Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
ANC-konferensie
Cyril sal die ding kan doen, sê Roelf Meyer
Roelf Meyer praat oor Cyril Ramaphosa, nuutverkose president van die ANC.
’n Emosionele oomblik vir Cyril Ramaphosa toe hy Maandag aangewys word as president van die ANC. Foto: ARGIEF

Die trane in die oë van Cyril Ramaphosa, nuutverkose president van die ANC, Maandag op die verhoog by die 54ste ANC kongres kort nadat hy die leierskapstryd gewen het, was opgedra aan Madiba.

Só sê Roelf Meyer, politieke ontleder en onder meer voormalige adjunk-minister van polisie.

“Cyril se trane het gewys hy is oorstelp van emosie. Ek ken hom meer as 30 jaar en hy is nie die tipe mens wat met sy emosies en gevoelens op sy mou loop nie. Maar gister (Maandag) het ek sy gevoelens saam met hom beleef.”

Meyer sê die trane is na sy mening die dankbaarheid wat hy (Ramaphosa) teenoor Nelson Mandela het. “Vir die grootste deel van sy lewe was Madiba sy mentor en vader.”

Volgens Roelf Meyer is Cyril Ramaphosa nie iemand wat met sy emosies te koop loop nie, maar hy is wel lief vir forelvang. Hier is hy saam met Tannie Evita Bezuidenhout (Pieter-Dirk Uys) tydens ’n opname van ’n destydse TV-program. Foto: ARGIEF

Ramaphosa en Meyer is sinoniem om een rede: twee gedugte onderhandelaars wat in die laat 80’s en vroeë 90’s saam “geveg” het om ’n beter oplossing vir Suid-Afrika te probeer vind.

Ten spyte van die spanning wat die ses jaar tydens die veelparty-onderhandelings bykans daagliks op ’n mespunt gebalanseer het, was een van die mees “komiese, persoonlike en ontspanne” oomblikke tussen die twee onderhandelaars juis te danke aan Eugène Terre’Blanche en sy AWB-meelopers.

Op 25 Junie 1993 het die AWB en die VF (Vryheidsfront) by die wêreldhandelsentrum in Kempton Park betoog.

Gemoedere het buite hoog geloop en die polisie kon die sowat 1 000 betogers nie beheer nie.

Chris Hani, voormalige leier van die SAKP, is op 10 April 1993 vermoor. Cyril Ramaphosa en Roelf Meyer moes die spanning wat die sluipmoord meegebring het, ontlont. Foto: ARGIEF

Die betogers het met ’n Viper-pantservoertuig deur die reuse-glasmuur van die konferensielokaal gebars en die AWB se Stormvalke het die kongres ontwrig en die gebou beset.

“Ons het almal in verskillende rigtings gespat om skuilplek te kry” vertel Meyer.

“Omdat ek as adjunk-miniter van polisie beskerming gehad het, was my kantoor een van die veiligste plekke in die gebou.

“Ek, met Cyril agterna, het die kantoor ingebondel en gewag vir die situasie om onder beheer te kom. Hier sit ek en een van my grootste teenstanders teenoor mekaar en beleef een van die vele ‘persoonlike’ oomblikke in ons albei se loopbane. Buite woed ’n betoging en hier sit ons twee agteroor en drink ’n whisky!”

Volgens Meyer het hy die eerste keer van Ramaphosa bewus geraak toe dié in 1987 as sekretaris-generaal van die National Union of Mine Workers (NUM) ’n reuse- en erg ontwrigtende betoging gereel het.

Hy onthou die eerste keer toe hy van aangesig tot aangesig met Ramaphosa gekom het. Dit was in Londen, op die Heathrow-lughawe.

Vir die grootste deel van sy lewe was Madiba sy mentor en vader.
Cyril Ramaphosa was aan Nelson Mandela se sy kort ná dié se vrylating uit die Victor Verster-gevangenis in Februarie 1990. Foto: ARGIEF

“Ons het letterlik langs mekaar verbygeloop en mekaar herken. Ons het gestop, met die hand gegroet en ons eerste woorde aan mekaar was: ‘Ons moet praat’!”

Dit was die begin van nie net ’n dramagevulde werksverhouding nie, maar een wat uiteindelik in ’n 30 jaar lange vriendskap ontaard het.

“Die eerste aspek wat ek van Cyril geleer het, was om hom te vertrou. Hy was ’n gedugte en strawwe onderhandelaar. En ek glo die rede waarom ons twee so suksesvol was in ons onderskeie rolle as hoofonderhandelaars, was die wedersydse vertroue en respek wat ons vir mekaar gekweek het.”

Twee sprekende voorbeelde hiervan was tydens die Boipatong-slagting en Chris Hani se moord.

Lede van die AWB-Ystergarde tydens die stormloop op die Kodesa-samesprekings by die wêreldhandelsentrum in Kempton Park op 25 Junie 1993. Foto: ARGIEF

Toe 45 inwoners in die Boipatong-woonbuurt op 17 Junie 1992 in politieke skermutselings dood is, het Ramaphosa langs Nelson Mandela gestaan en aangekondig alle onderhandelinge met die Suid-Afrikaanse regering word afgelas.

“Enkele minute ná die perskonferensie het Cyril my gebel en gevra hoe gou kan onderhandelinge weer begin. Dit het gedui op die vertroue wat ons vir mekaar gehad het.”

Op 10 April 1993 is Chris Hani deur Janusz Walus in ’n sluipmoord doodgeskiet. Mabida het ’n toespraak gehou om die gemoedere te kalmeer en die regering en ANC het besluit Meyer en Ramaphosa is die aangewese span om die situasie te ontlont.

Die Meyer- en Ramaphosa-gesinne het op ’n plaas naby Dullstroom gaan vakansie hou om die ontlonting van die Hani-krisis te bespreek.

Oudpres. Nelson Mandela met twee toekomstige ANC-presidente langs hom. Regs is Jacob Zuma en links Cyril Ramaphosa. Foto: ARGIEF

Hier, langs die viswaters waar Ramaphosa Meyer probeer leer het hoe om forel te vang, is ’n gedugte vriendskap gesmee.

Oor die toekomstige rol wat Ramaphosa as nuwe ANC president, en waarskynlik binnekort die president van Suid-Afrika, sal vul, sê Meyer Ramaphosa beskik oor die kundigheid, agtergrond, kennis en ervaring om die land uit die huidige moeras te trek.

“Al is daar kommer oor sommige elemente wat nou na aan sy binnekring is en wat dalk ’n ontwrigtende rol kan speel, glo ek hy sal die wye ervaring wat hy het gebruik om die potensiële aanslae te bestuur.”

Die slagting in Boipatong op 7 Junie 1992 het Kodesa byna ontspoor. Foto: ARGIEF
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.