Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
ANC-konferensie
Hoofpyntyd wag op die ANC

Die 54ste nasionale konferensie en leierskapsverkiesing van die ANC het in die vroeë oggendure Donderdag by Nasrec ten einde geloop. Sarel van der Walt het met twee kenners gepraat oor van die belangrikste kwessies op die konferensie wat beskryf word as die moeilikste in die byna 106-jarige geskiedenis van die ANC.

Cyril Ramaphosa (links), die nuwe ANC-leier, en Ace Magashule, nuwe sekretaris-generaal van die ANC, nadat hulle in die naweek tot hul nuwe poste verkies is. Foto: Deaan Vivier
Hoe verdeeld is die ANC?

Ralph Mathekga (politieke ontleder en skrywer): Die ANC is baie verdeeld, nie net onder die sogenaamde topses (die ANC-president, die sekretaris-generaal, die adjunk-sekretaris-generaal, die tesourier-generaal en die nasionale voorsitter), nie, maar ook in die nasionale uitvoerende komitee (NUK, wat uit die 80 lede bestaan). 

Dit sal harde werk kos om die party weer te verenig. As ek Cyril Ramaphosa (die nuwe ANC-president) was, sou ek op een of ander wyse die ANC-takke begin konsulteer het om hulle te oortuig dat die topses sal saamwerk tot voordeel van die ANC. 

Roland Henwood (politieke ontleder aan die Universiteit van Pretoria): Vir my begin twee prentjies vorm aanneem. Die een is dat hoewel die party verdeeld is, lyk dit asof die ANC se lede die partyleiers wil dwing om op ’n manier met mekaar saam te werk.

Die ander is dat die elite van die party diep verdeeld is. Die ANC is nie net van bo na onder verdeel nie, maar ook horisontaal. 

Dit lyk vir my of die voetsoolvlak-afgevaardigdes wat by die konferensie was, ander idees as die elite het en hulle nie hiermee tevrede is nie. 
Die manier waarop daar gestem is, maak nie sin nie. Dit maak nie sin dat iemand met ’n verlede soos Ace Magashule (die nuwe sekretaris-generaal wat in die kamp van dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, die ander presidentskapkandidaat) verkies is nie.

Boonop is daar op takvlak in die ANC al hoe meer onverdraagsaamheid oor die gebrek aan toepassing van beleid.

Die boodskap op die konferensie aan die ANC se leierskap was duidelik: Julle moet iets doen aan korrupsie, (pres. Jacob Zuma, wat as ANC-leier uitgetree het) en almal wat saam met hom geïmpliseer word. 

Zuma was skaars twee dae uit sy pos toe daar ’n beweging was weg van die agenda wat hy probeer bevorder het. Die sogenaamde "wit monolopiekapitaal" was byvoorbeeld dié keer nie werklik ‘n besprekingspunt nie.

Myns insiens sal daar gouer as wat verwag word konflik tussen Zuma (as staatshoof) en die ANC wees. Hoe langer Zuma aanbly as staatshoof, hoe moeiliker kan hy dit vir Ramaphosa maak. Daarenteen het Ramaphosa nou ’n magsbasis en hy sal hom nie deur Zuma laat voorskryf nie. 

Tog sal dit nie maklik wees om van Zuma ontslae te raak nie, omdat die ANC groot geskrik het toe oudpres. Thabo Mbeki in 2008 herroep is en dit ernstige gevolge vir die ANC gehad het. 

Ralph Mathekga. Foto: Noko Mashilo

Die ANC-topses 
Matsheka: Ramaphosa het geen ander keuse nie: Hy sal eenvoudig met die topses móét saamwerk. Hy kan dit nie bekostig om nie saam met Magashule (die sekretaris-generaal)te werk nie. As Ramaphosa vir Magashule sou probeer isoleer, kan dit ernstige gevolge vir hom hê.

Henwood: Ek glo Ramaphosa sal die topses kan beheer. Wat ons nie weet nie, is wat die ooreenkomste is wat oor die verkiesing bereik is en wat agter die skerms onderhandel is. (Dit lyk of daar ‘n “verstandhouding” tussen Ramaphosa en David Mabuza, die visepresident, was om beide se poste te verseker. Dit kan ’n groot invloed op die topses hê.)

