Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
ANC-konferensie
Ramaphosa: Kan hy uit die skadu kom?

Die dag toe Nelson Mandela op 11 Februarie 1990 ná 27 jaar in die tronk uit die Victor Verster-gevangenis (nou die Drakenstein-gevangenis) in die Paarl gestap het, was Cyril Ramaphosa (#CR17) aan die wêreld se bekendste politieke gevangene se sy.

Ramaphosa het die sambreel vasgehou waaronder Mandela daardie Sondagmiddag onder die bloedige Bolandse somerson deur die tronk se hekke gestap het.

Toe Mandela enkele ure later op die trappe van die Kaapstadse stadsaal sy eerste toespraak as ’n vry man gelewer het, was Ramaphosa langs hom.

’n Paar jaar later het Madiba gesê Ramaphosa is sy eerste keuse as sy opvolger.

Adj.pres. Cyril Ramaphosa langs oudpres. Nelson Mandela met Mandela se vrylating in Februarie 1990. Die foto het destyds in die dagblad Beeld verskyn. Foto: Argief

Met Mandela se vrylating was Ramaphosa hoofsekretaris van die National Union of Mineworkers (NUM), die grootste vakbond in die land, en voorsitter van die nasionale verwelkomingskomitee wat Mandela se program ná sy vrylating moes koördineer.

Anderhalf jaar later het Ramaphosa die sekretaris-generaal van die ANC geword. Om dít te kon regkry, het hy twee struggle-veterane geklop.

Een van húlle was Jacob Zuma, wie se opvolger as president van die ANC nou binne enkele dae op die party se nasionale konferensie by Nasrec in Johannesburg verkies moet word.

Wie ook al by Zuma oorneem, sal hom waarskynlik ook later as president van Suid-Afrika opvolg.

Die ander kandidaat wat Ramaphosa getroef het, was Alfred Nzo, wat later onder Mandela minister van buitelandse sake sou word.

Mandela het dié pos aanvanklik aan Ramaphosa aangebied, maar hy het dit van die hand gewys (meer hieroor later).

Die joernalis Ray Hartley skryf in sy boek Ramaphosa: The man who would be king wat pas verskyn het, Ramaphosa het vroeg al ’n diepe indruk op Madiba gemaak.

Nadat Ramaphosa sekretaris-generaal van die ANC geword het, het Mandela gesê sy verkiesing is ’n bewys dat die vlam van die ouer generasie leierskap na die jonger generasie oorgedra is.

’n Politieke ster begin skyn

Ramaphosa is in 1952 in Johannesburg gebore en het in 1971 in Sibasa in die eertydse Venda gematrikuleer.

Hy het daarna aan die destydse Universiteit van die Noorde (nou die Universiteit van Limpopo) by Turfloop naby Polokwane studeer.

Prof. Anton Roodt van die Universiteit van die Witwatersrand se sakeskool was destyds op Turfloop een van Ramaphosa se dosente.

Die jong Ramaphosa het hom, soos vir Mandela baie jare later, beïndruk.

“Hy was ’n studenteleier wat bereid was om sy sienings op ’n duidelike en konstruktiewe wyse te stel,” onthou Roodt.

Jy kry nie ’n meer betroubare mens om mee te onderhandel as Cyril nie. Hy is ’n fenomenale strategiese denker en onderhandelaar

In die 1980’s was Ramaphosa as NUM-vakbondleier ’n doring in die vlees van die land se mynbase.

Die aspirant-president het hom toe al as ’n politieke rolspeler gevestig en die oog van die (toe nog) verbode ANC-leierskap gevang.

Sy en Roodt se paaie het in dié tyd weer gekruis.

“Ek was by die korporatiewe wêreld betrokke en hy by die NUM en Cosatu toe ons oor arbeidswetgewing onderhandel het.

“Jy kry nie ’n meer betroubare mens om mee te onderhandel as Cyril nie. Hy is ’n fenomenale strategiese denker en onderhandelaar,” sê Roodt.

Maar alles het nie altyd vir Ramaphosa as vakbondleier verloop soos dit moes nie.

In 1987 het Ramaphosa en die NUM ’n reuse-mynstaking van stapel gestuur waaraan 340 000 mynwerkers by 44 goud- en steenkoolmyne deelgeneem het.

