Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
ANC-konferensie
Onteiening kan járe lank neem

Dit kan nog jare wees voordat die ANC landbougrond sonder die betaling van vergoeding ont­eien en die konstitusionele hof kan ’n stokkie daarvoor steek.

Art. 25 van die Grondwet se Handves van Menseregte beskerm eiendomsreg. As dié artikel gewysig word, sal alle soorte eiendom – ’n plaas, hoewe, huis, handelsmerk, pensioenfonds en selfs aandele op die aandelebeurs – “potensieel in die gedrang wees”, sê Annelize Crosby, ’n grondwetkenner.

Art. 25 is van toepassing op vaste, roerende en intellektuele eiendom.

Hoe gaan daardie skuld gedelg word?

Crosby, hoof van grondsake by Agri SA, sê dit sal op onbillike diskriminasie neerkom om slegs die konfiskering van landbougrond toe te laat.

“Ons weet wel nog nie presies wat die ANC beplan nie.”

Lawson Naidoo, uitvoerende sekretaris van die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet ­(Casac), meen die ANC sal seker maak dat die wysiging so eng geskryf word dat dit slegs op grond en geboue van toepassing sal wees.

Art. 25 lui eiendom mag ont­eien word teen vergoeding, waarvan die bedrag deur ’n hof bepaal moet word.

Naidoo sê dit is eintlik nie nodig om die eiendomsklousule te wysig nie, aangesien art. 25(3) bepaal dat die vergoedingsbedrag vir onteiende eiendom “billik en regverdig” moet wees.

Onder bepaalde omstandighede kan eiendom dus reeds sonder vergoeding onteien word.

Faktore wat in ag geneem moet word, sluit in die huidige gebruik van die eiendom, hoe dit aanvanklik bekom is, die markwaarde, die omvang van direkte staatsbelegging in die koop daarvan en die doel van onteiening.

Louise du Plessis, ’n prokureur van Regslui vir Menseregte, sê wanneer grond onteien word, “is dit nie te sê jy moet enigsins vergoeding kry nie”.

Vergoeding mag reeds onder markwaarde wees vir grond wat byvoorbeeld teen ’n appel en ’n ei in die apartheidsera opgeraap is. Sy glo ook die parlement hoef nie art. 25 te wysig nie.

Bulelwa Mabasa, grondeisekenner van Werksmans Prokureurs, sê twee derdes van LP’s se stem is nodig vir ’n Grondwetwysiging. Die EFF het die afgelope week sy 6% beloof om die ANC (62%) te help om die nodige drempel van 66,6% te oorskry. “Die wil van die burgery sal uiteindelik seëvier en die LP’s moet dié wil beskerm.”

Mabasa sê as die wysiging deurgevoer word en verontriefde partye wil dit uitdaag, sal hulle ’n aansoek by die konstitusionele hof moet indien, maar die hof sal moet aandui waarom hy die wil van die burgery ondermyn.

’n Lang wetgewende proses wag.

“Eers moet dit beleid word, daarna ’n wetsontwerp, wat gepubliseer moet word vir openbare deelname. Daarna word dit ’n wet. Dit kan jare neem.”

Dr. Theuns Eloff, uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting, sê so ’n wysiging is aanvegbaar, aangesien ander grondwetlike regte benadeel word.

Die konstitusionele hof kan wel bevind dat die gelykheidsbeginsel (in art. 9) swaarder as die reg op vergoeding weeg.

Die ander scenario is dat die hof kan sê daar is genoeg maatreëls in die “ou” art. 25 om regstelling deur onteiening moontlik te maak.

Eloff sê die beplande wysiging is slegte nuus vir boere, beleggers en grondeienaars.

Die ekonoom Mike Schüssler sê die eienaars van landbougrond skuld banke sowat R140 miljard. As eienaars grond verloor waarop verbande geregistreer is en nie vergoed word nie: “Hoe gaan daardie skuld gedelg word?”

Ook Cas Coovadia, besturende direkteur van die Bankvereniging van Suid-Afrika (Basa), sê sodra dié soort onteiening plaasvind, sal banke genoop wees om hul lenings aan die vorige eienaars op te roep.

Dan Kriek, president van Agri SA, sê die staat dra boonop nie die grond wat hy onteien in die nuwe eienaars se ­name oor nie. Dit bly staatsgrond.

“Opkomende boere is ongelooflik kwaad daaroor. Hulle kan nie bank toe gaan en lenings aangaan nie, want hulle kan die grond nie as waarborg lewer vir die terugbetaling daarvan nie. Hulle bly ten volle van die staat afhanklik.”

  • Die ANC het mal geraak, sê Omri van Zyl van Agri SA in Weekliks.
Meer oor:  Grondhervoming
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.