Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
ANC-konferensie
Kom skeuring in ANC ná konferensie?

’n Skeuring in die ANC na afloop van die party se 54ste nasionale konferensie wat eerskomende naweek in Johannesburg begin, is volgens politieke kenners nie onmoontlik nie.

“Ek dink dit is ’n moontlikheid, maar die ANC sal alles in sy vermoë probeer doen om dit te vermy,” sê prof. Amanda Gouws, politieke ontleder aan die Universiteit Stellenbosch.

Dit kom ná berigte dat die ANC kan skeur sou adj.pres. Cyril Ramaphosa die ANC-leierstryd teen dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, ANC-LP, verloor. Ramaphosa sal dit, na wat berig word, glo moeilik vind om agter Dlamini-Zuma te verenig en hy sal nie bereid wees om aan te bly as adjunkpresident nie.

Gouws het Maandag by navraag gesê ’n skeuring sal beteken dat die ANC ná die nasionale verkiesing in 2019 ’n koalisieregering sal moet vorm as een van die faksies wegbreek.

“Die een faksie is bekend daarvoor dat hulle korrupsie pleeg, oneties optree en dat hulle Zuma ondersteun en beskerm, terwyl die ander een hulle vir skoon regering en ’n stabiele ekonomie beywer.

As Ramaphosa verloor, moet hy weet hy kan nie aanbly nie.
Prof. André Duvenhage

“Ek dink egter hulle sal hard werk om ’n skeuring te voorkom, maar daar is reeds sprake daarvan dat Ramaphosa nie bereid sal wees om as adjunkpresident in Dlamini-Zuma se span aan te bly nie,” sê sy.

Prof. André Duvenhage, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit, het op sy beurt gesê Dlamini-Zuma sal bereid wees om die amp as adjunkpresident of voorsitter van die party te aanvaar as sy die presidentskap sou verloor.

“As Ramaphosa verloor, moet hy weet hy kan nie aanbly nie. Dit hou verband met sy uitsprake oor Fezekile Ntsukela Kuzwayo, ook bekend as Kwezi, wat Zuma van verkragting beskuldig het, en oor staatskaping. Namate sy veldtog gevorder het, het hy al hoe meer kritiese uitsprake ten opsigte van pres. Zuma gemaak.”

Ramaphosa en sy ondersteuners soos Jackson Mthembu, ANC-hoofsweep, en Gwede Mantashe, sekretaris-generaal, sal volgens Duvenhage “op geleende tyd” wees as die ander groep wen.

Intussen het Fikile Mbalula, minister van polisie, sy steun vir Dlamini-Zuma Sondagaand op Twitter voortgesit.

“Die bewering is dat dié groep die politieke party wat onlangs deur dr. Makhosi Khoza, voormalige ANC-LP, gestig is, as voertuig kan gebruik as hulle die ANC verlaat,” sê Duvenhage.

Hy sê verder as die hof teen die prosesse van die ANC se takvergaderings in Mpumalanga en die Vrystaat beslis, die nasionale konferensie in ’n krisis gedompel kan word omdat die legitimiteit daarvan in twyfel getrek kan word.

  • Intussen het Fikile Mbalula, minister van polisie, sy steun vir Dlamini-Zuma Sondagaand op Twitter voortgesit. Ná sy reeks twiets verlede week waarin hy haar deugde besing het, het Mbalula Sondag getwiet: “Staal julself vir die eerste vrouepresident, NDZ.”

Hy het voorspel dat Dlamini-Zuma die ANC se presidentskap met ’n groot meerderheid sal wen. Dit is opgevolg met verdere twiets waarvan een onder meer gelui het dat die ANC die nasionale verkiesing in 2019 sal wen met Dlamini-Zuma as die president.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.