Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
ANC-konferensie
Verlossing vir die ANC?

Die magsewewig is nou erg delikaat in die ANC en sal eksakte politieke bestuur verg, maar Zuma se mag is 80% minder noudat sy termyn as ANC-president verstryk het, skryf Richard Calland.

Cyril Ramaphosa kort ná sy verkiesing as ANC-leier. Foto: Elizabeth Sejake

Vir Cyril Ramaphosa was sy oorwinning ’n oomblik van verlossing.

Toevallig was ek naby die verhoog op die oomblik toe die goeie nuus hom op sy selfoon bereik het. Hy het opgekyk, en oomblikke voordat hy sy oë toegemaak, sy arms oopgesprei, en sy hande na bo gedraai het asof na ’n hoër politieke mag, het ek reg in sy oë gekyk.

Wat ek gesien het, was verligting, ongeloof, en ontboesemde genot.

Ek moet bieg dat dit onmoontlik was om nie ingetrek te word in hierdie intens emosionele private en tog ook openbare oomblik nie, want hier was ’n politieke leier wat soveel op die spel geplaas het – waaronder sy reputasie – deur in te stem om as adjunkpresident te verskyn op Jacob Zuma se lys vyf jaar gelede by die ANC se laaste verkiesingskonferensie in Mangaung.

Die rede waarom ek was waar ek was op hierdie ongelooflike oomblik in so ’n lang politieke loopbaan, was dat ek besig was om te stoei om te skuif van een kant na die ander kant van die reusesaal wat vir vyf lang dae die setel was van ’n twisgierige politieke party wat met ’n eksistensiële krisis worstel.

Dlamini-Zuma se faksie het magtiger geword .

Die krisis het op betreklik eenvoudige wyse uitdrukking gevind in twee faksies wat met groot ywer en dikwels ook vurig oor byna elke item op die sakelys van die konferensieprogram gestry en in blokke dwars oor die saal gesit het.

Na links as jy jou gesig gedraai het na die verhoog, het die provinsies gesit wat op die oog af groter ondersteuners was van Nkosazana Dlamini-Zuma: Noordwes, Mpumalanga, die Vrystaat, KZN en die vroueliga.

Ek sê “op die oog af” nie net weens die benoemingsyfers nie maar ook weens die luidrugtige en uitgelate sang, onder leiding van die Noordwes-koor, van NDZ se aansteeklike lofsang
“Phakama Nkosazana Ixesha lisondele” (Staan op, Nkosazana, jou tyd is hier).

En tog. Dít was nie die volle prentjie nie – nóg van die syfers nóg van die skouspel.

Krap onder die oppervlak en als was nie soos dit gelyk het nie.

Soos ’n metafoor vir die verdeling van die benoemings het jy al hoe meer singery oor Ramaphosa gehoor hoe verder na agter in die arena jy geloop het, gewoonlik saam met die “substitusie”-handgebare wat tien jaar gelede so gewild geword het toe Zuma die mag by Polokwane gegryp het.

As jy gedurf waag het om die “reël” te oortree dat die media nie met afgevaardigdes mag gesels nie – vir redes wat steeds duister is – dan sou jy interessante standpunte en onafhanklike denke teëkom op die verrassendste plekke. Soos die afgevaardigde van Noordwes wat vir my gesê het: “Nee, ons is meer verdeeld as wat jy besef. Hulle (NDZ-ondersteuners) maak die geraas, maar ons (CR17) het die getalle”.

Herroeping van Zuma deur die NUK lyk onwaarskynlik.

Of die Mpumalanga-afgevaardigde van ’n tak wat Quichotagtig gekies het om nóg Ramaphosa nóg Dlamini-Zuma te benoem en eerder die idee te kies van “eenheid”, wat ná ’n passievolle lesing oor die rol van eenheid in die ANC se geskiedenis van byna 106 jaar erken het dat die meeste van die afgevaardigdes wat so hoog opgee oor “eenheid” eintlik maar vir Ramaphosa sou stem. Dit is waarom ek bereid was om 24 uur voor die bekendmaking van die uitslae te voorspel Ramaphosa sal wen.

Dis eers genoeg oor die kleur en die skouspel en die semiotiek van die konferensie, so belangrik as wat semiotiek in die politiek dikwels is, veral in die diep historiese konteks van die ANC.

Was hierdie inderdaad ’n sege vir Ramaphosa en die hervormingsgesinde faksie?

Die bykans onbegrensde toejuiging van die aankondiging van sy rakelingse oorwinning, met 52% teenoor 48%, het nie lank gehou nie.

Ofskoon die verkiesing van David “DD” Mabuza voorspelbaar was, was die verkiesing tot die topses van die Vrystaatse leier, Ace Magashule, ’n uitklophou tussen die oë vir die CR17-veldtog, wat oombliklik besef het hul kandidaat erf ’n verdeelde huis; selfs ’n gifbeker.