Ongelukkig vir Ramaphosa het dié staking uiteindelik meer as 50 000 mynwerkers hul werk gekos.

Die onderhandelingsvermoë wat Ramaphosa as vakbondleier ontwikkel het, het Mandela so beïndruk dat hy hom as die ANC se hoofonderhandelaar aangewys het vir die onderhandelinge by die Konvensie vir ’n Demokratiese Suid-Afrika (Kodesa) om ’n nuwe politieke bedeling daar te stel.

Terugslag vir Ramaphosa

Toe die ANC in 1994 aan die bewind gekom het, het Mandela op aandrang van die ANC-veterane vir Thabo Mbeki as adjunkpresident gekies.

Die gevoel was Ramaphosa was nog te jonk vir dié pos. Baie van die oudstryders wat jare lank in die buiteland in ballingskap was, het Ramaphosa vroeg al as ’n “tasbare bedreiging vir hul oorwig in die ANC” begin sien, skryf Hartley in sy boek.

Ramaphosa het in die 1980’s noue bande met die United Democratic Front (UDF) en die Mass Democratic Movement (MDM) gehad.

Mandela het Ramaphosa die senior pos van minister van buitelandse sake aangebied, maar hy wou dit nie hê nie.

Hy het Mandela gevra om eerder as sekretaris-generaal van die ANC aan te bly om die party uit te bou.

Tog moes Ramaphosa baie ontsteld gewees het oor wat gebeur het, want volgens Hartley het Ramaphosa nie Mandela se inhuldiging by die Uniegebou in Pretoria bygewoon nie.

Ramaphosa het later gesê hy besef hy was destyds te jonk en onervare vir die pos van adjunkpresident.

Formidabele onderhandelaar

Die reuserol wat Ramaphosa as hoofonderhandelaar van die ANC met die Kodesa-onderhandelinge in Kempton Park gespeel het, is alom bekend.

Sy goeie verhouding met Roelf Meyer, die hoofonderhandelaar van die Nasionale Party-regering, was ’n sleutel tot die sukses van dié onderhandelinge.

Nadat die ANC aan die bewind gekom het, het Mandela Ramaphosa gevra om die komitee te lei wat ’n nuwe Grondwet vir Suid-Afrika moes skryf. Dié proses is in 1996 afgehandel.

Ramaphosa het die nuwe Grondwet as Suid-Afrika se “geboortesertifikaat” beskryf.

Die sakewêreld

Hierna het Ramaphosa uit die politiek getree en hom in die sakewêreld begeef. Hy het superryk geword en was selfs bereid om R18 miljoen vir ’n buffel op te dok.

Maar die politieke vlammetjie het in sy agterkop bly brand en in 2012 het hy na die politiek teruggekeer.

In Mangaung is hy as adjunkpresident van die ANC onder Zuma verkies.

Ramaphosa het ná die verkiesing van 2014 ook adjunkpresident van Suid-Afrika geword.

In dié pos is hy verantwoordelik vir regeringsake in die parlement en is hy ook voorsitter van die nasionale beplanningskommissie.

Maar daar is ’n albatros om sy nek.

Sy kritici hou hom nou nog verantwoordelik vir die rol wat hy gespeel het as nie-uitvoerende direkteur van die Lonmin-groep in die aanloop tot die Marikana-slagting in 2012, waarin 34 mynwerkers deur die polisie doodgeskiet is.

Die Farlam-kommissie van ondersoek na dié slagting het Ramaphosa uiteindelik van alle blaam onthef, maar hy self het al toegegee hy beskou dié saak nog nie as afgehandel nie.

Adj.pres.Cyril Ramaphosa Foto: ELIZABETH SEJAKE

Persoonlike lewe:

Ramaphosa is ’n baie private mens en nie veel is bekend oor sy persoonlike lewe nie.

Wat wel bekend is, is dat hy ’n groot voorliefde vir boer het, met die fokus op beeste (veral Ugandese Ankole-beeste) en wild.

Hy is getroud met Tshepo Motsepe, suster van die mynmagnaat Patrice Motsepe. Vroeër was hy getroud met Nomazizi Mtshotshisa.

Sy beleid:

Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, sê die ANC-president neem nie beleidsbesluite nie. Hy bring bloot ANC-beleid tot uitvoering.

