Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
ANC-konferensie
Is Lindiwe Cyril se maat in verkiesing?

Verwarring het Donderdagoggend geheers oor of Lindiwe Sisulu haar wel by adj.pres. Cyril Ramaphosa se veldtog om die volgende ANC-president te word aangesluit het of nie.

Sisulu is saam met Ramaphosa een van sewe kandidate wat by die ANC se nasionale leierskonferensie, wat Saterdag by Nasrec, Johannesburg, begin om die ANC se toppos sal meeding.

Derek Hanekom, ANC-LP en oudminister van toerisme, het Woensdagaand laat tot sy “groot vreugde” getwiet dat Sisulu haar by Ramaphosa se veldtog aangesluit en haar benoeming as ANC-adjunkpresident aanvaar het.

“Soos ek gesê het, sal hulle ’n goeie span maak,” twiet hy.

Hanekom was nie Donderdagoggend vir kommentaar beskikbaar nie.

Mogomotsu Mogodiri, woordvoerder vir Sisulu se veldtog, sê hy dra geen kennis oor waarom Hanekom sou twiet dat Sisulu haar by Ramaphosa se kamp aangesluit het nie.

“Ons is nie bewus van enige ooreenkoms dat Lindiwe Sisulu by die Cyril Ramaphosa-veldtog aangesluit het nie. Hierdie beweringe word deur mense gemaak wat aan ander veldtogte behoort. Hoekom praat hulle nie oor hul eie veldtog nie?

Lindiwe Sisulu

“Die laaste keer toe ek gaan kyk het – en dit was ’n minuut gelede – duur Sisulu se veldtog as ’n ANC- presidensiële kandidaat steeds voort,” het Mogodiri Donderdagoggend gesê.

Intussen het Business Day ook Donderdag berig dat Sisulu aan dié koerant sou gesê het dat sy op die nasionale leierskonferensie sal staan vir die pos van die ANC se adjunkpresident.

Dit nadat sy deur die meerderheid takke in vier verskillende provinsies, die Wes-Kaap, Gauteng, Limpopo en die Noord-Kaap, vir die pos benoem is.

Ramaphosa se woordvoerders was Donderdagoggend nie beskikbaar vir kommentaar nie.

* Volg Netwerk24 vir meer inligting.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.