Die nasionale uitvoerende komitee (NUK) 
Matsheka: In die NUK is daar nog baie bondgenote van Zuma. Dit sal belangrik wees dat die topses gereeld die NUK konsulteer. Elke beleidsbesluit sal met die NUK bespreek moet word. Ek glo nie ’n mens kan in hierdie stadium sê daar is ’n pro- of anti-Zuma-faksie in die ANC nie. Ons weet nie of van die mense in die NUK hulle sal herposisioneer nie. Ons moet onthou ons het hier te make met politici.

Henwood: Myns insiens sal die NUK in die toekoms ’n baie belangrike rol speel. Dit is baie moeilik om te sê waar die meeste NUK-lede se lojaliteit lê. Daar is ’n paar sterk en interessante mense in die nuwe NUK. Ons sien ook mense deur die hele spektrum binne die ANC. Almal is nie pro- of anti-Ramaphosa nie. 

Grondhervorming en die nasionalisering van die Reserwebank 
Matsheka: Vir die ANC is dit ‘n taai toffie omdat nie almal in die party ten gunste van die onteiening van grond sonder vergoeding is nie. Om grond sonder vergoeding te onteien, moet die Grondwet verander word. Ek glo nie die ANC sal dit regkry nie. Selfs nie met die hulp van die EFF nie.

Ook die nasionalisering van die Reserwebank is nie so eenvoudig nie. Jy kan nie oornag die Reserwebank rasionaliseer nie omdat dié so ‘n belangrike rol in die ekonomie speel. Daar moet gesprekvoering wees met almal wat belange in die bank het, insluitende die internasionale finansiële gemeenskap wat beleggings in Suid-Afrika het.

Roland Henwood

Henwood: Die woord nasionaliseer is myns insiens misplaas. Dit beteken die Reserwebank is onder volledige staatsbesit, maar nie onder staatsbeheer nie, omdat die klousule van die Reserwebank in die Grondwet opgeneem is. 

Ons het vroeër vanjaar gesien hoe daar selfs uit ANC-kringe ’n bohaai ontstaan het toe die openbare beskermer (adv. Busisiwe Mkhwebane) aan die mandaat probeer torring het. Baie mense vergeet in baie ander lande is die sentrale bank ’n staatsinstelling.

Die grondkwessie is besig om ’n krisis te skep. Ons weet almal dit kan nie so aangaan nie. Grondhervorming is ‘n baie sensitiewe saak. (Daar is onder swart Suid-Afrikaners, wie se grond om politieke redes vroeër van hulle weggeneem is, ‘n baie groot behoefte aan grond. 

Een van die redes waarom grondhervorming en -restitusie sedert 1994 nie baie suksesvol was nie, is onder meer weens die regering se onbevoegde en onbeholpe hantering van die saak. Zuma  het dit vererger deur dit ‘n wit-swart-saak te maak.)

Die ekonomie 
Matsheka: Ons sal moet wag en sien of die nuwe ANC-leierskap goed of sleg vir die Suid-Afrikaanse ekonomie sal wees. Ek glo die markte sal aanvanklik negatief reageer oor die besluite jeens die Reserwebank en grondhervorming.

Henwood: Dit lyk asof baie van die ekonomiese besluite wat op die konferensie geneem is, soos grondonteiening sonder vergoeding, besluite was om “tyd te koop”. (Omdat dit so ‘n sensitiewe saak is wat die spanning opjaag, het die ANC die stoom uit die pot gelaat deur voor te stel ‘n beraad moet gehou word waar deskundiges met voorstelle kom oor hoe dit aangepak moet word.)

Daar is ’n groot konflikpotensiaal wanneer Ramaphosa-beleid in ’n Zuma-kabinet opgeneem word. (Daar is duidelike verskille in die manier hoe dié twee leiers dinge doen. Ramaphosa lê baie klem op alliansies en samewerking, terwyl Zuma dit tot nou toe afgebreek het.)

Meer oor:  Cyril Rampahosa  |  Ralph Mathekga  |  Topses  |  Anc-Konferensie  |  Verdeeldheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.