Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
ANC-konferensie
Cyril se toespraak: Koerant-redakteurs gee indrukke

Wat moet gewone landsburgers maak van Cyril Ramaphosa se eerste toespraak as ANC-president? Het hy die wil en vermoë om te doen wat nodig is om die party en Suid-Afrika op ’n beter toekomspad te plaas? Die redakteurs van die Afrikaanse dagblaaie Die Burger, Beeld en Volksblad gee hul indrukke. 

Willem Jordaan

Willem Jordaan, redakteur van Die Burger

Wat ‘n vars bries om te luister na ‘n toespraak van die ANC-leier wat jou nie laat wonder of die spreker ‘n begripstoets oor die inhoud sou slaag pas na dit gelewer is nie. 

Die toespraak vergestalt die moeilike balanseertoertjie wat in die komende maande op Ramaphosa wag. Hy sal probeer om eenheid in die party te handhaaf, maar terselfdertyd gaan hy genadeloos moet optree om korrupsie en staatskaping te stuit. Hy gaan invloedryke korrupte ANC-politici moet uitwerk, sonder om te lyk asof hy ‘n vergeldingsoorlog voer.

Aan die een kant het hy pres. Jacob Zuma redelik heuning om die mond gesmeer in sy toespraak deur onder meer na hom te verwys as die vader van die nasionale beplanningskommissie en hom lof toe te swaai vir die uitbreiding van die regering se MIV-behandelingsplan. 

Wat eersgenoemde betref was Ramaphosa se woorde waarskynlik meer van ‘n aanmaning dat die nasionale ontwikkelingsplan nou tot uitvoer gebring moet word, synde dat Zuma tot dusver maar bloot lippediens daaraan betoon het.

Wat die MIV-plan betref is dit waarskynlik die enkele punt waarvoor Zuma wel krediet verdien.

Die belangrikste van hierdie toespraak is egter die feit dat Ramaphosa geen twyfel gelaat het oor sy voorneme om by wyse van spreke die Saxonwold-sjebien toe te maak nie. Hy het uitdruklik gesê dat die staat se sleutelinstellings en staatsondernemings gekaap is deur “individue en families” en die onderneming gegee dat korrupsie met dieselfde ywer as armoede bestry sal word.

Ramaphosa het hiermee ‘n goeie fondament gelê om op voort te bou. Alle oë sal nou op sy jaarlikse 8 Januarie-toespraak wees (ter herdenking aan die dag waarop die ANC gestig is) waarin hy hopelik verdere besonderhede gaan gee oor hoe hy beplan om staatskaping en korrupsie te stuit, hoe hy die ekonomie weer op koers wil kry en hoe landsbelang weer voorkeur gaan kry bó Zuma se belange. 

Uiteraard bly dit dan ‘n vraag hoe - en hoe vinnig - hy Nommer Een uit die Uniegebou kan kry.



Gert Coetzee

Gert Coetzee, redakteur van Volksblad

Nie soseer wát Cyril Ramaphosa gesê het nie, maar hóé hy dit gesê het, is die blywende indruk van die eerste boodskap wat hy as ANC-leier gelewer het.

Indien sy toespraak vanoggend net ná middernag wel in een sin saamgevat moes word, sou dit wees: Eenheid in die ANC word voorop gestel. Altyd.

Inderdaad het Ramaphosa as ’n geslypte politikus byna daarin geslaag om die verdeeldheid in die party tot skitterende eenheid om te tower. Al dui die samestelling van die topses en die 80 lede van die nasionale uitvoerende komitee (wat eers ná sy toespraak bekend geraak het) op die teendeel.

Die versekering van eenheid is gestaaf deur die (toevallige) feit dat Ace Magashule, nuwe sekretaris-generaal, en Gwede Mantashe, vorige sekretaris-generaal, weerskante van Ramaphosa gesit het. Hulle kom onderskeidelik uit die NDZ- en die CR17-kamp.

In volle ANC-drag het die glimlaggende Ramaphosa (65) presidensieel, gemaklik en geloofwaardig oorgekom. 

Sy tablet was byderhand, maar hy het dit net terloops geraadpleeg. Sy lyftaal het gespreek daarvan dat hy in beheer is. En die nagenoeg 5 000 kaders hét geluister.

