Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
ANC-konferensie
Nkosazana: Omstrede en bewonder

Op die oog af is dr. Nkosazana Dlamini-Zuma (#NDZ) ’n stil, skaam mens. Diegene wat haar egter ken, sê dié deurwinterde politikus het ’n baie sterk wil.

Sy is ’n vegter wat nie gaan lê nie. ’n Ouskool ANC-tradisionalis. Beginselvas en regverdig.

En Suid-Afrika en die ANC het nog nooit ’n vrou as president gehad nie.

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma Foto: Siyanda Mayeza

Die 68-jarige Dlamini-Zuma, ’n gebore KwaZulu-Nataller, hoop om op die komende nasionale konferensie van die ANC by Nasrec in Johannesburg geskiedenis te maak en tot leier van die ANC verkies te word.

Dit sal die weg baan dat sy pres. Jacob Zuma, haar eksman, ook later as staatshoof opvolg.

Sy is Zuma se voorkeurkandidaat om hom op te volg.

Nie net was sy met die ANC se vryheidstryd in ballingskap nie, maar sy het reeds drie kabinetsposte beklee en was tot vroeër vanjaar die voorsitter van die Afrika-Unie (AU).

Dlamini-Zuma het onder al vier Suid-Afrikaanse presidente sedert die eerste demokratiese verkiesing in 1994 gedien.

In pres. Nelson Mandela se kabinet was sy die minister van gesondheid, en onder press. Thabo Mbeki en Kgalema Motlanthe was sy die minister van buitelandse sake.

In Zuma se eerste termyn het hy haar as minister van binnelandse sake aangestel om dié sukkelende departement te probeer regruk.

Persoonlike lewe en loopbaan

Die politieke joernalis Carien du Plessis skryf in haar boek Women in the Wings: Nkosazana Dlamini-Zuma and the Race for the Presidency dat Dlamini-Zuma, die oudste van agt kinders, aanvanklik ’n prokureur wou word.

Haar pa, Willibrod Dlamini, se keuse vir haar was medies.

Dlamini-Zuma het in 1971 aan die Universiteit van Zoeloeland ’n BSc-graad in dierkunde en plantkunde behaal voordat sy met haar mediese studies aan die Universiteit van Natal begin het.

Hier het sy al hoe meer in die stryd teen apartheid betrokke geraak voordat sy in 1976 haar studies opgeskort, die land verlaat en in ballingskap gegaan het.

Dlamini-Zuma het op skool al ’n wrewel in apartheid ontwikkel en al hoe meer politiek bewus begin word.

Sy is via Tanzanië na Engeland, waar sy haar mediese studies in 1978 aan die Universiteit van Bristol voltooi het.

Dlamini-Zuma was in Engeland betrokke by ANC-aktiwiteite en het in dié tyd ook deur Europa gereis om steun vir die ANC se bevrydingstryd te werf.

Haar paaie het in 1981 met dié van Jacob Zuma gekruis toe sy in ’n hospitaal in Mbabane, Swaziland, gaan werk het. Hier het sy vir Zuma, wat ook in ballingskap was, ontmoet. Hulle was van 1982 tot 1998 getroud en het vier kinders.

Sy was Zuma se derde vrou.

In 1985 het Dlamini-Zuma na Engeland teruggekeer en ’n nagraadse diploma in die behandeling van tropiese kindersiektes aan die Liverpool-universiteit behaal.

In 1989 het sy by die ANC se gesondheidsdepartement in Lusaka, Zambië, begin werk. Die ANC se hoofkantoor was destyds daar.

Sy het in 1991 na Durban teruggekeer en as ’n navorser by die Mediese Navorsingsraad begin werk. Sy is later na Pretoria verplaas.

Die Sarafina II-debakel

Mandela het haar in 1994 as die minister van gesondheid aangestel. Sy was ’n omstrede minister.

Buiten dat sy onthou sal word as die minister wat rook in openbare plekke verbied het, is sy skerp vir haar besluite oor MIV/vigs gekritiseer.

Haar termyn as die minister van gesondheid sal ook vir die Sarafina II-debakel onthou word.

Dlamini-Zuma het in 1996 ’n kontrak van R14 miljoen vir ’n MIV/vigs-bewusmakingstoneelstuk, Sarafina II, met die dramaturg Mbongeni Ngema aangegaan, terwyl van die ander tenderaars so min as R600 000 wou hê. Sy het egter nagelaat om te sê dat sy en Ngema bevriend is.

Die openbare beskermer het bevind dat die korrekte werkwyse nie met die tenderproses gevolg is nie. Die Europese Unie was woedend omdat die geld uit ’n EU-skenking van R48 miljoen vir die stryd teen MIV/vigs gekom het.

Buitelandse sake

In 1999 het Mbeki verras deur Dlamini-Zuma as minister van buitelandse sake aan te stel.

In haar ampstermyn van tien jaar het sy as Mbeki se top-diplomaat met verskeie uitdagings te make gekry – van die probleme in die Demokratiese Republiek van die Kongo tot dié in Zimbabwe toe sy Mbeki se beleid van “stille diplomasie” toegepas het.

Du Plessis wys daarop dat Dlamini-Zuma in Suid-Afrika se twee termyne as lid van die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies onder meer gestem het teen ’n resolusie van die veiligheidsraad teen die bloedige diktatorskap in Mianmar. Suid-Afrika het ook ’n mosie teen Zimbabwe gekeer.