* Dit is duidelik die ekonomie sal onder Ramaphosa voorrang geniet.

Hy sê die drie grootste uitdagings waardeur Suid-Afrika in die gesig gestaar word, is werkloosheid, armoede en ongelykheid.

* Meer Suid-Afrikaners – en veral vroue – moet volgens hom ’n groter rol in die ekonomie begin speel.

Die ekonomie is steeds in die hande van ’n klein minderheid. Te veel swart Suid-Afrikaners is bloot toeskouers.

Ramaphosa glo die Suid-Afrikaans ekonomie het die potensiaal om weer ’n groeikoers van 5% te handhaaf. ’n Groeikoers van 6% is egter nodig om ’n beduiende hoeveelheid werksgeleenthede te skep.

* As hy president word, sal die omvangryke Nasionale Ontwikkelingsplan waarskynlik afgestof en toegepas word.

* As ’n voormalige vakbondleier het hy steeds ’n baie simpatieke oor vir die vakbonde.

* Die verhouding tussen die ANC en sy alliansievennote, die vakverbond Cosatu (in wie se stigting hy ’n kernrol gespeel het) en die SAKP, sal waarskynlik onder Ramaphosa beter wees as die laaste paar jaar onder eers Mbeki en toe Zuma.

Ramaphosa is sowel die SAKP as Cosatu se voorkeurkandidaat.

* Hy is uitgesproke oor korrupsie en sê die geld wat met staatskaping verlore gegaan het, kon gebruik gewees het vir onder meer beter dienslewering en die bou van skole, hospitale en huise.

Wat tel in sy guns?

* Prof. Dirk Kotze, ’n politieke ontleder van Unisa, sê wat Ramaphosa uniek maak, is dat hy die eerste president sal wees wat uit die geledere van die vakbonde, die UDF en die MDM kom. Hy was nooit in ballingskap nie.

* Wat ook baie in sy guns tel, is die rol wat hy destyds in die Kodesa-onderhandelinge gespeel het. Hy word beskou as een van die argitekte van die Grondwet.

* Kotze sê wat verder in Ramaphosa se guns tel, is dat hy die ekonomie danksy sy agtergrond as vakbond- en sakeman baie goed ken.

* Dit is ook tot sy voordeel dat hy nie van KwaZulu-Natal af kom nie. “Ek glo daar is ’n verstandhouding in die ANC dat die presidentskap van die party roteer,” sê Kotze.

Wat tel teen hom?

* Kotze meen die Marikana-slagting word teen Ramaphosa gehou. “Hyself het ook al gesê hy beskou die Marikana-sage as ‘onafgehandel’.”

Wat moontlik in sekere kringe teen hom kan tel, is die feit dat hy nooit in ballingskap was nie.

* “Toe hy in 1991 seketaris-generaal van die ANC geword het, was hy ’n relatiewe nuweling in die ANC.”

* Kotze sê wat uit die linkerkant van die ANC teen hom gehou kan word, is sy sake-agtergrond. “Daar is talle in dié kringe wat bang is hy sal te pro-sake wees.”

Vernaamste bondgenote in die ANC

Dit sluit in mense soos dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, Jeff Radebe, minister in die presidensie, Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings (hoewel sy tans nog self ’n kandidaat in die presidentswedloop is), Naledi Pandor, minister van wetenskap en tegnologie, Pravin Gordhan, afgedankte minister van finansies, Gwede Mantashe, uittredende sekretaris-generaal van die ANC, Paul Mashatile, voorsitter van die ANC in Gauteng en voormalige kabinetslid, en Zwele Mkhize, die huidige tesourier-generaal wat tans ook ’n kandidaat in die presidentswedloop is.

Het jy geweet?

Met die vorige nasionale konferensie van die ANC vyf jaar gelede in Mangaung (Bloemfontein), het Ramaphosa in die verkiesing om die visepresidentskap 40 meer stemme gekry as Zuma in die presidentskapsverkiesing.

Ramaphosa het 3 018 stemme op hom verenig in sy stryd teen Tokyo Sexwale en Mathews Phosa.

Zuma, wat oudpres. Kgalema Motlanthe in die presidentsverkiesing verslaan het, het die steun van 2 978 van die afgevaardigdes gehad.


Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Kandidaat  |  Anc-Konferensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.