Die paradoks is dus dat terwyl die kandidaat (NDZ) die verkiesing verloor het, het haar faksie magtiger geword – die vrug van ’n langtermynstrategie van politieke akkumulasie in die ANC se alewig vloeibare en komplekse kieskollege.

Ramaphosa spreek die Cosatu-kongres in 1987 toe. Foto: Paul Weinberg

Daarom het alle oë vinnig verskuif na die verkiesing van die nasionale uitvoerende komitee (NUK), wat die organisasie se hoogste besluitnemende liggaam tussen konferensies is en wat bestaan uit die topses saam met die 80 “bykomende” lede sowel as verteenwoordigers van die provinsies en ligas.

By onlangse konferensies het die wen-“kamp” gewoonlik posisies op die NUK oorheers, soos Zuma se kamp gemaak het in die vyf jaar sedert Mangaung. Hierdie keer was daar egter ’n fyn balans tussen die kampe: elkeen het drie van die topses-posisies verower.

Onder die oorblywende 80 was die magsewewig ewe delikaat: 33 lede van CR17 se kieslys is verkies, en 33 van NDZ se lys.

11 NUK-lede het op geen van die kieslyste verskyn nie, en slegs drie het op albei voorkeurlyste verskyn. Dit is ’n delikate ekwilibrium wat eksakte politieke bestuur gaan verg.

Ramaphosa mag dalk soveel tyd nodig hê om oor sy skouer te loer dat hy nie kans kry om juis ver vooruit te kyk nie.

Maar lojaliteite sal verander namate die NUK begin om 2019 se algemene verkiesing te antisipeer.

NUK-lede, waarvan vele poste beklee in nasionale of provinsiale regerings, kan die Ramaphosa-kamp as ’n meer aantreklike moontlikheid sien by die stembus; hul oorlewingsdrang sal stellig lojaliteite jeens Zuma en die Guptas troef.

Die groot vraag op die lippe van waarnemers en ontleders, wat nog te sê van gewone ANC-lede en die publiek, is of Zuma herroep sal word, en indien wel, wanneer?

Daar is onenigheid hieroor in die ANC.

Ramaphosa en Alec Erwin in 1985.

Toe ’n gerug op die laaste dag van die konferensie die ronde gedoen het dat ’n resolusie ter tafel gelê sal word by die konferensie om Zuma as president van die land te herroep, is ’n WhatsApp-boodskap blitsig aan afgevaardigdes in die NDZ-kamp gestuur wat hulle vra om gou-gou na die vergadering terug te keer om die resolusie te keer.

Dit is nooit ter tafel gelê nie.

As dit tot stemming gekom het en misluk het, sou dit Zuma se greep op die Uniegebou tot 2019 verstewig het.

Maar Zuma is nou veel swakker as wat hy was: 80% van sy mag het verdamp die oomblik toe sy termyn as ANC-president op Sondag 17 Desember geëindig het.

Hy sal egter klou aan sy oorblywende mag in die Uniegebou; ’n herroeping deur die NUK lyk onwaarskynlik tensy Ramaphosa vir Mabuza en
Magashule kan oortuig dat dit ook in húl belang is om daarmee voort te gaan.

Die vraag oor Zuma se vervolging is, minstens ten dele, ’n heel ander saak – ofskoon ’n besluit om Zuma se vervolging deur ’n nuwe, onafhanklike nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV) te dryf, die spel op sy kop kan keer, want dit kan die ANC dwing om Zuma te herroep, en ook met ander af te reken wat betrek word by korrupsie en staatskaping.

Ondanks veelvuldige uitdagings deurentyd het die ANC tog daarin geslaan om sy konferensieprogram te voltooi, al was dit so hittete: Die uitslag van die NUK-verkiesing is voorgelees aan ’n byna leë konferensiesaal om 03:00 op dag ses van die vergadering van vyf dae.

Dit is dalk aanmekaargehou deur die ragfynste draadjies, maar dit is nogtans aanmekaargehou, ’n prestasie wat ons nie durf vlak kyk nie.

’n Skeuring in die ANC lyk nou onwaarskynlik, selfs al is senior SAKP-figure soos Blade Nzimande uit die NUK gestoot. Albei faksies het genoeg rede om binne die tent te bly – vir eers.

Die kompromieë, opofferings en geveins wat voorlê, sal fyn dopgehou moet word in die aanloop tot die potensiële aardbewing van die 2019-verkiesing.

Tog is die blywende vraag vir die organisasie en vir die politiek in die toekoms of Nasrec 2017 ’n oomblik van verlossing was vir die ANC én vir Cyril Ramaphosa ná ’n treurige, vernederende dekade.

Een ding is egter duidelik: Jacob Zuma is die verlede en nie die toekoms nie – van sowel die ANC as die land.

  • Richard Calland is ’n medeprofessor in publiekreg aan die Universiteit van Kaapstad en ’n stigtersvennoot en politieke ontleder by die Paternoster Groep-konsultante.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.