Sy toespraak het nie nuwe elemente bevat nie. Dit was eerder bevestigend van ANC-beleid en van die rigting wat hy in sy veldtog aangedui het. 

Hy het die regte en verwagte geluide geuiter – oor eenheid, sosiaal-ekonomiese opheffing (by name radikale ekonomiese opheffing), grondonteiening sonder vergoeding, skoon regering, die stryd teen korrupsie, geslagsongelykheid (in die ANC, na aanleiding van die samestelling van die topses), die behoefte aan jonger lede se bydrae, ensovoorts.

En vredestakke uitgereik na waar dit nodig was – Nkosazana Dlamini-Zuma (wat hy met 179 stemme om die leierspos geklop het); die SAKP, en Cosatu.

Sy ode aan sy voorganger, Jacob Zuma, het ’n mens onwillekeurig laat dink aan die “kuns van diplomasie” wat glo is om iemand hel toe te stuur op so ’n wyse dat daarna uitgesien word.

Hy het sy lof vir Zuma (wat glimlaggend in die gehoor gesit het) geskoei op laasgenoemde se bydrae tot die stryd om vryheid, demokrasie en ontwikkeling en – beleidsgewys – tot die nasionale ontwikkelingsplan en die bekamping van MIV-vigs.

Tog moes die vroeëre onderneming in sy toespraak dat individue en families wat invloed en geld aanwend om “die manipulasie van regeringsbestuursprosesse en openbare hulpbronne” te bewerk in die gedagtes van die gehoor geluier het.

Die skaakmatsituasie wat Ramaphosa ook nié aangespreek het nie, is dat van die lede in sy topses Gupta-bande het en al van korrupsie verdink is (maar op grond van ontbrekende bewyse een voor die gereg gebly het).

Dan het hy ook nie die geregtelike ondersoek na staatskaping geopper nie, maar die versekering gegee dat die ANC se integriteitskommissie sal werk maak daarvan om “die integriteit van die ANC te herstel en te help om etiese leierskap te kweek en te bevorder”.

Weer eens spreek die lys van 80 NUK-lede wat later die ronde begin doen het tot die teendeel. Met een vinnige lees blyk dit dat verskeie lede al met meerdere of mindere ongerymdheid verbind is. 

Soos Bathabile Dlamini (parlementêre reisbedrog), Alvin Botes van die Noord-Kaap (vrygespreek van korrupsie), Bheki Cele (kontrakte), Baleka Mbete (rybewys), Tony Yengeni (van Mercedes Benz-faam), Tina Joemat-Pettersson (voorliefde vir spandabelrige reis en verblyf op staatskoste), Sylvia Lucas (voorliefde vir KFC-partytjies) en, en, en . .

Die een gevaarlig sou sy verbintenis tot grondonteiening sonder vergoeding kon wees, maar dit was ook te wagte. En moet gesien word in die grondwetlike beleidskonteks wat reeds daarvoor voorsiening maak. 

Die feit is natuurlik dat as die regering sy kant deeglik gebring het, geen grondonteiening nodig is nie. Of slegs in buitengewone gevalle. Die gevaar lê daarin as  die ANC met die grondwetlike bepalings (artikel 25.2) oor grondonteiening sou wou peuter. Dit kan die ekonomie, die markte, landbou-produksie en voedselsekerheid in die gedrang bring – al het Ramaphosa verseker dit sou nie gebeur nie.

Met sy toespraak het Ramaphosa daarin geslaag om punte vir die ANC aan te teken. En die party se wins is noodwendig die DA en die EFF se verlies.

Kortom, Cyril lyk na ‘n wenner – vir die ANC en die land. Tog gee “showing” die deurslag en nie “telling” nie.

Die uitslag van verkiesing 2019 sal die waarde van die Ramaphosa-faktor wys.

Laastens kan ’n mens nie help nie om te wonder hoe dit sou wees as dr. Nkosazana Dlamini-Zuma vanoggend vroeg se leiersuitspraak gelewer het.


Barnard Beukman

Barnard Beukman, redakteur van Beeld

Indien Cyril Ramaphosa ooit president van Suid-Afrika word, en sukses daarmee behaal, sal dit noodwendig grootliks wees vanweë die belangrikste kwessie wat hy in sy middernagtelike intreerede as ANC-president beklemtoon het: die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) as beleidsraamwerk vir die regering.

