thabo Mbeki en toe Zuma. Ramaphosa was sowel die SAKP as Cosatu se voorkeurkandidaat. 

Ramaphosa is uitgesproke oor korrupsie.

Hy is uitgesproke oor korrupsie en sê die geld wat met staatskaping verlore gegaan het, kon gebruik gewees het vir onder meer beter dienslewering en die bou van skole, hospitale en huise. 

Prof. Dirk Kotze, ’n politieke ontleder van Unisa, sê wat Ramaphosa uniek maak, is dat hy die eerste president is wat uit die geledere van die vakbonde, die UDF en die MDM kom. Hy was nooit in ballingskap nie. Dit tel ook in sy guns dat hy ‘n belangrike rol in die destydse Kodesa-onderhandelinge gespeel het. Hy word beskou as een van die argitekte van die Grondwet. 

Kotze sê Ramaphosa ken die ekonomie baie goed danksy sy agtergrond as vakbond- en sakeman.  Kotze meen die Marikana-slagting word teen Ramaphosa gehou. “Hyself het ook al gesê hy beskou die Marikana-sage as ‘onafgehandel’.” Wat moontlik in sekere kringe teen hom tel, is die feit dat hy nooit in ballingskap was nie.

“Toe hy in 1991 seketaris-generaal van die ANC geword het, was hy ’n relatiewe nuweling in die ANC.”

Kotze sê wat uit die linkerkant van die ANC teen hom gehou kan word, is sy sakeagtergrond. “Daar is talle in dié kringe wat bang is hy sal te pro-sake wees.”

Ramaphosa se vernaamste bondgenote in die ANC sluit in mense soos dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, Jeff Radebe, minister in die presidensie, Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, Naledi Pandor, minister van wetenskap en tegnologie, Pravin Gordhan, afgedankte minister van finansies, en ander swaargewigte in die ANC soos Mantashe, Paul Mashatile en Zwele Mkhize.

Cyril Ramaphosa staan langs oudpres. Nelson Mandela nadat Mandela in 1990 vrygelaat is. Foto: Argief

Ramaphosa se politieke loopbaan

Die dag toe Nelson Mandela op 11 Februarie 1990 ná 27 jaar in die tronk uit die Victor Verster-gevangenis (nou die Drakenstein-gevangenis) in die Paarl gestap het, was Cyril Ramaphosa aan die wêreld se bekendste politieke gevangene se sy. Ramaphosa het die sambreel vasgehou waaronder Mandela daardie Sondagmiddag onder die bloedige Bolandse somerson deur die tronk se hekke gestap het.

Toe Mandela enkele ure later op die trappe van die Kaapstadse stadsaal sy eerste toespraak as ’n vry man gelewer het, was Ramaphosa langs hom. ’n Paar jaar later het Madiba gesê Ramaphosa is sy eerste keuse as sy opvolger.

Met Mandela se vrylating was Ramaphosa hoofsekretaris van die National Union of Mineworkers (NUM), die grootste vakbond in die land, en voorsitter van die nasionale verwelkomingskomitee wat Mandela se program ná sy vrylating moes koördineer.

Anderhalf jaar later het Ramaphosa die sekretaris-generaal van die ANC geword. Om dít te kon regkry, het hy twee struggle-veterane geklop. Een van húlle was Jacob Zuma. Die ander kandidaat wat Ramaphosa getroef het, was Alfred Nzo, wat later onder Mandela minister van buitelandse sake sou word. Mandela het dié pos aanvanklik aan Ramaphosa aangebied, maar hy het dit van die hand gewys (meer hieroor later).

Hy is ’n fenomenale strategiese denker en onderhandelaar.

Die joernalis Ray Hartley skryf in sy boek Ramaphosa: The man who would be king, Ramaphosa het vroeg al ’n diepe indruk op Madiba gemaak. Nadat Ramaphosa sekretaris-generaal van die ANC geword het, het Mandela gesê sy verkiesing is ’n bewys dat die vlam van die ouer generasie leierskap na die jonger generasie oorgedra is.

Ramaphosa is in 1952 in Johannesburg gebore en het in 1971 in Sibasa in die eertydse Venda gematrikuleer. Hy het daarna aan die destydse Universiteit van die Noorde (nou die Universiteit van Limpopo) by Turfloop naby Polokwane studeer.

Prof. Anton Roodt van die Universiteit van die Witwatersrand se sakeskool was destyds op Turfloop een van Ramaphosa se dosente. Die jong Ramaphosa het hom, soos vir Mandela baie jare later, beïndruk.

Cyril Ramaphosa.

“Hy was ’n studenteleier wat bereid was om sy sienings op ’n duidelike en konstruktiewe wyse te stel,” onthou Roodt. In die 1980’s was Ramaphosa as NUM-vakbondleier ’n doring in die vlees van die land se mynbase. Ramaphosa het hom toe al as ’n politieke rolspeler gevestig en die oog van die (toe nog) verbode ANC-leierskap gevang. Sy en Roodt se paaie het in dié tyd weer gekruis.