Myns insiens was sy ’n baie goeie minister. Sy het doelgerig Suid-Afrika se belange bevorder en was hardwerkend.

‘Sy was ’n goeie minister’

Die ouddiplomaat Gert Grobler, wat ’n paar jaar as waarnemende adjunk-direkteur-generaal van buitelandse sake onder Dlamini-Zuma gewerk het, sê hy het net die grootste agting vir haar.

“Daar is baie wanopvattings oor haar.

“Myns insiens was sy ’n baie goeie minister. Sy het doelgerig Suid-Afrika se belange bevorder en was hardwerkend.

“Sy was ’n goeie administrateur en bestuurder van mense. Sy is uit eie reg ’n sterk vrou, beginselvas en regverdig,” sê Grobler.

Binnelandse sake

Zuma het haar tien jaar later in sy eerste kabinet as minister van binnelandse sake aangestel. Twee jaar later het dié departement onder haar leiding die eerste keer ’n skoon oudit ontvang.

Oor haar vertoning in dié departement is ook gemengde gevoelens.

Voorsitter van die Afrika-Unie (AU)

Dlamini-Zuma is in 2011 benoem as voorsitter van die AU, maar sy het toe aangedui dat sy nie belangstel nie. In Januarie die volgende jaar het sy Suid-Afrika se kandidaat vir dié pos geword en is later verkies.

Hoewel sy nie in 2012 die ANC se nasionale konferensie in Mangaung kon bywoon nie, het sy in die verkiesing van die party se nasionale uitvoerende komitee meer stemme as enigiemand anders op die kongres getrek.

Dit was ’n bewys van hoe gewild sy in die party was.

Sy was egter ook in haar tyd as AU-voorsitter omstrede.

Daar was talle krisisse waaroor sy leiding moes gee: Onder meer die probleme in Mali, die Sentraal-Afrikaanse Republiek, Burundi, Suid-Soedan, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Somalië, Afrika-lande se lidmaatskap van die internasionale geregshof en die voorval waarin ’n groep Nigeriese skoolmeisies deur Boko Haram gyselaar geneem is.

Wat tel in haar guns?

Die politieke ontleder Theo Venter van die Noordwes-Universiteit se sakeskool sê Dlamini-Zuma word in ANC-kringe gesien as ’n swaargewig omdat sy in ballingskap saam met struggle-veterane soos oudpres. Thabo Mbeki en Jackie Selebi was.

Haar uitgebreide ervaring as kabinetslid in verskeie portefeuljes, sowel as haar ervaring as voorsitter van die AU, tel in haar guns.

Nog ’n voordeel is dat sy ’n sterk mening het.

Wat kan teen haar tel?

Die Sarafina II-debakel hang soos ’n albatros om haar nek, sê Venter.

Ook haar noue verbintenis met Zuma, ondanks die feit dat sy nog nooit met die Guptas verbind is nie.

“Al is sy van hom geskei, het sy haarself nog nooit behoorlik van hom losgemaak nie. Waarskynlik om hul kinders se onthalwe, maar haar assosiasie met hom skrik baie mense af.”

Wat sal haar beleid wees?

Venter sê Dlamini-Zuma praat gereeld oor die ANC se beleid van “radikale ekonomiese transformasie”.

Hy glo sy sal dié beleid met nuwe ywer toepas. “Sy sal dit turbo-charge.”

Haar blootstelling as minister van buitelandse sake en voorsitter van die AU aan Afrika en die res van die wêreld moes ’n invloed op haar denke gehad het.

Wie weet, dalk laat sy Mbeki se Afrika-renaissance, wat onder haar eksman so te sê doodgeloop het, herleef.

“Wie weet, dalk laat sy Mbeki se Afrika-renaissance, wat onder haar eksman so te sê doodgeloop het, herleef,” sê Venter.

Wie is haar vernaamste bondgenote in die ANC?

Dlamini-Zuma het in die aanloop tot die nasionale konferensie en leierskapsverkiesing die steun van vier van die vyf provinsies gekry. Dié provinsies is die Vrystaat, Noordwes, KwaZulu-Natal en Mpumalanga.

Die ANC-vroueliga en die -jeugliga steun haar ook.

Die groot kanonne in haar hoek is mense soos Zuma, Ace Magashule, premier van die Vrystaat, Supra Mahumapelo, premier van Noordwes, Sihle Zikalala, voorsitter van die ANC in KwaZulu-Natal, en Nathi Mthethwa, minister van kuns en kultuur.

Het jy geweet?

* Kort nadat Mandela in 1990 vrygelaat is, het hy versoek dat Dlamini-Zuma hom as dokter op ’n oorsese besoek vergesel. Sy wou aanvanklik nie gaan nie, maar Mandela het daarop aangedring.

Du Plessis vertel in haar boek Women in the Wings: Nkosazana Dlamini-Zuma and the Race for the Presidency dat Mandela tydens dié reis van borspyn gekla het.

Dlamini-Zuma, wat slegs ’n stetoskoop by haar gehad het, het die president ondersoek en tot die gevolgtrekking gekom hy het moontlik net ’n borsspier seergemaak het. Volledige mediese toetse het dit later bevestig.

Mandela was so beïndruk dat hy haar in 1994 as minister van gesondheid aangestel het.

* Toe Mbeki vir Zuma in 2005 as adjunkpresident afgedank het, het hy Dlamini-Zuma gevra om dié pos oor te neem. Sy het dit glo op versoek van hul kinders van die hand gewys.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.