Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
ANC-konferensie
Gesprekke by Luthuli-huis oor ‘vermiste stemme’

ANC-verteenwoordigers sal Vrydag glo regsverteenwoordigers sien wat probeer om die kwessie rondom die 68 “vermiste stemme” vroeër by die ANC se 45ste nasionale konferensie op te los.

Dexter Selepe van Selepe Seleke-prokureurs het bevestig dat die vergadering vir 14:30 by Luthuli-huis, die ANC-hoofkantoor in Johannesburg, geskeduleer is.

Selepe het by navraag Vrydagoggend gesê hy verteenwoordig die groep ANC-afgevaardigdes van Limpopo en KwaZulu-Natal wat deel is van die 68 stemme waaroor omstredenheid ontstaan het.

Ace Magashule, die nuwe sekretaris-generaal van die ANC, lewer sy eerste toespraak by Nasrec. Foto: Teboho Letsie

Hy sê die regsfirma tree nie namens Senzo Mchunu, ’n voormalige premier van KZN, op nie. Mchunu het met 24 stemme teen Ace Magashule, die Vrystaatse premier, verloor in die stryd om die posisie van sekretaris-generaal van die ANC.

Selepe sê die saak kan in die hof eindig, sou die partye nie tot ’n vergelyk kom nie.

Volgens hom was sy kliënte nie op die kieserslys nie, hoewel hulle gemagtig was om te stem. “Hulle het spesiale stembriewe gekry, wat in ‘kwarantyn’ geplaas is en wat dan later saam met die res van die stemme getel sou word.”

Die afgevaardigdes het hul kommer gelug dat Magashule se verkiesing onreëlmatig was, met net ’n verskil van 24 stemme tussen die kandidate.

Adj.pres. Cyril Ramaphosa, nuutverkose ANC-president, het Woensdag sy ondersteuners gevra om ter wille van die integriteit van die ANC en sy 54ste nasionale konferensie by Nasrec in Johannesburg hul hofplanne te laat vaar.

Dit blyk uit ’n video-opname, wat News24 bekom het, waarin hy hulle gevra het om te aanvaar Magashule het Mchunu in ’n naelskraapse verkiesing geklop.

Die meerderheid van die vermiste stemme is glo van takke wat Mchunu ondersteun.

Zizi Kodwa, die ANC-woordvoerder, kon nie dadelik vir kommentaar bereik word nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.