“Ek was by die korporatiewe wêreld betrokke en hy by die NUM en Cosatu toe ons oor arbeidswetgewing onderhandel het. Jy kry nie ’n meer betroubare mens om mee te onderhandel as Cyril nie. Hy is ’n fenomenale strategiese denker en onderhandelaar,” sê Roodt.

Maar alles het nie altyd vir Ramaphosa as vakbondleier verloop soos dit moes nie. In 1987 het Ramaphosa en die NUM ’n reuse-mynstaking van stapel gestuur waaraan 340 000 mynwerkers by 44 goud- en steenkoolmyne deelgeneem het. Ongelukkig vir Ramaphosa het dié staking uiteindelik meer as 50 000 mynwerkers hul werk gekos.

Die onderhandelingsvermoë wat Ramaphosa as vakbondleier ontwikkel het, het Mandela so beïndruk dat hy hom as die ANC se hoofonderhandelaar aangewys het vir die onderhandelinge by die Konvensie vir ’n Demokratiese Suid-Afrika (Kodesa) om ’n nuwe politieke bedeling daar te stel.

Terugslag vir Ramaphosa

Toe die ANC in 1994 aan die bewind gekom het, het Mandela op aandrang van die ANC-veterane vir Thabo Mbeki as adjunkpresident gekies. Die gevoel was Ramaphosa was nog te jonk vir dié pos. Baie van die oudstryders wat jare lank in die buiteland in ballingskap was, het Ramaphosa vroeg al as ’n “tasbare bedreiging vir hul oorwig in die ANC” begin sien, skryf Hartley in sy boek.

Ramaphosa het in die 1980’s noue bande met die United Democratic Front (UDF) en die Mass Democratic Movement (MDM) gehad.

Mandela het Ramaphosa die senior pos van minister van buitelandse sake aangebied, maar hy wou dit nie hê nie. Hy het Mandela gevra om eerder as sekretaris-generaal van die ANC aan te bly om die party uit te bou. Tog moes Ramaphosa baie ontsteld gewees het oor wat gebeur het, want volgens Hartley het Ramaphosa nie Mandela se inhuldiging by die Uniegebou in Pretoria bygewoon nie.

Cyril Ramaphosa is die eerste ANC-president wat uit vakbondgeledere kom. Foto: Reuters

Ramaphosa het later gesê hy besef hy was destyds te jonk en onervare vir die pos van adjunkpresident. 

Ramaphosa se goeie verhouding met Roelf Meyer, die hoofonderhandelaar van die Nasionale Party-regering, was ’n sleutel tot die sukses van dié onderhandelinge. Nadat die ANC aan die bewind gekom het, het Mandela Ramaphosa gevra om die komitee te lei wat ’n nuwe Grondwet vir Suid-Afrika moes skryf.

Dié proses is in 1996 afgehandel. Ramaphosa het die nuwe Grondwet as Suid-Afrika se “geboortesertifikaat” beskryf.

Hierna het Ramaphosa uit die politiek getree en hom in die sakewêreld begeef. Hy het superryk geword en was selfs bereid om R18 miljoen vir ’n buffel op te dok. Maar die politieke vlammetjie het in sy agterkop bly brand en in 2012 het hy na die politiek teruggekeer.

Ramaphosa is ’n baie private mens en nie veel is bekend oor sy persoonlike lewe nie.

In Mangaung is hy as adjunkpresident van die ANC onder Zuma verkies. Ramaphosa het ná die verkiesing van 2014 ook adjunkpresident van Suid-Afrika geword. In dié pos was hy verantwoordelik vir regeringsake in die parlement en ook voorsitter van die nasionale beplanningskommissie.

Maar daar is ’n albatros om sy nek. Sy kritici hou hom nou nog verantwoordelik vir die rol wat hy gespeel het as nie-uitvoerende direkteur van die Lonmin-groep in die aanloop tot die Marikana-slagting in 2012, waarin 34 mynwerkers deur die polisie doodgeskiet is.

Die Farlam-kommissie van ondersoek na dié slagting het Ramaphosa uiteindelik van alle blaam onthef, maar hy self het al toegegee hy beskou dié saak nog nie as afgehandel nie.

Ramaphosa is ’n baie private mens en nie veel is bekend oor sy persoonlike lewe nie. Wat wel bekend is, is dat hy ’n groot voorliefde vir boer het, met die fokus op beeste (veral Ugandese Ankole-beeste) en wild. Hy is getroud met Tshepo Motsepe, suster van die mynmagnaat Patrice Motsepe. Vroeër was hy getroud met Nomazizi Mtshotshisa.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.