Die plan, wat reeds etlike jare gelede met groot plaaslike en internasionale akklamasie onder leiding van Trevor Manuel opgestel is, het onder pres. Jacob Zuma uiteindelik net stof vergader. Dit nadat hy toegelaat het dat dit grootliks weens druk deur SAKP-lede van sy kabinet op die rak beland het. (Ironies, omdat SAKP-politici uiteindelik van sy grootste vyande geword het).

Die beklemtoning deur Ramaphosa sal bydra tot beleggingsvertroue omdat dit groter sekerheid skep wat die regering beplan en wat hul roetekaart vir die pad vorentoe is. Iets wat grootliks afwesig was onder die Zuma-bewind.

Dit gee geloofwaardigheid aan sy duidelike verwyings na die noodsaak van ekonomiese groei, werkskepping en goeie regering om armoede teen te werk. En temper moontlike wilde scenarios as hy die term “radikale sosio-ekonomiese transformasie” gebruik. Interessant om daarop te let dat hy meermale verkies om van sosio-ekonomiese tranformasie te praat eerder as ekonomiese transformasie.

Welkom ook in sy rede was dat hy weereens sterk teen korrupsie in die geledere van ANC-ampsdraers in openbare poste uitgevaar het. Maar hy het die welkome ammunisie – ANC-politici kon hul geluk byna nie glo nie - wat die Steinhoff-skandaal in hul skoot laat val het, ook goed aanwend om vinger te wys na korrupsie in die private sektor.

Dit het hy gedoen kort nadat die konferensie ‘n resolusie aanvaar het dat staatskaping deur ‘n regterlike kommisssie ondersoek moet word en dat al die aanbevelings in Thuli Madonsela se verslag oor staatskaping ingestel moet word. ‘n Groot oorwinning oor die Zuma-kamp. 

Die groot vraag bly steeds hoeveel beweegruimte Ramaphosa vir al sy planne gaan hê met ‘n bykans gelykop verdeelde leierskorps. Een van Ramapahosa se veldtogvoerders het gister by navraag 41 uit die 80 lede van die pas verkose Nasionale Uitvoerende Komitee as pro-Cyril uitgewys. Maar die verdelingslyne is nooit so enkelvoudig nie en politici is oppertuniste wat na enige magsentrum aangetrek word soos motte na ‘n kers.

Waar plaas mens byvoorbeeld vir Fikile Mbalula, wat vir Nkosazana Dlamini-Zuma gestem het, maar voorspel het dat Ace Magashule die ANC gaan vernietig? En gaan David Mabuza as adjunkpresident van die ANC werklik enige energie verspil om Zuma te beskerm as hyself binne weke of maande adjunkpresident van die land kan wees?

Die interne dinamika gaan egter ‘n uitdaging bly, want die komitee is besaai met korruptes en onbevoegdes uit die Zuma-kamp en sluit selfs die pas veroordeelde Mduduzi Manana in – wat onlangs as adjunkminister van onderwys moes bedank omdat hy skuldig is aan aanranding met die doel om ernstig te beseer. En die slagoffers sluit vroue in. 

Afrikaanse lesers en plaaseienaars sal sekerlik die meeste ontstel wees deur die besluit om die Grondwet te verander vir die beslaglegging op grond sonder vergoeding. Die onderwerp sal in die komonde dae in diepte hanteer word in verskeie berigte en artikels. Dit sal egter wys wees om kennis te neem van die feit dat dit die mees verdelende kwessie op die konferensie was en dat daar in die besprekingsessie selfs amper-amper ‘n vuisgeveg uitgebreek het. Daar loop dus ‘n belangrike verdelingslyn oor die kwessie deur die ANC.  Belangegroepe en gemeenskappe se reaksie op die kwessie moet berekend en takties wees. Slim en ingeligte voetwerk gaan hier nodig wees eerder as net optogte na die Uniegebou. 

In die somtotaal is Ramaphosa se blote teenwoordigheid op die ANC se presidentspodium  ‘n vars bries wat selfs met al die kwalifikasies en al die “ge-ja-maar” en sonder om naief te wees, die vonk kan skep wat nodig is om ‘n nuwe politieke en ekonomiese lente in te lui.


Meer oor:  Nasrec  |  Cyril ­Ramaphosa  |  Anc-Konferensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.